Kallie Knoetze ry per ongeluk kleinkind raak

Kallie Knoetze Foto: Kevin Sutherland, TimesLive

Kallie Knoetze se kleinseun is in ʼn stabiele toestand nadat hy Vrydag per ongeluk raakgery is.

“Nuan het agter in sy oupa se bakkie vasgehardloop toe Kallie agteruit gery het,” het Elize Knoetze, Kallie se vrou, gesê. Die vierjarige Nuan se bekken is gebreek. “Hy is tans nog in die hoësorgeenheid en ons hoop dat hy vandag [Maandag] na die kindersaal oorgeplaas kan word.”

Nuan en sy tweejarige boetie, Liam, het by hul oupa op sy plot naby Hartbeespoort gekuier. Nuan en Liam is Kallie se seun Nickol en sy vrou, Mari, se twee seuntjies.

Volgens Elize lê daar nog ʼn lang herstelproses vir Nuan voor. “Die dokters vermoed dit gaan sowat ses weke lank duur, maar op die oomblik is dit vir hulle die belangrikste dat hy so stil as moontlik gehou moet word,” het sy gesê. Nuan is in die Eugene Marais-hospitaal in Pretoria. “Die dokters het nog nie opereer nie, en hulle hoop dat die bekken weer vinnig sal toegroei, anders sal hulle op hom moet opereer.” Om Nuan stil te hou, gebruik die dokters ʼn beenstut aan sy regterbeen.

Volgens Elize is daar ook ʼn lang herstelproses vir Kallie. “Hy besef nou dat hy homself nie kan verwyt nie, maar dit is maar baie moeilik. Dit sal dalk eers beter gaan met Kallie as Nuan weer op die been is.

Nuan Knoetze in die hospitaal Foto: Elize Knoetze, Facebook

“Baie, baie dankie vir elke gebed, SMS, oproep, en saam voel, ons waardeer julle,” het Elize bygevoeg.

Kallie Knoetze (59) is ʼn voormalige swaargewigbokser. In 1979 was hy nommer drie op die wêreldranglys van swaargewigboksers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.