Nuuskommentaar: Grondwet onder druk

Van velerlei kante kom daar nou druk op die grondwet, en selfs die beginsel van ‘n grondwetlike demokrasie.

In die een hoek spreek pres. Jacob Zuma hom al hoe meer oor die grondwet en die grondwetlike hof uit, en laai so meer en meer vurige kole op sy kop. Zuma se standpunt kan min of meer gestel word as sou hy wil afsien van die beginsel van die oppergesag van die grondwet, en dus ‘n grondwetlike demokrasie. Dit sou behels die terugkeer na iets soortgelyk as die vorige bedeling waar die meerderheid in die wetgewende gesag die finale sê sou hê.

Dit is Sondag goed verwoord in ‘n artikel in Rapport oor die uitlatings van dr. Mathole Motshekga, wat Zuma na die mond praat. Dave Steward van die FW de Klerkstigting weerlê hom punt vir punt.

Elders ter wêreld is daar heelwat debat oor die onderwerp. In Australië, onder meer, loop die gedagte sterk dat dit onhoudbaar is dat nie-verkose regters, eerder as verkose parlementslede, die finale sê kan hê. Onder die argumente wat geopper word is dat dit nie die grondwet en howe in die VSA was wat slawe vrygestel het nie, maar verkose verteenwoordigers.

Hier handel die histerie oor wat Zuma en ‘n groterwordende deel van die leierskorps van die ANC bepleit dat die president nie die skeiding van magte verstaan nie, en ook nie weet waaroor die regstaatbeginsel gaan nie.

‘n Groot deel van die verontwaardiging oor Zuma se jongste deuntjies hou daarmee verband dat die ANC en die Vryheidsmanifes die morele opperhand oor die ou bedeling gekry het, onder meer met die ruim lippediens wat aan, soos dit in Engels bekend staan, “rule of law.”

Of verklaar die Vryheidsmanifes werklik ‘n verbintenis tot die regstaatbeginsel soos so graag voorgehou word? Toe nou nie, veel eerder ‘n verbintenis tot meerderheidsregering, maar met die beskerming van minderhede. Die regstaatbeginsel, dus waar die grondwet die oppermag het, is juis een van die meganismes om minderhede teen wat politieke wetenskaplikes die diktatuur van die meerderheid noem.

Zuma se taalgebruik kom inderdaad baie na aan ‘n ongebreidelde oproep tot die diktatuur van die meerderheid, onder die indruk dat dit ‘n soort suiwer demokrasie beteken. Die internasionale reg stel egter ‘n hoë premie aan minderheidsregte en die grondwette van die meeste beskaafde heterogene state maak deeglik hiervoor voorsiening. Dit sluit lande in soos Nieu-Seeland, Indië, die Europese Unie in geheel en ook individuele Europese lande.

Lande wat neig om heterogeniteit deur gewone meerderheidstem te regeer, het baie dikwels met gewapende opstande te make, soos Sri Lanka en Turkye.

Hoewel die ANC nog gereeld lippediens aan die grondwet bewys, wyk dit in sy transformasiebeleid reeds dramaties daarvan af, en daar moet kommer wees as van die grondwetlike beginsels wat by Kemptonpark onderhandel is, en die grondwet self afgewyk word.

Die situasie het nou ontstaan dat slegs ‘n klein deel van die politieke spektrum, links van die sentrum, tevrede met die huidige grondwet is. Selfs in akademici-kringe word die grondwet beskou as een wat verskeie flaters bevat. In dié stadium bepleit die ontevredenes dialoog en selfs ‘n heronderhandelde skikking, maar die ideologiese spektrum van diegene wat verandering nastreef, is pole uitmekaar. Dit word goed op ‘n skematiese voorstelling van die kumulatiewe spanningshipotese uitgebeeld.

Op die een pool word ‘n meerderheidsdiktatuur nagestreef, en op die ander punt ‘n grondwetlike demokrasie wat beter met die internasionale reg gesinchroniseer is.

Intussen moet die huidige grondwet, gebreke en al, optimaal benut word om ‘n magshegemonie te stuit.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae