Nuuskommentaar: Naamsveranderinge – Kan transformasie en versoening bedmaats wees?

Paul Mashatile, minister van Kuns en Kultuur. Foto: 123people.com

Kan daar gelyktydig transformasie en versoening wees? Die vraag is nou relevant na die minister van kuns en kultuur, Paul Mashatile, tydens ʼn sake-ontbyt gesê het naamsveranderinge speel ’n kritieke rol in die regering se “transformasie-agenda”. Is hy onbewus van die nasionale akkoord waarop die nuwe grondwet gebou is, of is hy moedswillig?

Verskeie ideale word in die aanhef van die grondwet genoem wat duidelik afgestem is op die skikking wat die land in ʼn nuwe grondwetlike bedeling ingelui het. Die FW de Klerkstigting het egter op Vryheidsdag gesê die ANC het reeds op 5 Maart sy voorneme aangekondig om met sekere elemente van die histories grondwetlike verdrag waarop ons nie-rassige demokrasie gegrond is,  en waarop ons toekoms rus, weg te doen. Die ANC het gesê dat die grondwetlike ooreenkomste wat tussen 1990 en 1994 bereik is, niks meer as ʼn “eerste oorgang” was nie.

Van Otto von Bismarck, die strateeg van bloed en yster, is gesê dat hy in vredesverdrae gesorg het dat die verslane vyand nooit verneder is nie. So het Pruise eerder vriende as vyande gewen. Die ou bedeling in Suid-Afrika is nie verslaan nie, en ‘n vredesakkoord is opgestel en onderteken, wat die grondslag van die nuwe Suid-Afrika as grondwetlike demokrasie daargestel het.

Reeds voor die akkoord het dr. Tjaart van der Walt, toe president van die RGN, gewaarsku dat selfs nie beste grondwet in die wêreld sal werk as die mense van die land mekaar nie verstaan en vertrou nie. Boonop het prof. Marinus Wiechers, een van die argitekte van die nuwe grondwetlike bedeling, ook nou in ʼn onderhoud met Rapport te kenne gegee dat daar leemtes in die grondwet is, soos die beskerming wat dit aan taalregte bied.

Kan transformasie en versoening dieselfde kooi deel? Dit is ʼn akademiese vraag solank as wat die regering ʼn transformasie-agenda dryf wat nié op versoening afgestem is nie – in elk geval nie deur beide partye as versoening tot ʼn vredesverdrag ervaar nie. Dan, ongelukkig, adem die minister nie die gees van die grondwet nie, en verbreek hy die ministerseed van getrouheid aan die grondwet.

Die fisiologie van versoening (lees volledige artikel hier) is geen eenvoudige proses nie, en behels ten minste twee “partye” wat met ʼn wedersyds aanvaarde skikking van die onderhandelingstafel terugkeer. Anders is dit ʼn akkoord soos die Vrede van Vereeniging waar een party as oorwinnaar, en die ander as verslane vyande daarvan afkom.

Versoening is nie ʼn eenmalige handeling wat daarna afgeskeep kan word, of van vergeet kan word nie. Die geringstes tot die hoogste bome het ʼn verantwoordelikheid. Daar gaan dit nie net oor naamsveranderinge nie, maar ook die respek vir bestaande name – na weerskante toe. Net soos een groep sensitief kan wees oor name uit hul kultuur nou van name en herinneringe geveeg word, kan die ander groep gesteurd voel oor hoe die plek- en struktuurname van die ander groep uitgespreek word.

Bloot ʼn terloopse voorbeeld: Die ANC hou later vanjaar sy belangrike nasionale konferensie in Bloemfontein, wat algemeen as die Mangaung-konferensie bekend staan. (Mangaung as pleknaam was die ou swart munisipaliteit by Bloemfontein, en is nou die naam van die munisipale struktuur wat ook Botshabelo en ThabaNchu insluit. Dit beteken min of meer “Plek van die Groot Katte.”

In hul oorywerigheid om die ANC ter wille te wees, verwys baie waarnemers en die SAUK ook na die Mangaung-konferensie, maar spreek dit dikwels uit as “Ma- nga- ung” “Ma” is die aanduiding van vroulikheid soos in Matahbo vir Thabo, nga (uitspraak n-ga) beteken stink, en ung is ʼn plekaanduiding.

In ʼn bona fide poging om goed te doen word in wese gesê dat die konferensie in ʼn vroulike plek plaasvind wat stink.

Omgekeerd, om die kultuurerfenis van die Afrikaner te vernietig is nie net ongevoelig nie, en eerder konfronterend as versoenend, en dus ʼn oortreding van die internasionale verdrae wat die land onderteken het, en so deel van die grondwetlike raamwerk geword het.

As die ANC transformasie nie so kan bedryf dat dit versoenend inwerk nie, moet dit liefs laat vaar word. Dan hoef die ANC nie te vra hoekom minder as een persent van sy steun van blankes en Indiërs kom nie, en ook bedroewend min bruin mense vir die ANC stem nie.

Want die regering verbreek die mees basiese beginsel van demokrasie. Dit regeer nie in algemene belang nie – dit regeer in sektorale verband, en daardeur eintlik in niemand se belang nie.

Tim du Plessis sluit gister in Rapport hierby aan, en stel voor dat wat in die land verkeerd is, reggemaak word met dit wat reg is. En waarsku dat al die mense swaar sal kry solank as wat die ANC so vrot regeer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae