Egpaar eis na gekaapte motor gestroop word

ʼn Egpaar het ʼn siviele eis teen die polisie ingestel nadat hulle motor, wat gekaap was en later teruggekry is, onder polisiebewaking gestroop is.

Die Saturday Star berig dat Renee en Conroy Gericke in Januarie vanjaar in Boksburg aan die Oos-Rand van hulle VW Polo gekaap is. Die motor is in Mei vanjaar in Tembisa gevind en na die Van Rhyn Deep-voertuigbeveiligingseenheid in Benoni geneem. Die egpaar het aan die Saturday Star gesê hulle motor is van sy kantspieëltjies, sentrale konsole en rekenaarboks gestroop terwyl dit geskut was. Die Gerickes wil nou hê die polisie moet vir die insleepdiens en die skade aan die motor betaal. “Ons het nie versekering nie en die motor staan nou net en stof opgaar by die huis maar ons betaal steeds daarvoor,” het Renee aan die koerant gesê. “Ons verloor tyd en geld om op en af te ry weens die polisie se nalatigheid.” Brig. Neville Malila, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die Gerickes ʼn siviele eis teen die polisie ingestel het. “Die bewering [dat die motor gestroop is] is onder ons aandag gebring nadat ʼn strafregtelike saak van diefstal aanhangig gemaak is,” het Malila aan die koerant gesê. Hy sê lt.genl. Mzwandile Petros, Gautengse polisiekommissaris, het ʼn interne ondersoek gelas. Niemand is nog in verband met die voorval geïdentifiseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

willy ·

Nie versekering nie! Ek dink na dese is dit wat hulle eerste moet doen. Party van hierdie skuts is niks anders as “chop shops” nie

Johan Viljoen ·

Deesdae se polisie is groter stropers as die skurke daar buite.

Wim Visser ·

Sterkte met die siviele eis. Vriende van ons is deur dieselfde pad en het ook die regsgeding gewen en wag nou al 2jaar vir die uitbetaling van R30 000.Banana Republic!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.