ʼn 27-jarige man is in ʼn stabiele toestand in ʼn Johannesburgse hospitaal nadat hy Donderdag buite sy huis geskiet is.
Lt.kol. Katlego Mogale, ʼn polisiewoordvoerder van Gauteng, het Vrydag gesê die voorval het omstreeks 18:30 in Reigerpark, oos van Johannesburg, plaasgevind.
“Die aanvaller het vanuit ʼn bewegende VW Polo-voertuig op die slagoffer losgebrand. Die slagoffer is in sy nek gewond,” het Mogale gesê.
Volgens Mogale is die motief vir die aanval nog nie bekend nie en ondersoek die polisie die voorval. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.