Nuuskommentaar: Het FW nog ‘n rol?

FW de Klerk Foto: CNN

Oud-president FW de Klerk het pas weer rondom die afsterwe en begrafnis van die voormalige Britse premier, Margaret Thatcher, die nuus gehaal. Soos gebruiklik was daar in die kuberruim waar hierdie berigte gedra is, ‘n enorme reaksie van lesers, waarvan byna almal hul kuberpenne in gal gedoop het en woorde soos “verraaier” en veel erger opgedis het. Selfs die enkelinge wat iets positiefs oor FW te sê gehad het, is met die teerkwas bygedam.

Het FW die Rubicon oorgesteek, of het hy sy mense strategies teen die Trassimeense meer laat vaskeer?

Die simboliese onderskeid is reusagtig. Julius Caesar het die Rubicon oorgesteek en sy vyande wat ‘n komplot teen hom gesmee het, gaan oorwin. Die Kartaagse veldheer, Hanibal het ‘n ganse Romeinse eenheid teen die Trassimeense Meer vasgepen, en met onder meer sy olifante in die grou water ingedryf en Rome sodoende vir ‘n tyd lank uiters kwesbaar gemaak.

In die reël, wanneer ‘n regeringshoof die tuig neerlê, is daar ‘n ongeskrewe protokol dat hy hom van politieke uitsprake sal weerhou, veral wat na foutvindery met sy opvolger klink.

Wyle president PW Botha was byvoorbeeld baie stil na hy in wese uit die tuig gedwing is, oud-president Nelson Mandela was stil en het bloot toegelaat – later skynbaar sonder dat hy meer veel geweet het wat aangaan – dat die ANC hom misbruik om groot gewag daarvan te maak dat hy steeds ANC stem, en oud-president Thabo Mbeki het selfs ten spyte van sy aktiewe, nuwe politieke rol, nie sy mond uitgespel oor die man wat hom uit die tuig gedwing het, en veral sy ekonomiese beleid erg geknak het nie, naamlik president Jacob Zuma.

Oud-president FW de Klerk, soms regstreeks, en soms via die FW de Klerk-stigting, is egter veel meer as net huidige politieke kommentator – hy is ‘n aktiewe staatkundige deelnemer. Ook die Sentrum vir Grondwetlike Regte, wat deel van die stigting is, neem aktief deel. Kritiek op die regering van die dag is algemeen, en veral waar uitgewys word hoe die ANC die grondwet verkrag, ook ontstellend.

Daar is ‘n belangrike rede waarom FW en sy stigting so optree en dit nie net reg is nie, maar ook noodsaaklik. Dit handel in wese daaroor dat die ou Suid-Afrika via ‘n nasionale vredesakkoord tot sy einde gekom het. Die oorgangsgrondwet, die grondwetlike beginsels, en daarom die uiteindelike grondwet, is veronderstel om in die dampkring van hierdie akkoord te staan.

Dit is belangrik, want sonder die akkoord en die afdwingbare invloed van die akkoord beteken dit dat die ANC die een of ander militêre oorwinning behaal het, en die ander kant skynbaar onvoorwaardelik oorgegee het. Dit is immers die indruk wat die ANC graag skep.

Veral na Marthinus (Kortbroek) van Schalkwyk die NP – toe die NNP – in die ANC self ingelei het om “jul (baie stil) stem te gaan wees” bly dit ‘n ope vraag wie nou eintlik die “ander party” van die Vredesakkoord sou wees.

Dit is juis die ANC se voorhou van die gewaande oorwinning, en veral die wegkom daarmee, wat die indruk versterk dat die destydse regering se onderhandelaars soos hul agterente onderhandel het. Of soos dr. Leopold Scholtz dit uitgedruk het, die regering sy derde span se reserwes ingespan het om te onderhandel. (Slegs ‘n brief van kritiek op Scholtz se rubriek is op Die Burger se argief opspoorbaar). Baie van die ja-stemmers van die destydse referendum voel ook uitverkoop omdat dit toe duidelik gemaak is dat daardie referendum bloot voortgesette onderhandelings, ja of nee, aan die bod gestel het en dat ‘n tweede referendum oor die aanvaar al dan nie van die ooreenkoms opnuut aan ‘n referendum blootgestel sou word.  Talle ja-stemmers het al laat blyk dat hulle bloot ja vir onderhandelings gestem het, en beslis teen die produk van die “derdespan se reserwes” sou stem.

