Miljoene rol in met Irma Stern-kunsveiling

“Psychic: An Old Malay Woman.” (Foto: Strauss & Co)

Kaapstad, wat vyf dekades lank die tuisstad van Irma Stern was, het dié bekroonde kunstenaar vir ’n kort wyle weer welkom geheet toe ’n reuseveiling van haar kunswerke Woensdag 8 Junie in die Moederstad plaasgevind het.

Dié spoggeleentheid het by die Welgemeend Manor House in Kaapstad plaasgevind en het om en by R36 miljoen laat inrol.

Dit was die eerste veiling waar daar slegs van Stern se kunswerke opgeveil is en meer as 750 mense het aanlyn ingeskakel om aan die veiling deel te neem.

Die topverkoper by dié veiling was ’n 1941-portret van ’n Kaapse, heldersiende Moslem-vrou met ’n pienk kopdoek vanuit Stern se goue periode, wat vir R7,5 miljoen opgeveil is.

Ses uit die top-10 kunswerke is vir meer as R1 miljoen verkoop. Die massaveiling het skilderye, sketse, boeke en ’n seldsame stuk uit keramiek ingesluit. Die meeste van dié indrukwekkende kunswerke beeld vroue uit en spruit uit Stern se dinamiese toevoeging tot die kunswêreld van 1920 tot 1965.

Dié geleentheid kon nie in ’n meer gepaste jaar plaasvind nie, aangesien dit vanjaar die 100ste herdenking van Stern se opspraakwekkende kunsdebuut is.

Dié veiling is moontlik gemaak omdat die Irma Stern Trust-versameling 124 kunswerke vir die veiling beskikbaar gestel het. Die trust is in 1966 ná afloop van die kunstenaar se afsterwe geskep in ’n poging om kuns in en buite Suid-Afrika te bemark.

Frank Kilbourn, die voorsitter van Strauss & Co, die organisasie wat die veiling aangebied het, is opgewonde oor dít wat die geleentheid opgelewer het.

“Die uitkoms van hierdie verkoping is ’n viering van die groot kunstenaar wat Irma Stern is en ’n positiewe aangeleentheid vir die Afrika-kunsmark. Die diversiteit van werke wat die Irma Stern Trust-versameling uitgereik het, het die veiling aantreklik gemaak vir die wyds moontlike verskeidenheid van kopers.”

Luidens ’n verklaring is Kilbourn verheug dat ’n derde van die kunswerke nuwe eienaars gevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anonymouse ·

My gunsteling Suid-Afrikaanse kunstenaar. Ek is so hard op soek na prints van haar werk, want ek sal nooit in hierdie en die volgende paar leeftye, haar werke kan bekostig nie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.