Begrotingsrede: ‘Steeds ʼn Zuma-begroting’

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Dawie Roodt sê alhoewel hy alles in vanjaar se begrotingsrede verwag het, was dit steeds ‘n teleurstelling. Foto: Reint Dykema/AfriSake.

Die begrotingsrede van 2018 plaas die Suid-Afrikaanse ekonomie ongelukkig nog steeds nie op die regte spoor nie. Die lang pad na herstel loop deur die vrye mark en nie deur hoër belasting nie.

Hierdie mening van Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, is Woensdagaand in ʼn ontledingsgesprek van vanjaar se begrotingsrede deur die kenners op die paneel beaam. Die geleentheid is deur die Efficient-groep by die WNNR in die ooste van Pretoria aangebied.

Malusi Gigaba, die minister van finansies, het in sy eerste begrotingsrede Woensdagmiddag aangekondig dat Suid-Afrikaners vir die eerste keer sedert 1993 meer belasting op toegevoegde waarde (BTW) gaan betaal. BTW sal van 1 April 2018 na 15% verhoog word en terwyl persoonlike inkomstebelasting nie verhoog is nie, is daar nie voorsiening vir blokkruiping gemaak nie.

Suid-Afrikaners het ook hulle kommer oor die uitwerking van duurder brandstof uitgespreek nadat Gigaba gesê het vanjaar se brandstofheffing sal 52c beloop.

Trudie Rohlandt, ʼn belastingkenner van PKF, het gesê vanuit ʼn belastingoogpunt word mense vanjaar beslis veel harder geslaan. “BTW is met 1% opgeskuif, maar verder is die belastingskale op persoonlike inkomste ook nie behoorlik vir die jongste inflasiekoers aangepas nie.”

Volgens Le Roux is daar eintlik ʼn harmonieuse samewerking in die ekonomie – iets wat die ANC met die party se ideologiese uitgangspunt weier om te erken. “Met hierdie begroting word daar ʼn wig tussen arm en ryk mense in die samelewing gedryf, wat die indruk wek dat ryk mense uit hulle eie niks goeds vir die land en arm mense doen nie en geen welwillendheid het nie. Daarom moet die staat meer belasting hef.

“Indien jy jou op die topbelastingkerf bevind, sal ek verbaas wees as jy meer as 50c van elke rand wat jy verdien uiteindelik self kan bestee.”

Le Roux het verder gesê Gigaba kon ʼn werklike verbetering in die ekonomie aanbring deur in te kort wat staatsbesteding betref. “Dit was ongelukkig die een ding wat ons nie in hierdie begroting gesien het nie. Hierdie begroting gaan nie sakeondernemings help nie en dus ook nie die armes nie.”

Hy reken die begrotingsrede verskil wesenlik nie veel van Gigaba se mediumtermynbegroting wat hy ses maande gelede gelewer het nie, afgesien van die meer belasting en geriefliker aannames soos dat die ekonomiese groeisyfer vanjaar 1,5% sal wees.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, het gesê sy enkele grootste probleem met die begroting is dat daar eenvoudig steeds te veel geld uitgegee word.

“Te veel mense is nog steeds van die staat afhanklik. Dit is natuurlik ʼn maklike manier om stemme te werf en daarom sien ons geen vermindering aan die hoeveelheid wat die staat op mense gaan uitgee nie. In werklikheid sien ons daar word begroot dat die algehele staatsbesteding gaan toeneem.

“Van die helderder oomblikke in die begrotingsrede was sekerlik die klem wat gelê is op beter bestuur, doeltreffendheid en die optrede teen korrupsie – hierin kan ek die nuwe president se hand sien – maar die werklike syfers het beswaarlik self verander.”

Roodt reken egter ʼn mens kan ʼn mate van simpatie hiermee hê omdat Cyril Ramaphosa sedert sy oorname as president van die land min tyd gehad het om die syfers van die begroting te verander.

“Dit is in groot mate maar steeds ʼn Zuma-begroting en ʼn Zuma-minister wat hierdie begroting aangebied het. Hoewel Gigaba soos gewoonlik uitgevat was en duidelik meer selfvertroue getoon het, was dit vir my duidelik dat hy as minister van finansies heeltemal uit sy diepte is. Hy verstaan nie die omvang, implikasies en uitwerking wat fiskale beleid op die land kan hê nie. Ek kan nie insien hoe hy veel langer as minister van hierdie departement sal aanbly nie.”

Roodt het verder gesê die verhoging in BTW was verwag: “Daar is ongelukkig nie so iets soos ʼn goeie belasting nie, maar van al die sondes is dit sekerlik een van die kleiner sondes. So, wat ek sou verkies het, is om ʼn selfs hoër verhoging in BTW te sien en terselfdertyd dan ʼn verlaging in maatskappybelasting met ʼn hele paar persentasiepunte.”

Op ʼn vraag of hy dink die begroting het genoeg gedoen om verdere afgraderings van kredietgraderingsagentskappe te verhoed, het Roodt gesê dit is moontlik uitgestel, maar nie heeltemal afgeweer nie. “Vanuit ʼn graderingsagentskap se perspektief sal die verhoging in belasting positief wees, want dit beteken ʼn afname in die staat se lenings en skuldvlakke. Die skuldvlakke sal natuurlik steeds toeneem maar teen ʼn fraksie laer tempo as tevore.

“Nog ʼn positiewe aspek uit die agentskappe se oogpunt sal die verhoging in BTW wees – die verhoging demp die vraag in die ekonomie. Ek vermoed die verhoging gaan die inflasiekoers met 50 basispunte laat styg, maar die dempende effek sal goed wees vir die wisselkoers en kapitaalmarkte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Hannelie ·

Is Gigaba nie een van Zuma se volgelinge nie? So ons sit net waar ons was….of nie…..of betaal mos nou belasting om mense wat verniet wil leer, opgelei te kry, net om na 3 maande te besluit hulle wil nie leer nie. Zuma het tog sy laaste sê gehad. Eish.

Koos ·

Die euforie rondom die nuwe President wil nie gaan rus nie. Vergeet nooit dat daar niks snaaks gebeur het nie. Die totale kabinet soos saamgestel deur Mnr Zuma is steeds daar. Daarmee ook die nuwe President! Kyk na al die verskillende rade, Eskom, SAUK, SAL,noem maar op, selfs die Openbare Beskermheer, die verskillende Direkteur Generaals van staatsdepartemente en daarmee ook alle rade wat van belang is.
Wat het dan gebeur? Mnr Zuma is afgedank, die nuwe President gaan eersdaags die kabinet skommel en daarmee nuwe vergrypers aanwys. Verkwisting gaan begin deur wonings op te knap, dalk nuwe motors asook gordyne is hoog op die lys. So kan ons aangaan en vermorsing van staatsgeld word net groter.
Hoekom dan so? Kyk om jou rond, wat het in die voormalige tuislande gebeur. Geld is gemors, skole is afgebrand.
Hierdie mense is nou aan bewind. Niks het verander.Dit sal so voortgaan en daarmee moet ons vrede maak en belasting betaal.
Ons het daarvoor gevra en dit gekry .Tussen die chaos moet ons deur worstel en glo dat daar uitkoms is.Hard werk, spaar en nooit moed verloor nie. Daar kom uitkoms met geloof in Vryheid vir die van ons wat dit wil Kry.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.