In ‘n sekere sin – veral teen die agtergrond dat Meyer self op rekord is dat hy vir die ANC stem – laat dit FW as die enigste oorblywende “verteenwoordiger” van die “ander kant” van die vredesakkoord.

Sy, en sy stigting se kritiek op hoe die ANC met die grondwet, die demokrasie en die howe (die laaste de facto oorblyfsel van die beloofde wigte en teenwigte)  omgaan, is dus nie maar bloot foutvindery met sy opvolgers nie. In sy stigting is ‘n enorme hoeveelheid kundigheid opgesluit wat weens hul kontak met FW dit adem wat met die afloop van die grondwetlike onderhandelings bedoel is.

Hoewel kritiek uitgespreek word, was daar ook al verskeie verklarings waarin die ANC bygedam is oor uitlatings dat die vredesakkoord ten dele of algeheel opgeskort gaan word. Daar was selfs kritiek op kardinale hofuitsprake – nogal insiggewend teen die agtergrond dat FW Suid-Afrika in ‘n posisie van juridiese determinasie ingelui het tot die effektiewe afgradering van ander paslike dissiplines wat staatkundige dinamika beïnvloed, soos die politieke wetenskap en veral (politieke) sosiologie, en selfs die historici swoeg om objektiewe, waar weergawes te kan skets.

By FW se kritici is ‘n frustrasie te bemerk dat die onderhandelaars skynbaar nie ‘n doeltreffende meganisme daargestel het waar die ‘ander party” die skending van die vredesakkoord met meer as bloot mond-uitspoelery kan begroet nie. Waar die howe en ander “wigte en teenwigte” wel genader word, is dit hoofsaaklik burgerlike instellings wat hul eie steunbasis moes opbou, soos Solidariteit en AfriForum wat moes intree en steeds intree. Die stigting was byvoorbeeld duidelik afwesig met die grondwethof-uitspraak vandag van die saak wat AgriSA aanhangig gemaak het oor die beweerde nasionalisering sonder kompensasie van mineraleregte – die ou “ondergrond.”  En hulle kan nie as verlengstukke van FW en sy stigting beskou word nie.

Miskien die duidelikste van wat FW vir die Afrikaner deur die onderhandelde skikking verlang het, blyk uit die volgende aanhaling uit sy jongste mediaverklaring na die dood van Thatcher: “How would Afrikaners and other whites be able to retain the right to national self-determination that had been the central theme of their history? Afrikaners felt just as strongly about this right as any other nation. They had twice defended it against Britain, the mightiest imperial power of the time. One must remember that the Anglo-Boer War was Britain’s largest war between the Napoleonic War and the First World War – involving the deployment of more than 400 000 imperial troops.

Maar het hierdie aspirasies behoorlik neerslag gevind in die grondwet (veral as die ANC onder andere by monde van Gwede Mantashe selfbeskikking vir die Afrikaner as heeltemal onaanvaarbaar en buite die kwessie beskryf? Of moet die Afrikaner die fout elders gaan soek dat daar nog geen behoorlike kollektiewe aksie is om artikel 235 van die grondwet wat juis vir selfbeskikking voorsiening maak, te laat realiseer nie?

‘n Tweede probleem is dat die persepsie nog wyd in die wêreld loop dat Suid-Afrika “die beste grondwet ter wêreld het.” Kritiek op die praktiese implikasies van die grondwet beteken outomatiese weerstand in die buiteland juis onder diegene wat groot erkenning aan FW se rol tot die “vreedsame oorgang” gee. (Die  opvatting dat dit die beste grondwet is, is hoofsaaklik die produk daarvan dat die onderhandelaars ander lande se grondwette kon gebruik om die beste uit te haal – in die praktyk is egter byvoorbeeld nagelaat om juis daardie elemente uit die Indiese en Belgiese grondwette te neem wat die belange van minderhede staatkundig ondervang).

Is daar iets wat FW kan doen om die outomatiese beskuldigings van verraad te stop wanneer hy kritiek op die huidige regering se doen en late uitspreek?

–       Gaan hy veel vermag deurdit uiteindelik reguit te stel dat die huidige grondwet gebreke het?

–       Gaan dit iets beteken deur te sê hy en sy kabinetskollegas is deur die onderhandelaars in die steek gelaat?

–       Gaan dit ‘n verskil maak as hy die lug suiwer oor wat van die tweede beloofde referendum geword het?

