Video: Kusdorp-intriges deur Bettie Kemp tref klankgolwe binnekort

Bettie Kemp, skrywer en vervaardiger van ‘Strandloper’. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Daar word dikwels gesê ʼn mens moet skryf oor dit wat jy ken.

As iemand wat haar skoolvakansies in Stilbaai in die Wes-Kaap deurgebring het én boonop nou ʼn permanente inwoner is, ken die radio- en TV-aanbieder Bettie Kemp die intriges en verhale van kusdorpies al te goed.

Daarom is dit die tema van Maroela Media se jongste radiovervolgverhaal getiteld Strandloper, dié slag uit Bettie se eie pen.

Bettie is sedert 2012 betrokke by die skep van radiodramas saam met Maroela Media en het destyds by Susan Lombaard, die uitvoerende hoof van Maroela Media, aangeklop om die moontlikheid van ʼn radiodrama te bespreek.

Die bal vir die eerste radiodrama, Vendetta, is vinnig aan die rol gesit. Daarna het daar jaarliks ʼn radiodrama vanuit Maroela Media se ateljee verskyn.

Strandloper speel af teen die agtergrond van Stilbaai se kultuurhistoriese feite en regte mense wat sy as kind van dié dorp onthou.

Bettie saam met die ‘Strandloper’-rolverdeling en produksiespan. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Luisteraars kan onder meer uitsien na stories oor olietenkskepe wat bots, ʼn grot wat op ʼn familieplaas ontdek word, ʼn tragiese ongeluk wat die lewe van ʼn skoolhoof eis en tradisies soos dié van Stilbaai, oftewel Bloubaai soos die dorp in dié vervolgverhaal heet, se “visvywers”.

“Ek was bang daar kom te veel motors oor Stilbaai se brug nadat die storie uitgesaai is,” sê Bettie skertsend oor die besluit om die dorp se naam in die verhaal te verander.

“My hart kom uit die Kaap, ek woon in die Kaap en het die beste herinneringe van Stilbaai uit my kinderdae. Dié klein dorpie is so ryk aan sy eie kultuur en geskiedenis, maar niemand vertel dit meer oor nie. Toe dink ek, maar hoekom maak ons nie ʼn drama daarvan nie?” verduidelik sy.

“Baie van die ouer oorvertellers sterf nou uit, so hierdie is soos ʼn klein historiese dokument wat ons nou opteken.”

Luisteraars kan selfs op die internet verder oor baie gebeure uit die verhaal gaan oplees, maar Bettie benadruk dat dié storie “egter ʼn storie bly”.

Bettie se naam is op die muur van Maroela Media se ateljee verewig. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die verhale van fiktiewe karakters soos Tannie Ouvrou, ʼn losieshuiseienaar wat haar verlede probeer wegwerk, Oom Fred wat baklei teen ʼn hotelbaas wat tradisies vertrap, en die jong lewensredder Mauritz (oftewel Strandloper) se pa wat onder raaiselagtige omstandighede gesterf het, beloof om luisteraars te boei.

Bekendes soos Luan Jacobs, Anton Dekker, Stefan Vermaak, RSG se Ria Smit, aanbieder Su-an Müller-Marais, Johny Klein en Izel Bezuidenhout gee lewe aan Bloubaai se karakters.

Strandloper span oor 120 episodes en is opgeneem in Maroela Media se radiodrama-ateljee, met Marius Vermaak wat in die redigeringstoel sit.

“Ek maak altyd seker dat ons ʼn kerngroep van ervare spelers het by wie die nuwelinge kan leer en later die aflosstokkie kan neem. Hier is ʼn wonderlike spangees; ons word soos ʼn familie,” sê Bettie.

“Luisteraars kan uitsien daarna om ʼn bietjie te ontsnap, maar ook meer te leer oor die geskiedenis en geraamtes wat in ʼn kusdorpie kan skuil.”

  • Strandloper is vanaf 13 Mei op Maroela Media en verskeie gemeenskapsradiostasies te hoor.
  • Alhoewel Strandloper gebaseer is op die skrywer se herinneringe van Stilbaai, is die karakters denkbeeldig, en enige ooreenkomste met werklike persone is bloot toevallig.
  • Kyk hier na Maroela Media se onderhoud met Bettie Kemp in die radiodrama-ateljee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

So trek meer en meer bekendes na die WK. Wonder waarom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.