Ses familielede is vandag in KwaZulu-Natal deur vyf gewapende mans uitgewis.
Volgens kol. Vincent Mdunge, ʼn polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 03:00 in Muden, naby Greytown, plaasgevind.
“ʼn Groep mans het die slagoffers se huis betree en op die familie met AK47-aanvalsgewere losgebrand. Ses broers, waaronder drie tieners, is in die skietery dood. Drie ander kinders is tydens die voorval beseer, maar het die aanval oorleef. ʼn Volwassene wat in ʼn rondawel langs die huis geslaap het, het ook die aanval oorleef,” het Mdunge gesê.
Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
ʼn Spesiale taakspan is deur die polisie saamgestel om die saak te ondersoek.