Nuuskommentaar: Jy is veilig – kom belê

Die tragiese gebeure op ‘n plaas by Kuruman waar byna ‘n hele gesin onder vreemde omstanmdighede doodgeskiet is, het die aandag weggelei van die voortdurende vlaag werklike plaasaanvalle en selfs plaasmoorde. Intussen is die 64-jarige mev. Charlotte Froneman op ‘n plaas by George vermoor en het dit slegs plek-plek die nuus gehaal. Mnr. Christo Jansen van Rensburg is digby sy plaashuis buite Heilbron met ‘n petrolbom deur sy bakkie se venster bestook, en daarna aangeval en onder meer weer aan die brand gesteek.

Maar almal in Suid-Afrika is veilig, het pres. Jacob Zuma Suid-Afrikaners meegedeel tydens ‘n funksie van die intelligensiedienste. Hoewel hy waarskynlik in terme van ‘n politieke bedreiging gepraat het, beteken hierdie soort uitlatings dat hy geloofwaardigheid inboet.

In Suid-Afrika was daar klaarblyklik politieke druk om die skorsing van die land se misdaadintelligensiehoof, Richard Mdluli, op te hef en aanklagte te laat verdwyn.

In Sirië staan die jaarlange opstand se dodetal nou in die orde van 10 000. In Suid-Afrika was die jongste amptelike syfers dat byna 16 000 mense in ‘n jaar vermoor is. Die Mediese Navorsingsraad sê dit moet meer wees.

Pres. Jacob Zuma verseker intussen die wêreld dat Suid-Afrika ‘n goeie beleggingsbestemming is.

Beleggings is waarskynlik waarna gekyk moet word, want die wêreld se geldkraantjie vir ontwikkelingshulp realiseer nie soos die VN aanvanklik  beoog het nie, en raak nou ook onder druk – ‘n geldknyp aan die een kant en verset teen ‘n bodemlose put aan die ander kant. In 1970 het die Verenigde Nasies die verwagting op ontwikkelde lande geplaas om 0,7 % van hul BNP as “morele verpligting” aan ontwikkelingshulp af te staan. Slegs vyf lande, waaronder Nederland, het hierdie perk gehaal en die gemiddeld van die bydraende lande is 0,3 %. In Nederland is nou groot debat oor of dié land homself so moet skaad deur die bodemlose put te voer, of moet eerder gefokus word op beleggings in die derde wêreld wat dikwels neig om goeie dividende te lewer.

Die koerant, Trouw, het onderhoude met ‘n reeks kenners en moraliste gevoer. Die sentiment is sterk weg van die morele aanspraak na een van gelykwaardige en saaklike aanpak van die kwessie, tot voordeel van beide partye. Die deelnemers aan die gesprek probeer mekaar oortref in hul oortuiging dat die ontvangers van hulp op hierdie manier meer menswaardig behandel word. Een van die deelnemers haal ‘n Chinese spreekwoord aan: “Waarom haat jy my? Ek het jou tog nie gehelp nie.”

Van die deelnemers ontken nie die morele verantwoordelikheid nie – en wys steeds op die armoedegaping as nalatenskap van nie net kolonialisme nie, maar die magsvakuum uit die wyse van onttrekking van kolonialisme. Terwyl die morele verantwoordelikheid dus nie ontken word nie, is die vraag bloot wat die beste manier van hulp is. En die gety draai teen aalmoese. Daar is al voorheen daarop gewys dat dit dikwels dieselfde lande is wat skielik noodhulp nodig het, byvoorbeeld Ethiopië en Somalië. Dit voed die gedagte van die bodemlose put – na vernietigende droogtes word die nodige strukturele veranderings nie in die lande aangebring om die herhalingskanse te minimaliseer nie. Veral die nodige landbouhervormings bly uit, en wanneer sosialistiese strewes hongersnood baar, moet kapitalistiese lande die bakhande voed.

Die ANC se tienpuntplan wat in ‘n beleids-besprekingsdokument vervat is, is uiteraard meer gefokus op die belang van die ANC as die land. Maar waar landsbelang onder die beplande doelwitte gestel word, word dit steeds ideologies gerysmier. Die kaderontplooiingsbeleid bly deel van die planne, maar die fokus word opnuut gestel dat dié kaders kundig behoort te wees. Die verbintenis tot sosialistiese ideale blyk uit die hernude pogings om die bande met die SAKP en Cosatu te versterk. ‘n Politieke skool moet ingestel word om die leiers ooreenkomstig die ANC se waardes te skool. Die ideale van die ontwikkelingstaat word in dieselfde asem ondermyn met die fokus op transformasie. Die ANC wil “progressiewe magte”, die sosialistiese term vir Marxisties-gerigte instellings, wêreldwyd versterk. Hierdeur verseker die ANC dat die westerse lande Suid-Afrika nie as beleggingsbestemming hoog as prioriteitsland sal stel nie.  (Lees dokument hier. )

Om beleggers te nooi en met sosialisme te flankeer, skep dieselfde gerustheid by die beleggers as om burgers te verseker dat hulle almal veilig is terwyl plaasaanvalle sonder ophou voortduur. Die wyse waarop die regering regstellende aksie toepas dat dit die onreg voed, het Solidariteit nou genoop om die regering met ‘n omvattende regsaksie te takel. Lees dr. Dirk Hermann van Solidariteit se volledige toespraak.

Suid-Afrika kan nie meer op die Madiba-kapitaal reken as vrypas om uit die wêreld te kry wat dit wil hê nie. Die land moet as verantwoordelik internasionale entiteit, ook op die politieke toneel, begin funksioneer, duidelik grondwetlike demokrasie verskans en minderheidsregte respekteer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae