Nuuskommentaar: Veldtog teen nuwe SEB-kodes

Solidariteit se veldtog teen die nuwe, voorgestelde SEB-kodes dui aan in watter mate die skoen aan die voet verwissel het. Terwyl woordvoerders uit die ANC-alliansie en hul ideologiese meelopers gereeld Solidariteit, Afriforum en ander instansies as “regs” en rassisties brandmerk, dui die telbord op iets heel anders.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê volgens die voorgestelde kodes sal maatskappye se sosio-ekonomiese ontwikkelingsbydraes net erken word indien 100% van die bevoordeeldes swart is. “Daar is geen regverdiging daarvoor om ontwikkelingshulp aan behoeftige mense op grond van ras te bepaal nie. ’n Tienjarige seuntjie in ’n kinderhuis kan tog nie as ’n bevoordeelde van apartheid gesien word nie. ’n Kleuterskool in ’n behoeftige gebied kan tog nie gestraf word net omdat dit swart én wit kinders inneem nie. Boys Town kan nie ontwikkelingshulp ontsê word omdat hulle ’n plek van veiligheid vir ’n ontwrigte wit seun bied nie, en ’n maatskappy kan nie die rug keer op ’n ouetehuis vir ontwikkelingshulp omdat ’n verswakte wit oumatjie daar bly nie.”

Artikel III van die Grondwetlike Beginsels  waaraan Suid-Afrika se grondwet moet voldoen, stel dit onomwonde: “Die Grondwet moet ras-, geslags- en alle ander vorms van diskriminasie verbied en moet ras- en geslagsgelykheid en nasionale eenheid bevorder.

Maar laat artikel I nie die deur oop vir die tipe SEB-kodes wat nou voorgestel word nie? “Die Grondwet van Suid-Afrika moet voorsiening maak vir die instelling van een soewereine staat, ‘n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse burgerskap en ‘n demokratiese regeringstelsel wat daartoe verbind is om gelykheid tussen mans en vroue en persone van alle rasse te bewerkstellig.”

Sou die vorige bedeling, waar die laaste apartheidswet 21 jaar gelede uit die wetboek geskrap is, die enigste oorsaak van algemene rasongelykheid wees, sou daar moontlik ‘n saak vir maatskaplike ingenieurswese wees wat wetties gedryf word. Die ironie is dat die regering sensusgegewens aanhaal om die ongelykheid te bewys, maar ander faktore wat dit veroorsaak wat uit dieselfde sensus blyk, ignoreer.

Die sensus toon byvoorbeeld dat die swart bevolking se aandeel tot die totale bevolking getallegewys van 77,4 persent in 1996 tot 79,2 in 2011 toegeneem het. Die bruin bevolking se aandeel het van 9 persent van 8,9 persent afgeneem, terwyl die wit bevolking se aandeel van 11 persent tot 8,9 persent afgeneem het. Dit mag, veral in die konteks dat pres. Jacob Zuma self meer as 20 kinders het, politiek heel inkorrek wees om daarop te wys dat die deel van die bevolking wat dit die minste kan bekostig, die grootste aanwas toon.

Om die welvaartskeppende deel van die bevolking deur wetgewing en kodes te strem, strem die ganse ekonomie.

Studie op studie toon dat baie leerlinge akademiese agterstande opbou as hul onderwys nie minstens in die grondslagfase in hul moedertaal gelê word nie. Hierin het wit en bruin kinders wat meestal in hul moedertaal onderrig word, ‘n bepaalde voorsprong.

Ongelykhede kan nie doeltreffend teengewerk word deur al die energie in te span om die see te probeer leegpomp nie. Die werklike stremmende faktore moet geïdentifiseer word, politieke korrektheid en populisme moet tersyde gestel word, en skouer aan die wiel gesit word om daardie probleme aan te spreek. Stilswye daaroor is nie een van die oplossings nie.

‘n Staat wat sy rug op die weerlose keer soos hierdie kodes in effek wil doen, is die naam staat nie werd nie.

Maar sal die nuwe kodes die toets van grondwetlikheid kan slaag?

Dit is ‘n onderwerp wat al voos oor geskryf is. Die bedoeling van die grondwet, saamgelees met die grondwetlike beginsels en die internasionale reg, is dat werklike regstellende optrede maatreëls behels om ‘n minderheid te beskerm. In slegs een ander geval was die bedoeling om ‘n meerderheid se agterstande in te haal, naamlik Maleisië. Daar is egter pertinent ook gesorg dat die minderhede, soos die Chinese, nie benadeel word nie, en duidelike sonsondergang is geïmpliseer.

Regstellende aksie is nie ‘n primêre mensereg nie, maar ‘n beperking van die reg op gelykheid en die verbod op onbillike diskriminasie. Die grondwetlike reël vir ‘n beperking is dat dit nie so ingrypend kan wees dat dit die oorspronklike reg vernietig nie. Dit doen die kodes heel duidelik.

Suid-Afrika se grondwet maak dit ook duidelik dat die “regverdiging” vir die beperking op die verbod op onbillike diskriminasie, nie net kategorieë persone as norm stel nie, maar individue ook, en spesifiek waar hul situasie die gevolg van onbillike diskriminasie in die verlede was.  Met die voorgestelde nuwe kodes word ‘n kategorie, swart, tot algehele uitsluiting van die individuele toets ingespan.

Die veldtog teen Woolworths en die hofsaak teen die SA Bloeddiens staan in hierdie konteks, asook die hofsaak teen Korrektiewe Dienste se opdwing van nasionale kwotas op die Wes-Kaap.

Trouens, die grondwet stel ‘n hele spektrum kategorieë, anders as net ras, wat vir regstellende optrede kwalifiseer, mits in die verlede onbillik teen hulle gediskrimineer is, waaronder gestremdheid.

Die ironie is dat die ANC sy eie Vryheidsmanifes, maar algemeen bekend as die Freedom Charter , in die proses verraai. Trouens, in die manifes word dit gestel dat die prediking en toepassing van rassediskriminasie ‘n strafbare misdaad sal wees. Hoe hol klink een van die doelwitte: “… our country will never be prosperous or free until all our people live in brotherhood, enjoying equal rights and opportunities.” Of het die sinsnede “solank jy swart is” wegegval?

Dit lyk al hoe meer of die ANC van sy verklaarde doelwit van nie-rassigheid afgestap het, en eerder fokus op dit wat hom sy magsposisie kan verskans – raspolitiek.

Shawn Hagedorn stel dit soos volg in ‘n uitstekende artikel in Moneyweb: “Defining a common enemy is a long-standing tactic for leaders to rally support. SA’s ruling party’s heritage was defined in opposition to racist policies which is among the many reasons it should now avoid patently anti-white positions. Rather it is increasingly defining its policies and objectives in terms of inequality. This may be clever political packaging but the lasting economic damage threatens everyone’s interests.”

Elke persoon wat selfs net ‘n flentertjie vir die land en sy mense se toekoms omgee, behoort Solidariteit se veldtog te steun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Susan Dames ·

Ons arme wit mense kry reeds so swaar a.g.v. wekloosheid en nou word daar verder teen hulle gediskrimiseer. Ek ondesteun wat julle doen. Hou asb aan met die goeie werk

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.