Fratsongeluk eis sewejarige se nier

Andrew Beukes se linkernier word vandag verwyder. (Foto: verskaf)

Die lewe van die sewejarige Andrew Beukes het op 13 Junie onherroeplik verander toe hy by die skool hard op sy linkersy geval het.

Sy ouma, Linda van Rhyn, het aan Maroela Media gesê dat dié val vermoedelik ’n boelievoorval was.

Sy het nie verwag dat hul lewens tot stilstand geruk gaan word toe die kinders daardie oggend by hul skool in die Derdepoort-omgewing in Pretoria afgelaai is nie.

Andrew het voor die val in die sandput saam met ’n paar ander skoolmaats gespeel. Daar is na bewering gestamp en gestoot, hy het sy balans verloor en hard op die randsteen rondom die sandput geval.

Hy het later die middag vir sy ouer boetie vertel dat ’n seuntjie hom van agter gestamp het.

Van Rhyn vertel dat sy dieselfde dag nog ’n WhatsApp-gesprek met Andrew se onderwyseres gehad het om uit te vind wat presies gebeur het. Sy het toe bevestig dat die onderwyser aan diens die voorval sien gebeur het, en dat Andrew wel deur een van die ander kinders gestamp is.

“Toe die onderwyser by hom kom, was sy wind skoon uitgeval.”

Ná pouse, toe Andrew rustig raak, het hy voor sy klas ineengestort. Hy het ook verskriklik begin huil en gekla van pyn.

Van Rhyn het dié dag haar bes probeer om die pyn te hanteer aangesien hulle eers die volgende dag ’n afspraak by die dokter kon kry.

Van Rhyn en haar man, Maritz, was geskok om te sien dat Andrew daardie aand bloed in sy urine gehad het.

Andrew het die volgende dag verskeie toetse by die Life Eugène Marais-hospitaal in Pretoria ondergaan.

“Hulle kon nie mooi uitwerk wat aangaan nie, die nier was net een groot bloedmassa.”

In die kwessie van ’n paar dae het Andrew infeksie in sy linkernier ontwikkel. Hy het in daardie stadium ook begin kla van pyn aan sy regtersy, aangesien sy regternier, wat 90% nierfunksie toon, die funksies van albei niere verrig.

Daar is tydens ’n noodoperasie ’n stent in elk van Andrew se niere ingesit.

Ná talle toetse is beslis dat die beste oplossing is om die nier te laat verwyder. Tydens Andrew se aanvanklike 11 nagte in die hospitaal het hy rhinovirus opgedoen, wat hom net nog sieker gemaak het.

Alhoewel die fratsongeluk tragies vir die familie was, beskryf Van Rhyn dit tog as ’n bedekte seën. Die dokters wat Andrew behandel het aan die gesin verduidelik dat sy linkernier vóór die val reeds beskadig was en net 15% funksie gehad het.

Dít sou hulle nooit geweet het as die val nie plaasgevind het nie.

Andrew het tydens die voorval maar 25 kg geweeg en het intussen 7 kg gewig verloor.

“Hy eet nie goed nie. Daar is dae aaneen wat hy net glad nie eet nie,” sê Van Rhyn.

Andrew is een van drie kleinkinders wat deur die hof in Van Rhyn en haar man se pleegsorg geplaas is. Die gesin sukkel om kop bo water te hou, aangesien al drie kinders nog baie jonk is. Andrew het ’n ouer boetie van nege en ’n jonger sussie van twee.

Van Rhyn vertel dat die jongste vreeslik geheg is aan haar oupa, en dat dit vir haar moeilik is om vir lang tye sonder hom te wees.

Met dié dat Andrew weer in die hospitaal gaan wees, maak Van Rhyn en haar man beurte om tuis te wees om na die res van die gesin om te sien.

Hoewel hulle ’n mediese fonds het, is die hospitaalrekeninge reeds besig om op te hoop.

Solidariteit Helpende Hand se Bemagtig-’n-Kind-fonds het intussen betrokke geraak en staan die gesin by.

Andrew en sy sibbe is in die Ons Plek Derdepoort-naskoolsentrum, en Elize Bezuidenhout, die sentrumbestuurder verlang vreeslik na die sprankelende donkerkop-seuntjie wat nog nie weer terug kon kom nie.

“Hy het een keer kom kuier ná die val, maar het nie lank gespeel voordat hy gevra het om huis toe te gaan nie,” het Bezuidenhout aan Maroela Media vertel.

Die sentrum help die gesin ook met klaarverpakte aandetes aangesien Van Rhyn nie elke aand tuis is om kos te maak nie.

Die gesin is egter hoopvol dat Andrew binnekort weer sy ou, sprankelende self sal wees.

  • Indien jy graag betrokke wil raak en die gesin wil ondersteun, kan Bemagtig-’n-Kind-fonds se webwerf besoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

George ·

Boelie gedrag is gn fratsongeluk nie. Tyd om boelies vroeg vastevat voor hul nog ander seer maak.

Christina ·

Mag die ou seuntjie gou weer ‘n woelige knaap word. Sterkte vir elke lid van die gesin. Dankie Solidariteit vir julle bystand.

Cindy ·

Ek sou dink hulle kan die boelie se ouers dagvaar om te help betaal! Sterkte seun, jy is ‘n yster!

Lollapop ·

Daardie klein boelie word groot en veroorsaak groter probleme met sy boeliegedrag, ek sal weet ek werk saam met een

AmY ·

Dis tyd dat boelies ernstig vasgevat word.
Sterkte jongman. Jy is in ons gebede. Ek hoop jy word gou gesond. xx
Hoop jou ander nier is gesond genoeg om al die werk te doen.

Henry ·

Hoe meer kinders die geweld op tv en internet sien hoe erger gaan dit word. Jare gelede het die regering nie die geweldadige films aan sekere bevolkings groepe gewys nie. Daai tyd het ek nie mooi verstaan nie. Maar met al die geweld wat so toegeneem het besef ek dat hulle reg was met hulle optrede.

George ·

In jonger kinders word dit beslis deel van hul identiteit.

Simoné ·

Beslis so Henry, en dit sluit ook in al die geskel en gelaster teenoor alles en almal. Kinders praat so vreeslik lelik met mekaar. Ek kan net nie verstaan dat alles so normaal geword het nie, selfs op die radio stasies is dit nie meer vreemd nie!

Tanniepetoors ·

Dis baie hartseer. Hoop die Kleinman herstel volkome. Boeliegedrag moet vinnig en ernstig aangespreek en gestop word en die oorsaak vasgestel word. Daar is altyd ‘n rede vir boeliegedrag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.