Bestuur van die FNB-stadion in Soweto in Johannesburg het oor die naweek gesê verskeie sleutelbewyse wat hierdie week ondersoek is, mag dalk binnekort tot inhegtenisnemings lei ná ‘n rooftog na die Justin Bieber-konsert by die stadion verlede naweek, berig EWN.
Die reuse rooftog het Maandag in die vroeë oggendure plaasgevind. Eyewitness News het berig hoe diewe deur ‘n muur gebreek het en met toulere sowat 3m ver in ‘n instapkluis afgesak het.
Die polisie het gesê die rowers het met ‘n onbekende bedrag geld gevlug.
“Teen Donderdagmiddag het ons die lys van verdagtes tot minder as 10 individue verminder,” het Jacques Grobbelaar, hoof uitvoerende beampte van Stadionbestuur in Suid-Afrika gesê, berig EWN verder. “Een-tot-een onderhoude sal gevoer word en stemstrestoetse gedoen word.” Volgens Grobbelaar volg hulle alle leidrade.
Lees ook:
Miljoene gesteel ná Bieber-konsert