Nuuskommentaar: Pessimisme en tekens van die eindtyd?

Argieffoto

Die Afrika-Unie het pas sy 50ste bestaansjaar gevier, terwyl Afrika-pessimisme wêreldwyd, en nie heeltemal sonder rede nie, wyd loop. Ander probeer weer soos ware optimiste die silwer randjie (en daar is een) rek en strek om ‘n rooskleuriger beeld te skets.

Nader tuis is AfriForum pas wyd deur media ‘n deel van die media wat nie tussen die ANC en die land onderskei het nie, van pessimisme oor die land beskuldig. AfriForum het dit ontken, en aangedui dit probeer druk op die ANC plaas om sy destruktiewe praktyke te staak.

Hoewel nie alle eindtyd-tamboerslaners pessimiste en doemprofete is nie – sommiges sien inderdaad werklik daarna uit – weerspieël baie van die internetkommentare tog ‘n soort swartgalligheid in hul verwagtinge. (Ter bemoediging en objektiwiteit, lees gerus die preek, “Oorleef die lewe” op die webwerf van die NH Kerk.

Hierdie nuuskommentaar is nie bedoel om ‘n teologiese geskrif te wees nie, maar om vanuit ‘n nuusoogpunt te kyk of daar nou meer rede vir pessimisme behoort te wees as in vroeëre tydperke in die geskiedenis.

Teoloë wys daarop uit dat die mens hom soms so blind staar teen die einde van die wêreld, dat hy vergeet dat hy self verganklik is en enige oomblik weens ‘n ongeluk, ramp of hartaanval kan sterf. Verder neig sommige mense om “namens” die Vader te besluit wanner die einde kom, en hou dan op om die rol waarvoor hulle op die aarde geplaas is te vervul, en bemoeilik so sake vir hul nageslag in die toekoms baie.

Individue se gebrek aan historiese en argeologiese kennis veroorsaak dikwels dat mense berigte en gerugte van oorloë en rampe as uniek aan hierdie tyd verstaan, en dan as tekens van die eindtye vertolk.

Dié onderwerp het ook reeds by Maroela onder die loep gekom, veral in die konteks van of dit moontlik is om natuurrampe, en in die besonder aardbewings te voorspel.

Die onlangse berig in Maroela Media oor die vlaag groot aardbewings wat die aarde binne 24 uur getref het, het verskeie lesers veral op die bakkiesblad opmerkings laat skryf wat met die tekens van die eindtyd verband hou.

Omdat die Bybel leer dat niemand behalwe die Vader weet wanneer die Wederkoms plaasvind nie, kan nie gesê word dat so ‘n stelling beslis onjuis is nie. Maar eindtydprofete was nog altyd verkeerd (soos wat die Bybel impliseer hulle noodwendig moet wees) en die gewone Christen beskou daarom ook optredes soos dié van twee Amerikaanse Christelike uitsenders wat permanente TV-kameras geïnstalleer het om Jesus se wederkoms “binnekort” by die Tempelberg in Jerusalem af te neem, as laf.

Die onlangse groot meteoriet-ontploffing bo Rusland, terwyl die oë van die wêreld op ‘n ander asteroïde gerig was wat teen die aarde verbygeskuur het, het immers getoon dat die einde amper enige oomblik kán kom. Die ander perspektief is dat asteroïde wat groot genoeg is om wydsverspreide dood en verwoesting te saai, die aarde gemiddeld een keer elke 100 000 jaar tref, en werklike grotes een tot enkele kere elke miljoen jaar. ‘n Asteroïde trek weer binnekort by die aarde verby, maar so ver dat dit nie met die blote oog gesien kan word nie. Dit hou geen gevaar vir die aarde in nie.

Tog het die bekende Britse kosmoloog, Stephen Hawkins, onlangs tydens ‘n besoek aan ‘n stamsel-navorsingsinstituut gesê die mensdom kan alleen sy toekoms verseker deur ook ander hemelliggame te koloniseer. Hawkins meen die mensdom is te blootgestel aan oorloë, ongelukke of selfs ‘n ruimtekatastrofe as hy tot een planeet beperk is.

Hou die mensdom self nie vir homself ‘n groot gevaar vir selfvernietiging in nie?

Die Sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-Moon, het pas gewaarsku dat die wêreld die gevaar loop om binnekort ‘n tekort aan drinkwater te hê. Hoewel die planeet waterryk is, is net ‘n klein deeltjie van die water beskikbaar as drinkwater, en dié word weens ekologiese versteurings weens onder meer klimaatsverandering in gedrang gebring.

Wetenskaplikes is dit min of meer eens dat die klimaat aan die verander is, maar verskil nog in ‘n mate oor hoe groot die mensdom se rol daarin is. Spesialisvelde soos klimapaleontologie en klima-argeologie het ontstaan om te probeer vasstel hoe soortgelyke klimaatveranderings in die verlede byvoorbeeld reënvalpatrone beïnvloed het. Die probleem is egter dat navorsing daarop dui dat juis die mens se invloed  die vrystelling van CO2 in die atmosfeer, daartoe lei dat die reënvalpatrone nie dieselfde is as in vorige warmer tye nie.

