Nuuskommentaar: Gevaarlike werk van joernaliste

Vanjaar was die dodelikste jaar vir joernaliste wêreldwyd sedert die internasionale persvryheidswaghond, Verslaggewers sonder Grense (VSG) in 1995 die syfers begin byhou het.

Altesaam 88 joernaliste het die afgelope jaar in die uitvoering van hul werk gesterf, ‘n toename van 33 persent op die vorige jaar. Nog ses media-assistente en 47 e-joernaliste en burgerlike verslaggewers het ook gesterf. ‘n Verdere 879 joernaliste is gearresteer en 1 993 is gedreig of fisies aangeval, 38 is ontvoer en 73 joernaliste het uit hul lande gevlug. Hierdie sluit nie algemene dreigemente in soos dat die staat sy advertensie-gelde van die krities-ingestelde media sal weerhou nie.

Dié syfers is selfs meer skokkend as die onlangse syfers van ‘n ander internasionale mediawaghond, die Komitee vir die Beskerming van Joernaliste (BKJ). Volgens die BKJ was vanjaar die rekord vir joernaliste agter tralies, naamlik 232. Dit gee egter ‘n prentjie van wat potensieel kan gebeur as die snoerwetgewing deurgevoer gaan word.

VSG wys daarop dat die rekordgetal sterftes veral aan die Siriese konflik, die stryd in Somalië en die Taliban se optrede in Pakistan toegeskryf kan word. Sirië word as die begraafplaas van joernaliste beskryf. In Pakistan het daar elke maand ‘n joernalis gesterf en in Meksiko word joernaliste deur die dwelmkartelle in die visier geplaas, en ses het omgekom.

Beide VSG en die BKJ noem Turkye as die land wat die meeste joernaliste agter tralies besorg. Word e-joernaliste bygereken, is China egter loshande die land wat die meeste toesluit. Eritrea se aanhouding van joernaliste word as ‘n tronkhel beskryf, waar die joernaliste nie die reg op ‘n verhoor, of selfs regsverteenwoordiging geniet nie, en slegs enkele van die 28 aangehoudenes besoeke van hul gesinne kon ontvang.

Iran word van “wrede onverdraagsaamheid” teenoor joernaliste beskryf. Suid-Afrika word nie in dié verslag genoem nie. In verslae wat oor die stand van mediavryheid handel duik Suid-Afrika se naam egter gereeld op, en VSG het twee jaar gelede ‘n brief aan die ANC gerig om die party te maan teen sy volharding met die snoerwetgewing. In 2003 was Suid-Afrika nog in die 21ste posisie op die persvryheidsindeks, en die mees persvrye land in Afrika. Aan die begin van vanjaar het Suid-Afrika na die 42ste plek teruggesak, en was ses Afrikalande meer persvry as Suid-Afrika.

Suid-Afrika se posisie op die indeks gaan na verwagting aan die begin van 2013 nog verder tuimel, onder meer oor die volharding daarmee om die snoerwetgewing deur te voer, maar onder meer ook oor die mate waarin die SAUK in die aanloop tot die ANC se verkiesingskongres skaamteloos as pres. Jacob Zuma se imbongi opgetree het.

Die blote feit dat Zuma so oorweldigend herverkies is, terwyl die buitelandse media die mond erg hieroor uitspoel, sal die vergrootglas op Suid-Afrika gerig hou. Hoe is dit moontlik dat ‘n persoon wat soveel beweerde skandale beleef, en op wie se wagbeurt sy land op bykans elke denkbare saakmakende indeks teruggesak het, so oorweldigend herverkies kon word?

Het die Suid-Afrikaanse media in sy waghondfunksie en inligtingstaak van die publiek gefaal? Die antwoord is eenvoudig dat die gedrukte, en baie van die gemeenskapsradiostasies oor die algemeen wel deeglik hul kant gebring het. Ook e-TV het programme van ‘n skerp aard uitgesaai.

Benewens die feit dat die SAUK-TV van die onthullings volledig in die doofpot geplaas het, en Zuma se lofliedere by elke moontlike geleentheid besing het, is daar waarskynlik steeds ‘n ander dinamika ter sprake, soos dat ‘n aanval op Zuma as ‘n aanval op swart mense beskou word.

Die feit is dat die ANC-kongres uiteindelik nie volgens die internasionaal-erkende demokratiese norme opgetree het nie. Veral Europa, wat erg gesteier het onder Hitler wat demokraties deur sy mense verkies is, sal onthuts wees dat iemand wat elke denkbare moontlike toets gedruip het, nie net herkies is nie, maar oorweldigend herkies is.

Veral uit ‘n lang kommentaar deur die redakteur van Trouw, wil dit voorkom of die vakansietydperk wat die ANC geniet het, nou goed gebêre is. Trouw is egter geen uitsondering nie, en ander koerante het ook nie die roede gespaar nie. Die mediaramp wat Suid-Afrika getref het, word slegs versag deur geweldige verwagtinge en hoop wat op die nuutverkose ANC-adjunk-president, Cyril Ramaphosa geplaas word. Ramaphosa sal egter moet toon dat hy ruggraat het en nie soos sy voorganger in Zuma se skadu tot ‘n non-entiteit gereduseer sal word nie.

Suid-Afrika kan baie maklik die prys begin betaal vir sy vriendskap met Mugabe en Kuba deurdat die land nou so klinkklaar gedemonstreer het dat dit nie met die konvensionele konvensie van demokrasie toevertrou kan word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae