Dis een van die Kaap se bekendste toeriste-aantreklikhede, maar die herrie is tans los in Chapman’s Peak oor ʼn kantoorpark wat moontlik daar gebou gaan word, het EWN Woensdag berig.
Entilini Concessions, die groep wat die tolpad bedryf, is glo agter die stuur van die R53 miljoen se kantoorpark wat in Chapman’s Peak opgerig gaan word. Terri Weiner, wat namens ʼn groep ontstoke Houtbaai-inwoners met EWN gepraat het, het gesê die uitkykpunte en piekniekplekke gaan glo verwyder word. Volgens Weiner gaan konstruksie glo binne die volgende paar weke begin. Meer as 2 000 m² gaan glo vir die privaatmaatskappy voorsien word om die kantoorpark te bou. Robin Carlisle, Wes-Kaapse LUR vir vervoer, het die kantoorpark as “nederig en funksioneel” beskryf. Entilini wou nie kommentaar lewer nie en het gesê dat die provinsiale departement van vervoer as hul skakelbeampte optree. Tafelberg Nasionale Park wou ook nie kommentaar lewer nie, maar het net ʼn verslag uitgereik waarin gemeld word dat die saak na Sanpark se regsafdeling verwys is. Inwoners van Houtbaai beplan ʼn optog op 22 Januarie om hul teenstand vir die beplande ontwikkeling te wys.