Die onbevredigende antwoord is waarskynlik dat die FW de Klerk-stigting sy aansienlike kapasiteit sal benut om die leemtes in die grondwet en die ANC se vergrype teen die grondwet aan die kaak te bly stel, dat die stigting sal bly hamer op die veronderstelde status van die vredesakkoord, maar dat ander instansies wat kapitaalkragtiger is en bewese ledetalle het, die howe sal moet nader, en weer en eer moet nader, tot hierdie wig en teenwig moontlik in die ergste scenario uit funksionaliteit getransformeer word.

Die Afrikaner kan ook nie net lawaai oor vertrapte regte en gebrekkige selfbeskikking, en die meeste “lede” dan niks doen nie.

Dit is immers ‘n gegewe dat ‘n politikus die ou waarheid moet aanvaar: As jy jou vir ‘n toffie uitgee (deur die politiek te betree) moet jy bereid wees om gekou te word.

Maar daar is darem iets soos styl en smaak ook van hoe gekou word.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

13 Kommentare

william ·

Die ANC steur hom allermins aan die De Klerk stigting. By Kodesa het hulle die wit onderhandelaars ore aan gesit. Ek het presies geweet wat kom na 1994. Ek het groot geword in die sestigs toe uhuru die slagspreuk was. Ek het gesien hoe die lande na onafhanklikheid ineenstort. Toe Mugabe oorgeneem het in 1980 he daardie land uitgevoer. Nou moet ons hulle geld leen om n verkiesing te hou. Suid Afrika moet 8 en 9 persent groei maar groei teen 2 persent. Die president is n dief en veelvywer. Hulle besteel die land rot en kaal. Vergewe maar my pessimisme maar in hierdie droewe land is daar niks om oor opgewonde en optimisties te wees nie.

Lian ·

Die Weste en veral Brittanje probeer die SA model as ‘n sukses verkoop .

Hein Jacobs ·

Die tye waarin ons lewe is daar geen politieke leier wat sal vermag wat werklik moes gebeur het ten tyde van die oorgang na n demokratiese grondwet binne die bestek van ons “magtelose” oorgawe nie!

Ons as minderheid in SA sal nooit weer kan terugkeer na die onderhandelingstafel wat deur onself daar gestel is nie – Ons bloed en lewens le in die land se veelparty politiek begrawe en ek weet dat geen GELD hierdie situasie sal beredder nie – Nie eens die magtige vredesprys “NOVEL” se wenners het enige invloed in die Staatsbestel soos dit tans bestaan nie!

Myns insiens sal die natuurlike leiers in die hede en toekoms bepalende kopskuiwe moet maak om plek te maak vir die intelek van die land se wennende leiers soos dit wel sal ontstaan….

Bepalend vir ons land se voorruitgang is die geknelde situasie wat tans heers en sal daar n automatiese herstel in die politieke mag kom wat almal in n sinergie sal bind vir almal se voortbestaan!

Ons land se mense, hoe dievers hul ookal mag wees; is in een van sy mees uitdagendste tye en geen mens moet hul holistiese samewerking ooit onderskat nie – Alhoewel daar politieke stryd sal wees sal oorlewing van ons nasie bepalend raak binne die konteks van die afrika substreek en dan alleen, sal die werklike leiers na vore tree om hierdie land tot sy reg te bring en vir almal beteken wat dit regtig kan!

Wat gebeur as jy n kurkprop onder die water indruk– Net so sal daar weer n ko-heersie ontstaan in die land se mense en hul strewe na politiek en meer belangrik die Vryheid van elke burger!

Eddie Grové ·

Ek loop hier verby en vra maar net, hoekom het die ANC ‘n jaar of wat vir hom (FW) ‘n gepansede voertuig gegee??? Is hy nie dalk nog aan bewind??? en ly die ANC nie?????

Gerrie Venter ·

Dis met kommer dat ek onlangs verneem dat F.W. de Klerk en Leopold Scholtz betrokke was by die stigting van Afrinetwerk in Bussels. Ook teenwoordig was Paul van Deventer (Soltech) en Flip Buys (Soldariteit). Dit ontstel my dat hierdie skuif beide Solidariteit en Afriforum onder verdenking plaas. Boonop is Radio Pretoria, waarmee ek my lewe sou waag, ook in die dampkring van Solidariteit/Afriforum ingesuig. Mens het niemand wat jy meer onvoorwaardelik kan vertrou nie. Slegs Die Afrikaner koerant bly oor. Ek wens net dat Solidariteit/Afriforum en Radio Pretoria hulle bona fides wil bekendmaak teen die agtergrond van F.W de Klerk en Media 24 se teenwoordigheid by belangwekkende gebeurtenisse soos hierbo gemeld. Ek het reeds ‘n skrywe aan Radio Pretoria gerig, maar dis doodstil aan daardie kant. Ek wil net ten besluite se dat ek nie eers sal toelaat dat F.W. de Klerk my kar was nie.