Navorsing toon dat skade weens klimaatsverwante natuurrampe aan die toeneem is, maar nie weens aardbewings nie. Sedert 1980 word die wêreld gemiddeld deur sowat 800 natuurrampe per jaar getref, en verlede jaar was dit 900. Slegs in 2011 en 2005 was die koste aan versekeraars meer as verlede jaar. Tog het verlede jaar se rampkoste nie veel lewensverlies gereflekteer nie, met “slegs” 9 500 sterftes wêreldwyd in vergelyking met die gemiddelde wêreldwye sterftesyfer weens rampe oor die afgelope dekade van 106 000.

Die USGS wys daarop dat daar die afgelope twintig jaar ‘n toename in sterk aardbewings gemeet is bloot omdat daar meer seismiese stasies was wat meer aardbewings gemonitor sou kry. Tog, weens die aard van aardbewinggolwe kon afgeleë aardbewings ook reeds dekades lank nie net oor groot afstande gemeet en redelik akkuraat geïnterpreteer word nie, maar ook onderskei word van skuddings wat deur ondergrondse kernontploffings veroorsaak word. Dit is onlangs weer met die Noord-Koreaanse ondergrondse kernontploffing gedoen.

In die Maroela-artikel wat mense so na vlugsout laat gryp het, is op die verskynsel van meer sterk aardbewings die afgelope halwe dekade gewys. Die bedoeling was bloot om op die verskynsel te wys, nie om allerlei onheilspellende gevolgtrekkings daaraan te koppel nie. Omdat dit data uit ‘n beperkte tydsgleuf is wat nie met antieke tye vergelyk kan word nie, kan dit nie gebruik word as maatstaf om te bepaal of daar oor die algemeen ‘n toename in sterk aardbewings is nie.

Argeologiese opgrawings toon dat daar deur die eeue verwoestende aardbewings was in gebiede wat in terme van ons kennis nie gereeld sulke groot skuddings beleef nie, soos Israel. Aanduidings bestaan dat die oostelike deel van die Middellandse See eens deur ‘n magtige tsunami getref is. Navorsing word nou gedoen om te probeer bepaal of die antieke Griekse beskawing dalk weens ‘n groot aardbewing tot ‘n einde gekom het.

(Vrese vir aardbewingsrampe weeg skynbaar min by Suid-Afrikaners wat die land, wat tektonies gesproke hom nie juis tot groot aardbewings leen nie, verlaat en in onder meer Nieu-Seeland, Kalifornië en  die weste van Kanada gaan vestig).

Om van die onderwerp van aardbewings af te stap – op ‘n ironiese manier is die teenwoordigheid van aardbewings ook gerusstellend. Dit toon dat die aarde se tektoniese plate steeds aan die beweeg is, wat beteken dat die konveksiestrome onder die aardkors steeds aanwesig is. Onlangse navorsing deur Franse wetenskaplikes het bevestig dat die aardkern ‘n duisend grade warmer is as wat voorheen gemeen is, en dus warm genoeg is om die konveksiestrome se opwekking van die aarde se magneetveld te verklaar.

Dié magneetveld is baie belangrik vir die beskerming van lewe op die aarde teen kosmiese bestraling. Dit is ook hoekom die internasionale ruimtestasie so na-aan die aarde wentel, sodat die bemanning so veel as moontlik van hierdie beskerming kan geniet.

Maar hoewel die magneetveld baie belangrike beskerming geniet, is die periodieke afwesigheid daarvan, soos wanneer die oriëntasie omswaai, ook nie so dodelik soos eens gemeen is nie. Die ouderdom van Sediba kon byvoorbeeld baie akkuraat bepaal word omdat hulle geleef het toe daar nie ‘n magneetveld was nie, en dié tydperk baie akkuraat bepaal kon word. Tog, wanner die konveksiestrome tot stilstand kom en die magneetveld permanent afskakel, soos op Mars gebeur het, is daar gevolge, soos dat die sonwinde die atmosfeer wegwaai. Curiosity se een stel rekenaars was kort na sy aankoms op Mars buite werking, vermoedelik weens erge kosmiese bestraling, en moes deur die “tweelingstelsel” herlaai word. Dit terwyl Curiosity se stelsels juis goed teen kosmiese bestraling gepantser is.

Die sterftes wat siektes soos die Vigs-pandemie nou wêreldwyd veroorsaak, is ook nie nuut nie. Navorsers het vasgestel dat die kiem wat die Justiaanse pes veroorsaak het wat tussen die sesde en agste eeu meer as ‘n 100 miljoen sterftes veroorsaak het en die Romeinse Ryk laat verkrummel het, dieselfde is as wat die Swart Dood veroorsaak het wat tussen 1347 en 1353 na raming meer as ‘n derde van Europa se bevolking afgemaai het, en die builepes wat teen die middel van die 1800’s oor die wêreld versprei het.

Wat wel baie duidelik is, is dat die mensdom nie kan voortgaan om aan te was soos nou die geval is nie: Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

Die mensdom het lank reeds sy skeppingsopdrag van “vul die aarde” bereik. Die aanwas en ‘n dikwels voortgesette plundermentaliteit van die natuur dui ook nie juis op die aanverwante opdrag om oor die skepping te heers nie.

Tog is daar daagliks miljoene mense wat hul Godgegewe talente inspan om rampe te voorkom, of die impak te versag, en om lyding te verlig.

Die bedoeling hiervan was nié om ‘n Jobstrooster te wees nie. Maroela sou graag wou sien dat sy lesers almal stukkies glimlaggende sonskyn is, maar ook goed ingeligte lesers wat die werklikheid met die regte feite in die oë kan staar.

Geloof en kennis….

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae