Meer as $1 miljoen (R9 miljoen) se juwele is uit ‘n hotel in Cannes, Frankryk, gesteel.
Die juwele sou aan sterre, wat aan dié bekende rolprentfees op die Franse Riviera deelneem, geleen word. Die juwele is glo vroeg Vrydagoggend uit ‘n hotelkamer van ‘n werknemer van die eksklusiese Switserse juweliers, Chopard, gesteel, berig BBC.
Volgens die polisie in Frankryk het die diewe die kluis uit ‘n muur in die kamer by die Novotel-hotel geruk. Beamptes van die rolprentfees sê die Palme d’Or is nie een van die stukke wat gesteel is nie.
Die geleentheid se top toekenning is ook deur Chopard, ‘n amptelike borg van die fees, vervaardig.
Bekendes wat dié jaar van Chopard se juwele gebruik sou maak vir hul rooitapytverskyning sluit Julianne Moore, Lana Del Rey en Cindy Crawford in.
Die diefstal het glo ‘n paar uur ná die vertoning van die rolprent, The Bling Ring, plaasgevind. Dié rolprent, deur regisseur Sofia Coppola, handel oor tieners wat uitvind wanneer bekendes rooitapytgeleenthede gaan bywoon om sodoende by hul huise in te breek en hul ontwerpersklere, -handsakke en -skoene te steel.
2 Kommentare