Nuuskommentaar: “Regse terreur” en vryheid

Terwyl die land se nuusvergrootglas op die ANC se leierskapskongres gefokus is, het ‘n paar mense tog daarin geslaag om die aandag te trek – vier “regses” wat weens beweerde dade van terreur in hegtenis geneem is.

Die hoeveelheid aandag wat hulle getrek het, is egter ook deels aan die ANC-kongres te danke. Die polisie het inligting dat mense beplan om ‘n tent by die verrigtinge op te blaas opgevolg. Daar is volgens die polisie egter nie bewyse dat optrede teen die kongres beplan is nie.

Dié verwikkelinge volg in dieselfde jaar wat die aangeklaagdes in die sogenaamde Boeremagverhoor na baie jare uiteindelik aan hoogverraad skuldig bevind is. Nog voor die uitspraak was verskeie lewens verwoes.

Dit volg ook in dieselfde jaar as wat Afrikanerdiplomasie ‘n nuwe tydvak betree het, met die speerpunt ‘n AfriForum-Solidariteit-afvaardiging wat pas verskeie belangrike byeenkomste in Europa toegespreek, en ook ‘n paar gereël het.

Vanjaar is die lot van die Afrikaner ook in die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) se jaarverslag opgeneem, en gaan dié organisasies hom ook oor die Afrikaner se saak op die VN beroep. ‘n  Afrikanerberaad wat deur instansies oor ‘n wye politieke spektrum bygewoon is, is gehou.

‘n Ou gesegde lui dat een se vryheidsvegter ‘n ander se terroris is. Omdat guerrillas soms ook terreur as taktiek inspan, is die mees praktiese benadering om nie soseer na iemand se saak of motief te kyk om te bepaal of iemand ‘n terroris is nie, maar na sy optrede. Pogings om ‘n internasionaal-erkende definisie van politieke terreur te probeer vind, laat telkemale ‘n paar erg omgesukkelde rooikatte in die duiwehok los. Individuele lande, veral diktatoriale lande, se eie wetgewing neig om selfs optredes wat niemand se lewe bedreig of vrees inboesem nie as “terreur” te kategoriseer, en so bitter swaar vonnisse te kan oplê wat eintlik op die onderdrukking van internasionaal-erkende opposisie neerkom. Om ‘n orige proffie te teer en veer, of ‘n hardgebakte proffie se ore warm te klap sou ook onder sommige definisies as terreur tel. As “teenvoeter” is baie state van staatsterreur beskuldig, en is hierdie staatsterreur as ‘n groter euwel beskou as terreur deur groepe gepleeg.

Op die vakkundige gebied was daar egter meer eensgesindheid. Terreur neig om nie-selektief te wees in sy teikens, en het dus ten doel om vrees (terror) onder die bevolking aan te plaas, en so burgerlike slagoffers te eis. Die klassieke terroris wil eerder aandag trek op sy saak as om baie mense dood te hê, en daarom word terrorisme ook as “propaganda van die daad” beskryf.

So ‘n definisie sou egter van die grusaamste optredes uitsluit, soos wat in die Balkan gebeur het en nou in verskeie Afrika-konflikte gebeur. Kan massa-verkragtings, hetsy as “strategie” of bloot deur bandelose wellus as enigiets anders as terreur beskryf word?

Soms probeer die terroris die nie-selektiewe aard van sy optrede verdoesel. Die bom voor die militêre gebou op ‘n strandfront was duidelik teen die toeriste op die strand gemik, hoewel die bomplanters aanspraak maak daarop dat die militêre teiken aangeval is. Die skietery in ‘n dameskroeg is “geregverdig” omdat die perseel ook soms deur militêre personeel besoek is. ‘n Landmyn op ‘n plaaspad wat ‘n baba aan flarde geruk het, is “geregverdig” deur die landbouers as deel van die veiligheidsnetwerk te klassifiseer.

Guerrillas word geassosieer met die strategie wat die strydmagte van ‘n land se regering volg, soos die Boeremagte onder meer onder die leiding van genl. Christiaan de Wet. Die Britte se beleid van verskroeide aarde en konsentrasiekampe kan as klassieke voorbeelde van staatsterreur beskou word.

In dié stadium is nog te min bekend om enige oordeel te fel oor of diegene wat nou aangekeer is, enigsins dade beplan het wat as terreur kwalifiseer.

Uit die beskikbare media-inligting en die mildelike inspan van die internet kristalliseer ‘n prentjies van die “tipiese” eienskappe van die “regse terreur-profiel.”

Terwyl nie almal met dié profiel terreur beplan of in die oog het nie, skep dit wel ‘n identifiseerbare groep waarop die veiligheidsdienste hul aandag op kan fokus.  Daar  is gewoonlik ‘n gedeelde godsdienstige oortuiging vreemd aan die hoofstroomkerke, en hierdie oortuigings skep in wese meer as net ‘n motivering, maar ‘n Goddelike opdrag. Hierin lê ook juis die Achilleshiel – ‘n bekende geestelike wat na dekades self nie aangekeer is nie, maar na bewering onbewustelik die veiligheidsmagte met sy reise lei na groepe ondersteuners wat dikwels nog maar in die embrionale stadium is.

Die persepsie is dat daar by dié groep ‘n algehele onbegrip is oor hoe ander Afrikaners van hul oortuigings kan verskil, en die term “verraaier” word maklik gebruik. Die huidige staatkundige bedeling word juis as die produk van verraad beskou, en daarom vind die werklike politieke aksies buite die parlementêre politiek plaas. Bestaande, konvensionele partye word wel “ingesypel” om die veiligheidsmagte op ‘n dwaalspoor te probeer bring.

Daar vind genoeg onderlinge warmbroeiery plaas dat ‘n profiel van woordeskat en opvattings ontwikkel wat na buite soos ‘n seer duim uitstaan en die aandag van die veiligheidsmagte trek. Sou iemand byvoorbeeld die Nazi-massamoord op Jode ontken, kan hy weet het hy die aandag vierkantig op hom gevestig. Met die warmbroeiery word die veiligheidsmagte dikwels onderskat en onderling ‘n persepsie van wye steun gevestig wat tot ‘n uitpratery lei wat ook die ore van die veiligheidsdienste bereik.

Selfs net misplaaste woorde kan die saak van die Afrikaner enorme skade binne- en buitelands berokken. AfriForum het al vanjaar goed die mond uitgespoel oor ‘n misplaaste opmerking op ‘n buitelandse TV-stasie wat die veldtogte van AfriForum en ander erg geknou het.

Baie vakkundiges tref ‘n onderskeid tussen terreur en politieke terreur. Daar is nie ‘n nasionale of internasionale moraliteit hieroor nie. Verskeie lande word deur voormalige terroriste gelei, en is lidlande van die VN. Die PLO het van die grusaamste terreurdade gepleeg, maar die PLO-geleide regering van die Palestyne het nou oorweldigend verhoogde status in die VN gekry. Bygesê, die huidige Fatah-geleide PLO het in so ‘n mate van sy eertydse kultuur afgestap dat Hamas, wat nie deel van die PLO is nie, die rol oorgeneem het. Die oud-Israelse premier, Menachim Begin, kon nooit Brittanje besoek nie weens die dade van terreur wat sy beweging voor onafhanklikheid teenoor die Britse mandaatmagte gepleeg het.

Nie alle terroriste is noodwendig politieke terroriste nie. As die vlakke van wreedheid tydens ‘n groot persentasie van plaasaanvalle in ag geneem word, is baie plaasaanvallers niks anders as terroriste nie. Bedoelend of onbedoeld vorm hulle egter ‘n belangrike instrument in die hande van diegene wat die georganiseerde landbousektor wil ontwrig. In heelwat gevalle is daar min twyfel dat die motief bloot krimineel is, soos waar die aanvallers uit Gauteng met ‘n “inkopielys” van vuurwapens op ‘n Vrystaatse plaas opdaag kort na die boer aansoek vir vuurwapenlisensies gedoen het. Daarenteen sou bewese traagheid of laksheid van die owerheid oor die kwessie as staatsterreur kwalifiseer.

Oud-president Nelson Mandela, wat lewenslange gevangenisstraf opgelê is en nooit geweld wou afsweer nie, word nou wêreldwyd as dié ikon van versoening voorgehou, en ‘n reuse standbeeld met die swartmagsaluut is pas onthul.

Versoeningsdag beteken niks as dit bloot ‘n dag, een keer per jaar, word waar ‘n paar versoenende woorde gepredik word, maar die ander dae van die jaar word gebruik om versoening te beduiwel nie. En as versoening beduiwel word – en ‘n mens hoef maar net die UNPO se verslag te lees – word ‘n teelaarde vir ontevredenheid geskep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.