Duvet, foto’s verbind verdagtes aan pensioenaris se moord

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdag gehoor dat ʼn vermoorde Duitse pensioenaris se duvet en foto’s wat op haar rekenaar gevind is, twee van haar vermeende moordenaars aan die misdaad verbind.

Konst. Stephanus Fouche het getuig dat hy Frans Madiba gevind het waar hy onder ʼn rooi en wit duvet, wat aan Ute Maria Wiing behoort het, gelê en slaap het. Madiba is ʼn week na die moord op Wiing in hegtenis geneem. Fouche sê hy het meer as 40 foto’s op Wiing se rekenaar gevind wat aan Madiba se medebeskuldigde Amos Mokgabudi behoort. Die rekenaar is in Madiba se besit gevind tydens sy arrestasie. Mokgabudi is later dieselfde dag naby die Silver Mist-veiligheidskompleks in Equestria, Pretoria waar Wiing vermoor is, in hegtenis geneem. Hy het as veiligheidswag by die kompleks gewerk. Madiba en Mokgabudi het ontken dat hulle Wiing op 27 Mei 2010 vermoor het. Die ander beskuldigde in die saak Bashimane Brian Mathebe is in hegtenis geneem nadat Wiing se motor in sy besit gevind is. Die mans sal na verwagting vandag gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.