Nuuskommentaar: Humanitêr en humanisme: Die siel van ongelykheid en van omgee

Flip Buys

In sy rubriek in Rapport, Siening van gelykheid wys krake, wys die uitvoerende hoof van Solidariteit, mnr. Flip Buys, op die warmerwordende koue oorlog tussen ideologieë in Suid-Afrika. Dit kan hier gelees word.

Buys fokus op die stryd wat tussen liberalisme en sosialisme polariseer. Die debat handel onder meer oor hoe die armoedeprobleem aangespreek behoort te word.

Die ongelykheidsdebat

Dat die debat in Suid-Afrika gereeld na armoede sal beweeg, is in die lig van die land se hoë werkloosheidskoers ‘n gegewe. Die ongelykheidsaspek hiervan skep uiteraard ook vir die sosialisme en sy lelike suster, kommunisme, ‘n gunstige teelaarde.

Die naweek spreek Die Burger in sy hoofartikel ook die kwessie van ongelykheid aan na aanleiding van ‘n verslag van die Wêreldbank wat die koerant soos volg opsom: Suid-Afrika is ekonomies en maatskaplik een van die lande met die grootste ongelykhede ter wêreld. Die bank kwel hom oor ‘swere van politieke onsekerheid’ in die Suid-Afrikaanse bestel. Dié situasie is ernstig, met die kloof tussen die boonste 10% en die ander 90% wat die grootste onder vergelykbare ontwikkelende lande is. Die boonste 10% (5,5 miljoen) verdien en skep 58% van die land se rykdom en die onderste 50% (27,5 miljoen) net 8%.“

Amper ‘n jaar gelede het die VN in ‘n verslag geskryf sowat 11 miljoen Suid-Afrikaners, waarvan die helfte kinders is, weet nie waar hul volgende maaltyd vandaan gaan kom nie. Vanoggend, in sy hoofartikel, looi Volksblad die Vrystaatse premier oor ‘n nuwe vuurwa van R2 miljoen vir die staatsgarage om die provinsies se hoës mee rond te rits.

Klits hierdie realiteit saam met die uitspattige beloftes van die ANC, en ‘n teksboekmodel van wat sosioloë die model van relatiewe deprivasie ontstaan, waar die gaping tussen die werklikheid en verwagtinge so groot word dat dit ‘n revolusionêre klimaat skep. Of soos Die Burger dit uitdruk: “Met syfers soos dié is ongelykheid ’n wesenlike bedreiging vir politieke stabiliteit in Suid-Afrika.“ Of Volksblad: “Duisende inwoners van die provinsie kom feitlik daagliks gewelddadig in opstand teen dié soort vergrype, omdat hulle nie eers die basiese dienste kry nie. Dit is nou ’n kwessie van die land wat brand en die politici wat in weelde met oogklappe van plek tot plek deur slaggate jaag om met leë beloftes van voorspoed stemme te werf.“

Dit laat onwillekeurig die vraag ontstaan watter ideologie die mees humanitêre aanslag sal bied om nie net die probleem volgens ekonomiese modelle ten beste aan te spreek nie, maar die armes steeds met genoegsame deernis te help om hulself te help – dus iemand nie net materieel te laat oorleef nie maar met selfrespek sy brood kan verdien.

Verwarring met definisies

‘n Europese neiging om soms slordig met die begrippe “humanitêr” en “humanisties” om te gaan, slaan ook periodiek in Suid-Afrika uit en skep ‘n soortgelyke verwarring as die neiging om maatskaplike sorg en sosialisme as sinonieme of wisselvorme in te span. Die begripsverwarring blyk ook uit die rits definisies wat die HAT verskaf, en waar die HAT dit wat internasionaal as geldend met humanitêr assosieer, met “humaniteit” verklaar.

Beide sosialisme en liberalisme bevind hulle vierkantig in die dampkring van die humanisme. Kernagtig beteken dat die mens in homself die hoogste gesag opeis, in teenstelling met die Christen-demokrasie wat God as hoogste gesag stel.

Medemenslikheid en omgee

Maar maak dit enige van hierdie ideologieë humanitêr?

Die antwoord is nie maklik nie. Die Nasionaal-sosialisme (Nazisme) en die sosialisme van Stalin kan allermins as humanitêr beskryf word. Kommunisme, as ‘n manifestasie van sosialisme, het bykans deurgaans na diktature geneig eerder as sosialistiese paradyse.

