Nuuskommentaar: Krismis en die Christusfees

Môre is dit Kersfees, wat in die Christentradisie geassosieer word met die engelewoorde: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

Maar hoekom is daar dan steeds oorloë – oorloë wat steeds met ontsettende wreedhede en selfs misdade teen die mensdom gepaard gaan? Hoekom is daar jaar vir jaar ‘n padslaging wat dié tyd van die jaar vir baie mense juis in bittere herinneringe doop? Hoekom is daar soveel selfmoorde onder vereensaamdes juis dié tyd van die jaar?

Is die dronkbestuurder besig om in die Kerstyd eer aan God in die hoogste hemel te bring? Is die motoris wat die wet met spoed oortree besig om eer aan God te bring? Of die persoon wat ‘n voertuig verbysteek terwyl ‘n ander in aantog is? Is die leiers met hul swak voorbeelde van korrupsie en magsmisbruik besig om die Here te dien, of skep hulle deur die voorbeeld ‘n gees van wetteloosheid wat die sosioloë anomie  noem?

Word daar nog ‘n geseënde Kersfees gevier? Hoekom sien of hoor ‘n mens dan al hoe meer wense van ‘n “gelukkige Kersfees,” of selfs “lekker Kersfees?” Is daar nog plek vir Christus in die Christusfees, word die Here steeds gedien deur die armes te voed? Of het dit bloot ‘n sekulêre krismis geword? Al hoe meer word die Amerikaanse mismaaksel van “happy holidays” nou op TV en elders gesien, ironies in ‘n tyd wat baie Amerikaanse Christene juis probeer om Kersfees vir die Here te herwin.

Is dit nou bloot ‘n gekommersialiseerde gebeurtenis waar mense hulself in die skuld in koop by winkelgroepe wat dit genadeloos uitbuit, waar gesinne en families bymekaar kom en twiste deur die vreeslikste ooreet probeer besweer?

Jesus self het gewys op wat gebeur as Sy boodskap uit konteks gewring word, toe Hy gevra het: “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid want van nou af sal daar vyf mense in een huis onderling verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Hulle sal verdeeld wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.”

Die engele het immers nie vrede op aarde beloof nie, maar “vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

Dit is geen wonder nie dat die misbruike van Kersfees ‘n groot groep Christene met puriteinse oë na die Christelike kalender laat kyk. Dan val die werklike fokus op die herdenking van Jesus se kruisdood, Sy opstanding, hemelvaart, en die Pinkster. Dit word ook aan min of meer akkurate datums gekoppel, terwyl dit so beskik is dat ons nie weet wat Jesus se werklike geboortedag was nie. Trouens, ons weet nie eens in watter jaar Jesus gebore is nie, behalwe dat Herodus wat tydens Sy geboorte regeer het, reeds in die jaar 4 vC dood is, en die Christelike jaartelling dus nie aan Jesus se regte geboortejaar gekoppel kan word nie. Die datum waarop Kersfees gevier word, is in die Midde-Ooste ook in die middel van die winter wanneer die herders nie in die veld sou wees nie.

Verskeie tradisies dui aan hoe dit gekom het dat die meeste Christene op 25 Desember Kersfees vier. Volgens die een tradisie het die heidense Noormanne ‘n biskop as slaaf na hul noordelike tuiste gevoer, waar hy dadelik begin het om sy base tot die Christendom te bekeer. Hy het hiermee groot sukses behaal, behalwe dat hy nie daarin kon slaag om hulle van die afgod, Thor te laat afsien nie. Thor, met sy hamer, staan gewoonlik bekend as die dondergod, maar dit sou meer akkuraat wees om na hom as die klimaatgod te verwys, wat in dié ysige wêreld die belangrike taak gehad het om die ysreuse te verdryf sodat dit somer kon word en weer geplant kon word. Om dié oorwinning te vier is daarom op 25 Desember, wat as die middel van die winter beskou is, ‘n “heilige eik” aan die brand gesteek. Die slaaf het dié gebeurtenis gekaap en Jesus se geboorte daaraan gekoppel, en so die houvas van Thor verbreek.

Is dit verkeerd om ‘n vreugdevolle Kersfees te vier?    

Die engel se woorde aan die skaapwagters in die veld: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is,” vestig egter meer as net ‘n tradisie van ‘n vreugdevolle gebeurtenis.

Baie Christene sal toegee dat die vreugde van Kersfees, die kleintydse vreugde en meevoering van die geleentheid, die deelname aan die Kersspel, ‘n groot rol gespeel het om die Christenskap in hulle te laat vastrapplek kry. Daar is seker nie ‘n groter vreugde as om die blye kinderharte te sien nie. Die kind assosieer ook Kerstyd met koestering en geborgenheid.

Baie gesinne en families kom ook om die geopende Woord bymekaar, en die ware boodskap van die Christusfees word oorgedra.

Die oog moet daarop gehou word dat dit in die eerste plek handel om eer aan God. Die fokus van die mensdom het egter so op die mens, in plaas van God begin val, dat ‘n nuwe peiling aantoon dat 17 persent Amerikaners glo dat hulle nou grondwetlik te veel individuele regte geniet, en nog 16 persent onseker is daaroor.

Om ook te deel met minderbevoorregtes word dikwels ‘n abstrakte owerheidskonsep, en die gemeentes se koskaste loop dikwels juis nou, dié tyd van die jaar leeg. Die vereensaamdes voel hul eensaamheid juis nou te midde van ander se vreudesaklusiwiteit nog erger aan.

Die geleenthede om die ware gees van die Christusfees uit te leef is legio.

‘n Geseënde Christusfees word u almal toegewens.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae