Henning-moord: Verdagtes weer in hof

Chanelle Henning

Ambrose Monye en Andre Gouws sal na verwagting vandag in die hooggeregshof in Pretoria verskyn in verband met die moord op Chanelle Henning.

Monye is ʼn voormalige Nigeriese Olimpiese atleet en Gouws is ʼn beweerde vriend van Henning se eksman Nico. Gouws het glo opdrag aan Monye gegee dat Henning vermoor moet word. Die twee mans staan tereg op aanklagte van moord, sameswering tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Henning (26) is op 8 November 2011 doodgeskiet nadat sy haar seuntjie by sy kleuterskool in Faerie Glen, in die ooste van Pretoria, afgelaai het. Twee mans op ʼn motorfiets het verby Henning se motor gery en haar deur haar motor se ruit geskiet. Die Valke het reeds twee keer vanjaar klopjagte op Nico Henning se eiendomme uitgevoer. Daar is vroeër tydens die hofverrigtinge van die beskuldigdes in die saak, beweer dat Nico die baasbrein agter die huurmoord op sy vrou was.

Twee mense, Willem Pieterse en Gerhardus du Plessis, dien reeds 28 jaar tronkstraf uit in verband met die moord op Henning nadat hulle ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.