Die vurige rubriekskryfster, Rhoda Kadalie het al na politieke korrektheid as die diktatuur van die liberalis verwys. Die mate waartoe liberalisme in Suid-Afrika onkrities beoordeel word, is nie eie aan liberalisme se eie ideale nie, en doen liberalisme as ideologie geen guns nie. Liberalisme kan baie deernis hê, soos die verbod op die doodstraf, maar uiters ongenadig soos die wettiging van die abortering van onskuldige babas bloot omdat hul ma’s hulle nie wil hê nie. (Dit sluit nie die gebruiklike debat oor faktore wat meer algemeen as gronde vir wettige aborsies beskou word in nie, soos verkragting, bloedskande en bewese gestremdheid). Die liberalisme word ook gereeld onder skoot geplaas oor die groot klem op vrye meningsuiting, al is dit ten koste van ander individue of groepe se waardigheid en selfs veiligheid. Die liberale verontwaardiging toe Julius Malema aan haatspraak skuldig bevind is, is ‘n ongemaklike herinnering. Soms bring dit ook liberalisme teen sosialisme te staan: Met veiligheidsversprings het die kwessie van bewegingsvryheid te staan gekom teen ander se reg op veiligheid en selfs reg op lewe, en dit manifesteer ook in die afkeer van die protokol vir plaastoegang.

Hoewel Dawie van Die Burger onlangs ‘n lansie gebreek het vir die eertydse Duitse politikus, die Christendemokraat, dr. Konrad Adenauer, en FW de Klerk hom al ten gunste van die vorming van ‘n Christen-demokratiese party volgens die Europese model uitgespreek het, is dit ook geen simplistiese aanname dat dié ideologie al die antwoorde bied nie. In die Nuwe Wêreld soos Australië en Kanada, en hul geesgenote, die Amerikaanse fundamentalistiese lobbies, neig om juis godsdienstig rigied en selfs hard en onverdraagsaam te wees en min Christelike liefde na buite uit te straal. Oor Adendauer skryf Dawie: “Adenauer was ’n konserwatiewe Christen, maar hy het alle vorms van ekstremisme – in die Duitse konteks was dit sowel die kommunisme as die nasionaal-sosialisme – prinsipieel verwerp. In 1944 het hy selfs ’n paar maande in ’n Nazi-tronk deurgebring.“ Intussen het van hierdie Europese partye dikwels effektief nog net die “Christelik“ in naam in hul name.

Maar as partye wat in die Christelike etiek gebore is, is hulle ideologies minder gesteld op individuele vryhede wat die menswaardige behandeling van die medemens aantas.

Watter ideologie ook al as vertrekpunt geld, Dawie bied ‘n goeie opsomming aan: “Die les vir Suid-Afrika is dat nuwe maniere dringend nodig is om te dink en te praat oor kwessies soos die ekonomie, gebrekkige dienslewering, maatskaplike geregtigheid en die groeiende kloof tussen ryk en arm. Te midde van ou politieke kitsresepte en -frases wat ál meer uitgedien raak, gaan dit hier oor hoe vinnig veranderende werklikhede en die komplekse faktore wat onstabiliteit kan aanwakker, beter verstaan kan word.“

Implikasies op veelpartydemokrasie

Sake is op verskeie gebiede egter ook al so kritiek dat die vraag dikwels gevra word of Suid-Afrikaners die luukse van wye ideologiese keuses kan bekostig terwyl korrupsie en onbevoegdheid so hoogty vier. Daar is selfs blatante pleidooie vir ‘n de facto tweepartybedeling soos die VSA sonder om in ag te neem dat koukusgebondenheid hier ‘n kardinale verskil maak.

Handevat oor partygrense heen is ‘n gegewe as daar enige hoop wil wees om die soustrein te laat ontspoor.

Die grondwet en veral die grondwetlike beginsels waarop die grondwet gebou is, is sterk op veelpartydemokrasie afgestem. Om nou ander praatjies te maak dien nie net die saak van outokrasie nie, maar dit is in ‘n groot mate juis die voorspraakmakers van die nuwe grondwet wat dislojaal teenoor die kernbeginsels daarvan staan.

Terwyl die ideologiese koue oorlog bly woed, raak die asgatkinders honger en dakloos, gedy misdaad, word van babas tot oumas van 90 en ouer verkrag…

Humanisme moet nie met humanitêr verwar word nie.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae