Nuuskommentaar: Presies hoe vry is die media in SA?

Terwyl die Kommissie vir Persvryheid onder die leiding van oud-hoofregter Pius Langa voorleggings aanhoor oor die moontlike regulering van persvryheid, is daar meningsverskille oor presies hoe vry die media in Suid-Afrika is.

Formeel is die situasie dat Verslaggewers Sonder Grense Suid-Afrika met ʼn verdere vier plekke op die persvryheidsindeks laat afgradeer het, en die land is nou die 42ste mees persvrye land in die wêreld.  Verskeie Afrikalande soos Namibië, Ghana en Mali vaar beter as Suid-Afrika.

Ook met Freedom House se beoordeling het Suid-Afrika twee jaar gelede reeds teenspoed opgedoen en is tot slegs gedeeltelik persvrye land verklaar.

Die twee instansies gebruik verskillende maatstawwe om lande te beoordeel. Terwyl Verslaggewers Sonder Grense Namibië se persvryheid met dié van Kanada vergelyk, beskou Freedom House Namibië as slegs gedeeltelik persvry, maar Kanada as een van die mees persvrye lande ter wêreld.

Suid-Afrikaanse media-akademici wat einde verlede jaar deur Beeld genader is, meen ook dat Suid-Afrika ʼn veel beter posisie op die persvryheidsindeks verdien. Op die oomblik is daar nog net planne en dreigemente om te snoer.

Verslaggewers Sonder Grense motiveer egter sy graderings, en rig ook waarskuwings aan regerings voor dit afgegradeer word. Tydens voorverlede jaar se ANC-beleidskonferensie het dié waghond byvoorbeeld ʼn sterk waarskuwing oor die beoogde inligtingswet, die beoogde mediatribunaal en Julius Malema se gasvrye hantering van ʼn BBC-joernalis uitgespreek.

Toe dit deur die ANC – en byna voor die voet die Suid-Afrikaanse media – geïgnoreer is, het Suid-Afrika se posisie gedaal. Intussen het die ANC die omstrede inligtingswetsontwerp deur die Nasionale Vergadering gestoomroller, die beoogde mediatribunaal hang steeds soos ʼn swaard oor die kop, die ANC het aangekondig dat hy sy eie koerant gaan begin, en die immer-omstrede Jimmy Manyi het aanduidings van die owerheidsweerhouding van advertensies gemaak. Dit het ook bekend geword dat die regering ʼn firma kontrakteer om sekere joernaliste en media te monitor.

Toe daal die land weer op die indeks.

Die mediawaghonde kyk nie net na die huidige nie, maar ook na wat beplan word, en gebruik die enigste wapen waaroor dit beskik – om ʼn land met sy plasing op die persvryheidsindeks te straf. Verslaggewers Sonder Grense kyk ook na ander aspekte soos in hoe ʼn mate sakereuse persvryheid rig, soos in Griekeland, of in watter mate misdaadsindikate deur intimidasie en selfs moord op joernaliste, die media se vermoë om vry te rapporteer beïnvloed. Brasilië is hieroor swaar op die indeks gestraf.

Koerante, as privaatbesit al is dit deur aandeelhouding, is vry om hul eie politieke agenda te dryf, maar as dit tot inligtingsmanipulering lei, vind die hele land neerslag op die persvryheidsindeks.

Daar is groot meningsverskille oor presies hoe vry die openbare uitsaaier is. Dié uitsaaier bepaal immers watter inligting ʼn baie groot deel van die bevolking bereik. Kan Okasa se lisensievereistes vir gemeenskaps-radiostasies werklik aan die kriteria van mediavryheid voldoen?

Sal koerante wat deur die owerheid met advertensies gesnoep word, werklik met vrymoedigheid dié kwessie na die openbare domein kan neem sonder vrees vir weerwraak vir verdere knype?

Elke tweede persoon sal ʼn eie opinie hê oor in hoe ʼn mate die land deur selfopgelegde sensuur geraak word. Veral kleiner politieke partye is uiters gevoelig hieroor, en sal uiteraard ʼn ander opinie hê as wat byvoorbeeld die DA sal hê, selfs al kyk die kleiner partye objektief na die mate wat hul grootte hul nuuswaardigheid bepaal. Danksy die internet is dit maklik om die trefkrag van verklarings te monitor, en dit raak minder maklik om antwoorde te vind as ʼn verklaring danksy SAPA internasionaal wyd gedra word, groot nuus in een groot koerantgroep is, en deur ʼn ander groot koerantgroep geïgnoreer word. Wanneer dieselfde patroon by herhaling gevolg word, sal dit noodwendig die land se indeksposisie begin beïnvloed. Hierin speel die internet ʼn groot rol, omdat die mediavryheidsmonitors immers ook die internet monitor waar die klein partye hul frustrasie gaan afblaas.

Dit is veral wanneer spesifieke beginselsake ter sprake kom, soos die kwessie van aborsies op aanvraag. Pro-Lewegroepe en -partye het in die aanloop tot vandag se 15de herdenking van die wettiging van aborsies op aanvraag hul bes gedoen vir mediablootstelling – ook die feit dat daar intussen ʼn miljoen babas geaborteer is. Opnames toon duidelik dat die meerderheid, selfs oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners hierdie wetgewing as verkeerd beskou. Onlangs het die Spaanse regering deels oor soortgelyke wetgewing getuimel.

Dit sal interessant wees om te sien hoeveel media-aandag die kwessie van vandag of oor die volgende paar dae geniet wanneer onder meer lewenskettings beplan word. Word dit afgeskeep, kan die media nie maar die kop skud oor hoekom die land die kreeftegang op die indeks gaan nie, en die blaam kan nie net voor die regering se deur gelê word nie.

Maar dan moet pro-lewegroepe ook sorg dat hul voorleggings aan die kommissie voorgelê word.

Regter Pius Langa en sy span gaan Salomo se wysheid nodig hê om tot ʼn gebalanseerde bevinding te kom.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae