Konstabels in sop oor uitleen van polisievoertuig

(Argieffoto: Twitter)

Twee polisiekonstabels van die Wes-Kaap is in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn polisiemotor aan ʼn siviele persoon uitgeleen het.

Die twee konstabels, onderskeidelik 25 en 31 jaar oud, is by die Nyanga-polisiekantoor gestasioneer.

Albei is Dinsdag in hegtenis geneem en het Woensdag in die landdroshof in Simonstad verskyn op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (Wet 68 van 1995).

ʼn Interne dissiplinêre ondersoek is ook na die voorval ingestel.

Volgens ʼn polisieverklaring is die voorval in Ocean View aangemeld. ʼn Video van die voorval is glo ook vroeër vanjaar wyd op sosiale media gedeel.

Ondersoek is ook ingestel na onwettige optrede waarby ʼn taxibaas betrek word.

In die video kan gesien word hoe die twee konstabels onregmatige toegang tot die polisievoertuig verleen.

Lt.genl. Thembisile Patekile, Wes-Kaapse polisiekommissaris, het die voorval veroordeel. Hy het ook onderneem om ontslae te raak van polisielede wat die wet sowel as departementele voorskrifte oortree.

In ʼn onverwante voorval sal ʼn verkeersbeampte van Gauteng, wat na bewering R100 omkoopgeld ontvang het, volgende jaar in die hof verskyn.

Die beampte is Woensdag gedagvaar om in Januarie in die landdroshof op Westonaria te verskyn op aanklagte wat verband hou met korrupsie.

Die 31-jarige Wes-Randse verkeersbeampte het op 6 Mei glo die omkoopgeld aan ʼn agent van die Valke betaal.

Volgens ao. Wendy Nkabi, polisiewoordvoerder, was die Valke besig met ʼn geheime operasie om korrupte verkeersbeamptes vas te trek.

Die verkeersbeampte het na bewering een van die polisie-agente op die R28-afrit op die N12-snelweg afgetrek. Hy het glo ʼn bedrag van R100 geëis omdat die agent se motor se voorste nommerplaat ontbreek het.

Die agent het die Valke se ondersoekspan in kennis gestel en die beampte gaan uitwys.

Nkabi sê die Valke het eers hul ondersoek afgehandel en daarom is daar eers nou ʼn dagvaarding uitgereik vir die beampte om in die hof te verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.