Nuuskommentaar: Die Madiba-ikoon

Elke land het ‘n ikoon nodig – iemand wat groter as lewensgetrou uitgestyg het, wat oor tyd skoongestroop is van herinneringe wat die een en ander aanstoot sou gee. Vir baie lande is hierdie ikone, gewoonlik lank reeds oorlede, ook  beskermheiliges, aartsengels en ander historiese en selfs mistieke figure na wie se oorgelewerde deugde almal kan opsien.

Die destydse president Nelson Mandela wat met sy nr. 6 Springboktrui die Springbokke tydens die wêreldrugbybeker op eie bodem kom ondersteun het, het oornag die harte van baie Afrikaners hiermee gewen. Dit was nie net die daad van die oomblik wat belangrik was nie, maar ‘n hele  rits omringende kwessies. Vir baie van Mandela se kamerade was dit destyds ‘n vanselfsprekendheid dat die Springbok as kenteken van die nasionale rugbyspan vervang sou word. Baie sportsoorte, soos krieket, het immers beenbreuke opgedoen in die haas waarmee die Springbok geskiet en begraaf is, maar rugbybase en die rugby-ondersteuners het rug styf gemaak en ‘n politieke slagveld het onafwendbaar gelyk.

Verder het verskeie ministers, waaronder Trevor Manuel, steeds volgehou dat hulle die All Blacks of ander oorsese spanne ondersteun. Mandela het groter as die oomblik geword, en die lansie vir versoening gebreek…

In die buiteland en onder sy eie mense was Mandela lank reeds, ook as gevangene op Robbeneiland, ‘n groter as lewensgrootte ikoon. Soos die ikoon-heiliges van ander lande kon hy in die oë van die wêreld niks verkeerd sê of doen nie. Met die nr.6-trui het hy nie net in die harte van baie Afrikaners ingestap nie, maar terselfdertyd van die harde oordele in baie ander se harte oor die Afrikaner versag. Hy het die bykans idilliese beeld van ‘n reënboognasie geskep van verskillende kleure wat in harmonie saamstaan, en ‘n pragtige geheel vorm.

Nog belangriker, al het hy al lankal uit die aktiewe politiek getree, en al het hy hom nou al ‘n paar jaar weens hoë ouderdom en swak gesondheid uit die openbare lewe onttrek, bly hierdie groter as lewensgrootte beeld steeds ‘n matigende invloed op die Suid-Afrikaanse samelewing uitoefen.

Ongelukkig het sy opvolgers baie gedoen om hierdie beeld van die Madiba-magic op die ashoop te laat beland. Miskien is dit juis hierdie besef en die hunkeringe na die goue oomblikke, wat so ‘n groot deel van die land nostalgies laat hunker na die tyd toe Mandela nog president was.

Uiteraard is baie van die herinneringe wat so baie mense koester nie net op die werklikheid gebou nie. Mandela is nie lewenslange gevangenisstraf opgelê omdat hy geglo het die lug is blou nie. Die Burger vat dit vanoggend in sy hoofartikel goed saam: “Nelson Mandela se verjaardag word vandag wêreldwyd gevier met ’n eensgesindheid en optimisme wat waarskynlik vir Madiba self effens sal verras. Veral die afgelope vier of vyf jaar gaan Mandela-dag gepaard met ’n welbehae in die mensdom wat Kersfeesagtige-afmetings begin aanneem – en wat ’n sonderlinge prestasie dat ’n boorling van Suid-Afrika wêreldwyd soveel medemenslikheid kan inspireer” Maar.. “Wat wel opvallend is, as dat die gesprek oor Suid-Afrika aan’t verhard is. Die klassieke Mandela-waardes van vergifnis en versoening hoor ’n mens al hoe minder. Waar jy ook al kom, hoor jy die h-woord al hoe meer: hulle. ‘Hulle’ kan nie die land bestuur nie. ‘Hulle’ kan nie eers ’n paar skoolboeke aflewer nie.“

Klik hier om die hoofartikel te lees.

Dit is waarskynlik ‘n klein minderheid wat die voete van klei ook onthou, en ‘n nog kleiner deel wat dié aspekte allesoorheersend maak. Die geskiedenis sal egter opteken: Madela het geweier om geweld af te sweer wat hom gouer uit die tronk sou laat kom. Mandela hét ‘n hele paar ongelooflike swak ministers aangestel en met hulle volhard, en die land pluk nou nog die wrange vrugte in byvoorbeeld die onderwys en Binnelandse Sake daarvan. Iemand soos FW de Klerk wat as adjunk-president ten nouste met Mandela saamgewerk het, het later heelwat krapperighede oor die president oorgehou. Die skrywer-digter, Breyten Breytenbach wat self vir die ANC agter tralies beland het, het een van Mandela se felste kritici geword.

Maar in die Madiba-euforie sukkel dit om die negatiewe herinneringe te handhaaf. Mandela se egskeiding van die heethoof, Winnie, het stellig baie gedoen om sy beeld as gematigde versoeningsman te verdiep, selfs al het die wêreld met afkeer toegekyk hoe Mandela wêreldmuishonde soos Ghaddafi en Castro om die hals val.

Dat hy steeds aandui dat hy, as afgetrede politikus maar ook staatshoof en nasionale figuur, vir die ANC stem wat nou sy waardes liederlik vertrap, is ‘n ongelukkige werklikheid.

Historici, politici en die publiek se herinneringe van die geskiedenis verskil gewoonlik dramaties. Historici sal Mandela se beeld en waarde as ikoon beoordeel en in die geskiedenis laat opteken, tesame met die kwaste en knoetse wat deel van elke mens se samestelling is. Die politici, in die vorm van verskeie politieke partye, maak opportunisties op die ware nalatenskap van Mandela aanspraak, selfs al dui Mandela self presies die teenoorgestelde aan.

Wat vandag tel, is die beeld wat die publiek het, geskep in die harte en verstand van oud tot bitter jonk. Dit is soos ‘n jaarlikse bloedoortapping vir die land wat Versoeningsdag in die skadu stel.

In weerwil van die krapperigheid wat tussen FW de Klerk en Mandela bestaan het, het die FW de Klerkstigting in sy gelukwensing aan Mandela ‘n lang lys aanhalings van Madiba opgestel het wat as mylpale van versoening ingewerk het. Dit kan hier gelees word.

Die kuns is om hierdie gesindheid na môre oor te dra, en die dag daarna en die dag daarna… Die Burger sluit af: “Soveel te meer dan is ons dit op 18 Julie aan mekaar verskuldig om duideliker te praat, mooier te luister en beter te probeer verstaan – die waardes wat Nelson Mandela so duidelik versinnebeeld het; die waardes wat ons van ’n burgeroorlog gered het.“

Die lys is oneindig lank van projekte, sommiges as deel van die 67 minute-projek, ander nie, waarvan die gevolge nog ver in die toekoms gaan strek. Skole word deur vrywilligrs opgeknap, hongeres kry kos, siekes word versorg, om maar enkeles van die lang lys verbeeldingryke projekte te noem.

Mandela word op enige denkbare wyse gehuldig. Waarskynlik sy vreemdste verjaarsdaggeskenk het van Duitse wetenskaplikes gekom. ‘n Prehistoriese houtkapper wat sowat 5 miljoen jaar gelede by Langebaanweg geleef het, is na Mandela vernoem. Die Navorsingsinstituut Senckenberg van Frankfurt in Duitsland het in die jongste uitgawe van die Journal of Vertebrate Paleontology die vonds van die Australopicus nelsonmandelai as die oudste houtkapper wat nog in Afrika gevind is, bekend gemaak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae