Grondwethof beslis teen Zimbabwe oor grondvergrype

Die grondwethof het Donderdag die appèlaansoek van die Zimbabwiese regering teen ’n vroeëre beslissing van die appèlhof in Bloemfontein ten gunste van wyle mnr. Mike Campbell en 77 ander Zimbabwiese boere oor Robert Mugabe se grondhervormingsplan, met koste van die hand gewys.

In die uitspraak wat deur hoofregter Mogoeng Mogoeng gelewer is, het die grondwethof die gemenereg verder ontwikkel om erkenning te verleen aan die registrasie en afdwinging van die beslissings van internasionale geregshowe oor menseregte. Die saak is op 28 Februarie in dié hof aangehoor. Die uitspraak was eenparig behalwe een klemverskil oor ’n regspunt in die redes vir die uitspraak deur Regter Zondo.

Die Appèlhof het verlede jaar ook die Zimbabwiese regering se appèl teen ’n vroeëre beslissing van die Pretoriase Hooggeregshof wat die registrasie en afdwinging van ’n bevinding van die SAOG-tribunaal ten gunste van Zimbabwiese boere bevestig het, met koste van die hand gewys.

Die regsaksie het destyds begin toe ’n boer van Zimbabwe, mnr. Mike Campbell in 2008 geslaag het met ’n aksie teen die Zimbabwiese regering voor die SAOG-tribunaal in Windhoek. Die tribunaal, wat destyds saamgestel is uit vyf regters van verskillende Suider-Afrikaanse state, het in November 2008 beslis dat die Zimbabwiese grondhervormingsproses onwettig en rassisties is en dat mnr. Campbell en 77 ander boere wat by sy aksie betrokke geraak het, met rus gelaat of vergoed moes word vir die ontneming van hulle eiendomsreg.

In die aanloop tot die verrigtinge voor die SAOG-tribunaal, is die bejaarde mnr. Mike Campbell, sy vrou, Angela en sy skoonseun Ben Freeth, wreed deur oorlogsveterane aangerand en geïntimideer om hulle aksie voor die tribunaal te staak. Die saak het egter voortgegaan en Campbell het geslaag, maar weens die erns van sy beserings tydens die wrede aanranding, het sy gesondheid vinnig agteruitgegaan en is hy uiteindelik in April 2011 oorlede.

AfriForum het die boere van Zimbabwe bygestaan met ’n regsproses wat in Februarie 2010 uitgeloop het op die registrasie van die tribunaal se bevinding in ’n Suid-Afrikaanse hof en die beslaglegging op ’n eiendom van die Zimbabwiese regering in Kenilworth Kaapstad, ter delging van ’n bestraffende kostebevel van die tribunaal.

Noudat AfriForum Zimbabwe se appèl suksesvol afgeweer het, sal daar vir die eerste keer in die internasionale regsgeskiedenis voortgegaan word met die geregtelike verkoping van ’n eiendom van ’n staat wat hom aan growwe menseregtevergrype skuldig maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.