Die kis waarin Donicky Mokoena se man, Caiphus, verlede naweek begrawe sou word, het by die hek van hul huis in Mshandza naby Hazyview in Mpumalanga gestaan, berig SowetanLIVE. Mokoena beweer haar skoonma en swaers het glo die lykswa op pad na die begraafplaas gekaap en Saterdag die kis gesteel. Haar seun, Senzo (21), is glo ook in die voorval aangerand. “Ek weet nie hoekom hulle dit doen nie. Hulle maak my en my kinders seer. Wat ek ookal aan my skoonma gedoen het, ek smeek om haar vergifnis. Nou het hulle my man se kis by my hek neergesit. Wat moet ek daarmee doen?” het Mokoene gevra.
Caiphus het op 8 Julie verongeluk.
Mokoena se prokureur, Vusi Mboweni, sê sy kliënt het die saak om haar man te begrawe in die tradisionele en landdroshowe gewen toe haar skoonma en ander lede van sy familie hulself die reg wou toeëien om hom te begrawe. “Die hoër hof sou die saak verlede Vrydag finaliseer, maar dit is na 10 Augustus uitgestel. Die oorledene se familie beweer dat my kliënt en haar man in 2010 geskei het,” het Mboweni bygevoeg.