Nuuskommentaar: Deur die ander se bril – maar skakel die lig eers aan

As die onluste weerskante van die Wyngordyn ‘n bewuswording in die land geskep het, is dit dat Suid-Afrikaners nodig het om gebeure en situasies ook deur die ander se bril te kan beoordeel.

Nie een kloof van persepsies nie, maar verskeie reuse canyons in die persepsies tussen verskillende Suid-Afrikaners is soos selde blootgelê – tussen arm en ryk, met die middelklas wat ‘n benouende bod vir ‘n persepsie van sy eie insit, tussen wit en swart, tussen wit en bruin, tussen bruin en swart.

Werkgewers en werknemers sien situasies heel verskillend, terwyl die werkloses se getalle as gevolg van hierdie gaping in persepsies meer kan word.

En die mens tree volgens sy persepsie van die werklikheid, eerder as die werklikheid op. Elkeen tas in die donker rond en rig skade aan. Dit is moeilik om persepsies reg te stel deur bloot die regte inligting te versprei, maar dit is al ‘n begin – werp dus lig op die sake waarop die soeklig moet val.

Van die belangrikste sake waar persepsies landswye spanning opjaag, is die volgende:

– Pres. Jacob Zuma: Daar is min of meer konsensus dat Zuma die einde van die jaar die pyp vir ‘n tweede termyn gaan rook. ‘n Duidelik georkestreerde veldtog onder die vaandel van “stabiliteit deur kontinuïteit” word klakkeloos deur streek na streek  na streek geopper om Zuma se herverkiesing op koers te plaas. Hierdie veldtogdrywers het hul reputasies in ‘n hoek vasgeverf, en elke nuwe onthulling of wanklankie (dikwels van Zuma self) raak hul aansien ook. Die lys van toesmeerpogings raak al hoe langer – die weiering, minstens nou, van ‘n ‘n debat en stemming oor ‘n mosie van wantroue teen Zuma, ‘n bontpratery oor Nkandla en die verband daarop, dr. Blade Nzimande se pleidooi vir wetgewing om die belediging van die president te verbied en nuwe pogings om die snoerwetgewing deurgevoer te kry. ‘n Hoë dreigement is selfs in die hoed gegooi dat die kritiek op Zuma die ooreenkoms waarop die grondwet gebou is in die gedrang kan bring – ‘n kwessie wat reeds rou is weens onder meer die proses waardeur plekname verander word. Aan die ander kant die   persepsie dat die land nie Zuma as president kan bekostig nie, en goed saamgevat deur Peter Bruce wat skryf dat Zuma oor agtien maande nie meer verkiesingsmateriaal sal wees nie. Henry Jeffreys pen iets soortgelyks in Die Burger neer onder die titel, Só verloor Zuma alle simpatie.

– Die Bolandse stakingsgeweld:  Die rubriek, Deur die bril van ‘n plaasarbeider, deur Johann Maarman, hoofredaksielid van Die Burger, is nie die enigste wat uit bruin geledere gekom het wat heel ander persepsies verbeeld as wat ‘n mens uit die standpunte van Agri Wes-Kaap kry nie. Die ANC weet dié verskille in persepsie skep vir premier Helen Zille en die DA ‘n taai toffie, en gaan voluit om dit uit te buit. Om die Wes-Kaap te behou, moet die bruin stem vir die DA behou word. Daar is egter ook ‘n stewige band tussen die DA en die Wes-Kaapse boere, via die Wes-Kaapse minister van landbou, Gerrit van Rensburg. Dié band het onder meer duidelik geblyk uit die kwaai woorde waarmee Zille onder ‘n, weliswaar bedenklike verslag van Human Rights Watch oor Wes-Kaapse plaastoestande ingeseil het. Die probleem is dat persepsies oor plaastoestande wyd en emosioneel onder die bruin stedelike bevolking loop. Dit is op walglike wyse en in gekruide taal deur Marius Fransman, Wes-Kaapse leier van die ANC en adjunk-minister van Internasionale Betrekkinge ingespan. Hy het heel moontlik die vlamme aangeblaas gekry, maar sy eie reputasie lê aan skerwe. Rhoda Kadalie, die rissiepit-rubriekskrywer, het in haar jongste rubriek  Werkers skeel Fransman min behoorlik met die kweperlat ingeklim: “Fransman werk al jare lank agter die skerms om arm mense tot protes aan te hits, sodat hy as bruin mens tot ’n selfs hoër amp binne ’n swart nasionalistiese party bevorder kan word. Dat mense hul lewe in gevaar stel deur onwettig te staak, gaan hom nie aan nie. Hy moet, ongeag die gevolge, die Wes-Kaap aan die ANC lewer… Toe Robin Carlisle van die DA as minister by Fransman oorgeneem het, het hy ’n spoor van onreëlmatige uitgawes gevind, en verlede jaar het hy in die wetgewer gekla oor die “plundering” op ’n “reuse-skaal” wat hy blootgelê het (Politicsweb, Februarie 2011). Die tesourie het konsultantverkryging van meer as R500 miljoen ondersoek, die meeste daarvan hoogs onreëlmatig.”  Ook Jeffreys beskuldig Fransman dat hy (en landbouminister Tina Joemat-Pettersson) olie op die vuur gooi.

– Hoewel pres. Zuma reeds meer as een keer gesê het dit is onwaar dat Suid-Afrika die hoogste inkomstegaping ter wêreld het, en dat dié gaping deur niemand gemeet word nie, is dit wel so dat die Wêreldbank dit meet én dat Suid-Afrika die grootste gaping het. Volgens die vryemarkbeginsels is dit nie ongesond nie, solank die kragte wat hierdeur in die mark werk, daartoe lei dat die armes se posisie ook verbeter. Vir miljoene Suid-Afrikaners wat niks verdien nie, beteken selfs ‘n 1 000 persent verhoging niks, hulle verdien steeds niks, en die gaping word net groter. Die ekonomie se onvermoë om die onderpunt te diens, is waarskynlik nie weens die toepassing van beproefde ekonomiese beginsels nie, maar weens die manipulering daarvan – ‘n berg peperduur en onproduktiewe burokrasie, kaderontplooiing, blatante rasbegunstiging en SEB  wat die gans wat die goue eiers lê slag. Hoewel die oorsake grootliks in die toepassing van swak ekonomiese beleid gevind kan word, is die impak sosiologies en begin die gaping op die grafiek van relatiewe deprivasie in die rooi loop.

– Die moermeter: Nog ‘n aspek wat in die rooi loop is die moermeter. Politieke uitsprake en duidelike pogings tot toesmeerdery, soos die Nasionale Vervolgingsgesag se pogings om die Sunday Times se verspreiding te stuit oor gelekte dokumentasie die gestaakte vervolging van Zuma, dra by tot die neerdrukkende gevoel dat die burgers net mag eet wat die staat wil hê hulle mag weet. Maar daar is reeds genoeg wanklanke losgelaat wat by baie die persepsie skep van ‘n staat met voete van klei, en ‘n kop van ‘n vis wat reeds begin vrot het. Genoeg mense weet nie meer hoe om kos op die tafel te sit nie omdat hulle die slagoffers van transformasie geword het – maar steeds om elke hoek en draai moet hoor hoe transformasie as soet musiek opgedis word.

Dit is maklik om agter ‘n lessenaar te sit en te sê Suid-Afrikaners moet leer om sake ook deur die bril van ‘n ander te beskou. Hoe om dit te laat gebeur is egter ‘n heel ander saak, en Suid-Afrika is ook nie heeltemal uniek nie. Die pas-afgelope Amerikaanse presidentsverkiesing het getoon hoe twee mense met soortgelyke omstandighede langs mekaar kan woon, en die werklikheid daarbuite heel anders ervaar. Elk het toegang tot ‘n groot verskeidenheid media, waaronder TV-kanale, maar elk skep sy eie perssepsiewêreld deur dit wat hy lees, na luister en na kyk, versigtig te kies.

En ja, daar is ‘n wêreld buite 7de Laan, en die selektiewe nuus oor moorde, doodslag en gru-ongelukke.

En daardie ander wêreld maak saak. Maar ons skakel so graag die liggie wat dit belig af.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae