Lewenslank ná ‘barbaarse en wrede’ moord

Oupa Albert Sebeko (29) is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Gerhardus Groenewald (48).

Sebeko het Groenewald in Februarie verlede jaar in sy huis in Magalieskruin, noord van Pretoria, aangeval en 51 keer met ʼn mes gesteek. Sebeko is Vrydag in die hoogeregshof in Pretoria lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord sowel as 15 jaar vir roof. Sebeko het erken dat hy Groenewald met die mes gesteek het maar gesê dat hy nie ʼn moordenaar is nie en dat hy nie homself was op die dag van die moord nie. Regter Bert Bam het die moord as ‘barbaars en wreed’ beskryf en sê daar was basies geen deel van Groenewald se liggaam wat ongedeerd was nie. Hy sê Sebeko se bedoeling was om Groenewald te vermoor en sy liggaam te skend en dat hy dit reggekry het. Bam sê Groenewald het Sebeko glo vertrou aangesien hy voorheen vir hom gewerk het. Daar was geen aanduiding dat Groenewald homself probeer verdedig het nie en die aanval was dus onverwags. Bam sê Sebeko het geen berou vir sy dade getoon nie en selfs by ander mense gespog oor die goedere wat hy uit Groenewald se huis gesteel het. Hy sê die moord op Groenewald, ʼn pa van vier, het ʼn traumatiese impak op sy gesin gehad. Groenewald se vrou, Elize, en kinders was in trane nadat Sebeko gevonnis is. Elize sê haar man was ʼn liefdevolle man wat altyd grappe gemaak het en nooit iemand sou seermaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.