Nuuskommentaar: Het ons geweet?

Die Amerikaanse Penn State University in Pennsilvanië is in ‘n skandaal gewikkel na dit aan die lig gekom het dat die topbestuur geweet het dat ‘n assitent-voetbalafrigter hom aan die molestering van kinders skuldig maak, maar die sluier daaroor getrek het. Nou is die man in die hof skuldig bevind en alles op die lappe.

Die Rooms-Katolieke Kerk loop ook nou al lank deur onder onthullings dat priesters hulle ook aan pedofilie skuldig gemaak het, en dat die kardinale dit toegesmeer het. Die vinger word selfs periodiek na die huidige pous gewys.

Die oortreder se belange is weens sy posisie hoër gestel as dié van die slagoffer.

Met die onthulling van die Barclaysbank-boete vir onetiese gedrag, was dit ook duidelik dat die bank en die publiek verskillende verwagtinge het oor wat moet gebeur. Uiteindelik het ‘n paar topmanne bedank, maar die publiek eis afdankings en kriminele vervolging.

Etiek in die werkplek

Pas het die die fluitjieblsersorganisasie, Labaton Sucharow, die uitslag van ‘n peiling bekend gemaak wat toon dat daar vier jaar na die Lehman Brothers-debakel steeds skokkende vlakke van die aanvaarding van onetiese en selfs onwettige optrede onder senior bestuurslui in die finansiële sektor is.

In ‘n opname onder 500 senior Amerikaanse en Britse bestuurders kom dit aan die lig dat:

–       Byna ‘n kwart meen onetiese en onwettige optrede kan die weg tot sukses baan
–       Sowat ‘n kwart is bewus van oortredings wat op die werksvloer plaasvind
–       Sestien persent sien geen probleem daarin om op voorafkennis te reageer nie
–       Byna ‘n derde voel weens bonusse en ander vergoeding onder druk om die wet te oortree of andersins oneties op te tree.
–       Driekwart meen die nuwe waghonde is nie in staat om oortredings vas te vat nie.

Die ondersoekers het tot die gevolgtrekking gekom dat ‘n strewe na etiek nie vanself uit die sektor sal groei nie. Die gevolg is dat instellings gaan misluk, mense gaan hul werk verloor en investeerders hul geld.

Die rede vir die onetiese en onwettige optrede word opgesom as inhaligheid, nalatigheid en belangebotsings.

Die leier van die Christen-Demokratiese Party, ds. Theunis Botha, sê in sy reaksie daar is geen rede om te vermoed dat dit in Suid-Afrika anders daaruit sien nie.

Die media as waghond

Die media word as belangrike waghond teen sulke vergrype beskou, en daarom is daar soveel kommer oor Suid-Afrika so agteruit boer op die prsvryheidsindeks – en dit grootliks oor mediasnoerplanne wat nog in proses is, asook politieke korrektheid wat veroorsaak dat die publiek ‘n toegewasemde uitsig op die werklikheid kry.

Media-etiek was die onderwerp van ‘n onlangse beraad in Moskou, wat deur meer as 300 afgevaardigdes uit 102 lande bygewoon is. Westerse media was lugtig om dié beraad by te woon, maar is deur die organiseerders ‘n mooi program voorgehou.

Met die aanvang van die beraad was die program egter nie meer dieselfde nie, en in plaas van dit waarvoor die afgevaardigdes gekom het, is hulle onderwerp aan gedoktrineerde toesprake van Russiese amptenare wat op die gevare van persvryheid wys, en ideologiese bog van afgevaardigdes vanuit mediamuishondlande soos Noord-Korea, Bahrein en Iran. Van die stellings, soos dat die Noord-Koreaanse media ewewigtig die waarheid oordra is waarskynlik nie eens deur die spreker self geglo nie.

Die algemene tema van die mediamuishondlande: “Al die gepraat oor menseregte is net ‘n verskoning vir buitelandse inmenging” en dat die “media as betaalde agente van buitelandse vyande optree.”

Persepsie van die werklikheid

Hierin lê die kruks. ‘n Onregverdige bedeling neig om sy die weergawe van die waarheid te skep en baie mense val daarvoor. Sirië is nou ‘n goeie voorbeeld van waar twee totaal uiteenlopende waarhede bestaan – dié van die regering wat die opstandelinge as terroriste brandmerk, en die ander wat na staatsterreur verwys. Wanneer die werklike onreg later onomstootlik staan, is daar uiteenlopende reaksies. Een groep sal pleit dat hulle nie van die onreg bewus was nie en slegs die beste bedoelings in die wêreld gehad het. ‘n Ander groep sal sê hulle was bewus, maar het die onreg nog altyd geopponeer. Na die Tweede Wêreldoorlog moes die wêreld half verbaas agterkom dat byna al die Nazi’s skynbaar in die oorlog omgekom het. Van die massasteun was daar nie sprake nie.

‘n Derde groep sal steeds die ou stelsel probeer regverdig. ‘n Vierde groep wil bloot in die nuwe omstandighede aanbeweeg sonder om sy kop te veel te breek, en eerder fokus daarop om liggaam en siel onder moeiliker omstandighede aanmekaar te hou.

En dan is daar ook diegene wat nie net glo die beleid van Afsonderlike Ontwikkeling was regverdig nie, maar anker dit in godsdiens. Selfs waar mense van die onregte bewus was, word dit as noodsaaklike tussentydse maatreëls geregverdig wat nodig was om die groot ideaal te bereik.

Giliomee versus Van Niekerk

Amper dieselfde situasie speel hom nou in Suid-Afrika af.  Aan die een kant is daar ‘n meer ongenuanseerde scenario dat apartheid doodgewoon verkeerd was en dat almal wat op ‘n manier die voordeel, of skynbare voordeel daarvan geniet het, moet boete doen. Binne eie geledere manifesteer dit onder meer in die vorm van prof. Anton van Niekerk, die Stellenbosse filosoof, en Beeld se politiek redakteur, Jan-Jan Joubert.

Prof. Hermann Giliomee, gerekende historikus ook van Stellenbosch, bepleit ‘n meer feitegbaseerde en genuanseerde benadering, en hoewel hy geensins apartheid self goedpraat nie, word hy juis daarvan beskuldig.

Twiste in die Afrikaanse kerke sedert Kerk en Samelewing en nou in die Hervormde Kerk toon dat ‘n veralgemeende ongenuanseerde benadering vir teenspoed bestem is. Die Belharbelydenis bly ‘n twispunt.

Die Suid-Afrikaanse debat sal nog lank woed, en dit sal erg verdelend wees solank die debat tot veralgemenings vervlak word. Veel meer sensitiwiteit en konteks is nodig om die nie gemoedere te roer nie.

En na die debat in eie geledere min of meer uitgepluis is, moet dit nog na ander geneem word – waar persepsies soos dat die blankes swart mense se grond gesteel het amper algemeen – 80 % volgens opnames – geglo word.

Politieke korrektheid

Die gewilde rubriekskrywer, Rhoda Kadalie, het by geleentheid geskryf dat politieke korrektheid die diktatuur van die liberalis is.

Wat wel duidelik is, is dat daar geen ruimte vir poliek-korrekte nuanses is om wortel te skiet nie, want uiteindelik lê persepsies so wyd weerskante van die werklikheid dat dit noodwendig spanning bring en die gevaar van konflik inhou. Hoe verduidelik ‘n mens aan ‘n tuinwerker wat met sy kop vol knoppe na die vorige dag se dienstebetogings by die werk opdaag dat die regering bykans ‘n miljard rand aan Afrikalande gegee het, waarvan sowat R300 miljoen aan Zimbabwe? En dié man hét werk, maar baie van daardie betogers nie.

Of as ‘n minister nie verantwoordelikheid vir die skoolboekkrisis wil neem nie? Verantwoordelikheidaanvaarding is die beroepsrisiko van die politikus, en om in die politieke swaard te val, die eerbare ding. Maar al is sy ingelig oor die krisis hou die minister vol sy het nie geweet nie, trap sy al dieper in die modder.

Of dat ‘n president se amp nie self waardigheid bring nie, maar sy optrede in die amp?

Twee heel verskillende persepsies van die werklikheid van dieselfde situasie ontvou in die hof oor wat eintlik by die Sentrale Universiteit van Tegnologie aangaan.

Koester die media as kleinood om die onreg aan die kaak te stel, maar moedig die media ook aan om politiek korrektheid af te skud om die waarheid gou te laat seëvier voor onetiese optrede kans kry om diep wortel te skiet.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae