Ten minste R2.2 miljoen se agterstallige salarisse moet aan die personeel en musikante van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes (JPO) oorbetaal word.
Die orkes het Donderdagaand sy laaste uitvoering van die seisoen in Parktown, Johannesburg, gehou, berig The Star. Die personeel het nie hul salarisse vir September en Oktober ontvang nie, en slegs 75% van die salarisse vir Augustus is betaal. “Ons is van mekaar afhanklik vir oorlewing. Ons het soms nie petrol om repetisies by te woon nie, maar ons maak ʼn plan,” het een van die musikante, wat anoniem wou bly, gesê.
Luidens berigte vroeër dié jaar het die JPO met besigheidreddingspogings begin met ʼn kundige wat die maatskappy met herfinansiering en ʼn herstruktureringsplan bystaan.
Wat nie in die berig gemeld word nie, is dat die ekstra spelers, dié wat nié salarisse kry nie, maar per konsert betaal word, die ganse jaar nie ‘n sent gekry het nie. Die bedrag wat per speler verskuldig is, wissel van sowat R85000 tot sowat R120000 vir die jaar. Al wat hulle die jaar van Miester Bokaba gekry het, is vals beloftes, terwyl Miester in die duurste karre denkbaar ry, sy kinders in die duurste skool het, duur partytjies gooi omdat hy ‘n salaris kry wat per maand meer is as wat die musici per jaar verdien. Behalwe dié wat hy betaal het om hul monde te hou terwyl hy die koffers plunder.