Jayare ·

Ek lewer nie gewoomlik kommentaar op al die negatiewe reaksies nie, maar ek het net een antwoord vir al die bitterbekke. Ek was een van die jonger geslag van die NP wat druk uitgeoefen het vir verandering, die rede was – ons was gatvol om ons jong seuns kanonvoer te maak. Verder wil ek vir die wat nou so kriteseer en name gee vra: As daar nie ‘n oorgang na ‘n demokratiese regering in 1994 was nie, hoeveel van ons mense sou teen vandag al dood gewees het in tereur aanvalle. So voor ons mense veraiers en ander name noem, dink ‘n bietjie wat die status van die tereur aanvalle was, hoeveel sanksies daar teen ons was en nog baie meer. Ons sou ‘n afgesonderde eiland aan die Suidpunt van Afrika gewees het wat in ‘n burger oorlog (die mense wat ons aangeval het was SA’s?)betrokke was. Almal sou binne die grense van die land vasgekeer gewees het want ons sou nie ‘n visa kon kry om erens heen te gaan nie. So gaan sit op ‘n stoel, vat ‘n pen en ‘n stukkie papier en begin plus en negatiewe punte neerskryf en kyk waar jy uitkom – en onthou asb. FW het ‘n volskaalse oorlog vermy.

Lian ·

Ek moet jou ongelukkig teleurstel . Daar is minder jong seuns per jaar doodgeskiet op die landsgrense as wat daar tans boere op hul op hul plase vermoor word . Onthou ons lewe in Afrika . Jy gee NOOIT, NOOIT jou mag weg nie . Watse oorlog is vermy ? Is die plaasmoorde nie ‘n lae intensiteit oorlog wat ook maar dieselfde was in die destydese Suidwes en Rhodesie nie ? Toe was daar ‘n weermag wat die skuldiges aan die man gebring het , nou bestaan dit nie meer nie en is ons op ons eie gelaat . Daar word in Amerika met sy 200 miljoen inwoners 23000 mense per jaar vermoor . Ons dodedtal as gevolg van moorde is ook 23000 , MAAR ons is net 49 miljoen . Jammer ek kan jou nie ondersteun nie .

TEWIS GROENEWALD ·

Jayare, ons het die oorlog gewen want ons het op die Here vertrou jy weet nie waarvan jy praat nieen beskou ek jou as ongelowige. Ons het die gemors se wapen afgeem en beter wapens gemaak en dan die rook uit hulle geskied. Jy wil eerder dat jou oumense en kinders vermink en dood gemaak word voordat jy jou land verdedig, as my kinders of iemand van my iets oorkom gee my jou adres want ek wil jou lewendig aan paal ophang en van jou vrinne wat saam met de klerk gestem het dat die voels van die hemel jou opvreet. Ruggraatlose gemors

Johann Wille ·

Siestog ou Tewis en jy noem jouself n “Christen”?…….Wat de hel het “ongelowige” met die prys van eiers uit te waai. Jy kan nie eers reg spel nie.

Jayare ·

Siestog ou Tewis – Waar het ons die wapens afgeneem? Die wapens is neergele as gevolg van die ooreenkoms wat bereik is. Miskien moet jy bietjie ophou droom. Gaan kyk bietjie na lys van bomaanvalle wat plaasgevind het in die 80’s en dan kom vertel jy my weer dat ons die oorlog gewen het.

Lian ·

Ek wil net weer ‘n stuiwer in die armbeurs gooi . Daar is reeds voor die Soweto opstande bespiegel dat die die pad was wat ons moes loop as deel van die MEESTERPLAN vir Afrika van die supermoondhede en internasionale besighede . Die Amerikaners het hulle optrede geregverdig met die Monroe doelstellings wat maar die grondslag gele het vir Merika se “Gobal Cop” beleid . Ons kan ons herinner aan Mcmillan se ‘ Winds of Change” toespraak in ONS EIE PARLEMENT . Dit was en is n miskenning deur die outeurs van hierdie MEESTERPLAN van ons fundamentele reg op selfbeskikking . Ons reaksie daarop was soos julle almal weet ” Geskiedenis” . Die naarste is dat ONS EIE MENSE ons uitverkoop het deur nie vir ons die volle waarheid bekend te maak nie .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.