Die stad Londen in Engeland beplan glo om die Cape Argus Pick n Pay-fietsrywedren as ʼn bloudruk te gebruik vir hul eie fietsrywedren, het die Cape Argus Maandag berig.
Afgevaardigdes het glo die afgelope twee Argus-fietsrywedrenne bygewoon om te sien hoe Kaapstad die bykans 40 000 fietsryers oor 110km van openbare paaie hanteer.
Dave Bellairs, direkteur van die Cycle Tour Trust, het aan die koerant gesê die organiseerders van die “Prudential Ride London”, insluitend Hugh Brashire, hoof van die organisasiekomitee vir die Londen-marathon, het Suid-Afrika besoek. Die wedren in Londen sal glo in die nuwe Queen Elizabeth Olimpiese Park begin en dan ʼn 160km-roete op geslote paaie deur Surrey se platteland volg.
Die Cape Argus-fietsrywedren is die wêreld se grootste tyd gemete fietsrywedren.
-SAPA