Nuuskommentaar: Volksmoord en versoening

‘n Boeregesin uit Suid-Afrika wat in die VSA om politieke asiel aansoek gedoen het omdat hulle by hul terugkeer na Suid-Afrika, volgens hulle, rassediskriminasie sal ervaar, is besig om in ‘n debat te ontwikkel.

Word die blanke in Suid-Afrika werklik deur volksmoord in die gesig gestaar?

Word die VN se definisie gebruik, wat dreigemente tot daardie effek insluit, is die saak vir volksmoord sterk. Die VN se Konvensie oor die voorkoming en die straf van Volksmoord wat op 9 Desember 1948 onderteken is, skep min ruimte vir misverstand, en gooi die net wyd. Artikel 2 beskryf wat as volksmoord beskou word:

In the present Convention, genocide means any of the following acts committed with intent to destroy, in whole or in part, a national, ethnical, racial or religious group, as such:
(a) Killing members of the group;
(b) Causing serious bodily or mental harm to members of the group;
(c) Deliberately inflicting on the group conditions of life calculated to bring about its physical destruction in whole or in part;
(d) Imposing measures intended to prevent births within the group;
(e) Forcibly transferring children of the group to another group.

Artikel 3 brei daarop uit wanneer beskryf word wat alles strafbaar sal wees:

The following acts shall be punishable:

(a) Genocide;
(b) Conspiracy to commit genocide;
(c) Direct and public incitement to commit genocide;
(d) Attempt to commit genocide;
(e) Complicity in genocide.

Dit is duidelik uit dié definisie hoekom baie mense argumenteer dat die omvang van plaasmoorde, plaasaanvalle en die regering se toepassing van “affirmative action” op volksmoord volgens die VN-konvensie neerkom. Dis ook moeilik om te motiveer oor hoekom die ANC se appèl teen Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak oor ‘n lied waarin gevra word boere moet geskiet word, nie volgens die VN-definisie op volksmoord neerkom nie. Dit lyk of die Suid-Afrikaanse pakket nou in die VSA se howe getoets gaan word.

Die FW de Klerkstigting, na aanleiding van die debakel rondom die departement van korrektiewe dienste se toepassing van nasionale kwotas in die Wes-Kaap, skryf hieroor onder meer soos volg: “Byna 18 jaar na die skepping van ons nie-rassige demokrasie, word die lewens van al hoe meer Suid-Afrikaners weer eens deur rasse-diskriminasie ontwrig. Ideaal gesien, ingevolge die nuwe ideologie van demografiese verteenwoordiging behoort die getal swart, wit, bruin en Indiër werknemers in ‘n organisasie, die getal bestuurders en die getal raadslede in proporsie te wees met die persentasie van die bevolking wat elkeen van die rassegroepe uitmaak…” en waarsku dat “die resultaat nie rasse billikheid sou wees nie – maar eerder omvattende rasse-oorheersing.

By ‘n onlangse konferensie oor versoening in Bloemfontein het dr. Leon Wessels, oud-NP-minister en oud-kommissaris van die Menseregtekommissie, gemeen in die Suid-Afrika van vandag fokus politici eerder op volgende verkiesings as op versoening. Versoening is elkeen se verantwoordelikheid en kan nie net aan die politici oorgelaat word nie.

Hy neem wel die verantwoordelikheid op hom en sy kollegas deur te meld dat hulle gemeen het die Waarheids- en Versoeningskommissie sou die versoeningsknoop in Suid-Afrika deurhaak. Toe nou nie.

Hierdeur wyk hy effe af van die groep wat, dr. Tjaart vd Walt, destydse RGN-president se waarskuwings ten spyte, gemeen het die grondwet self kan as versoeningswerktuig dien. ‘n Grondwet kan ‘n deel bydra, maar dis meer korrek om ‘n grondwet as die produk van die stand van gesindhede in ‘n land te beskou.

Wessels meen ‘n lang pad lê voor voor die land se mense versoen sal wees. Hy slaan die bal egter aan wanneer hy sy generasie se probleme op die huidige probeer oorskuif: “Elke generasie moet vir sy en haar tyd verantwoordelikheid aanvaar. Mandela, Tutu en De Klerk het ons tot hier gebring. ‘n Nuwe generasie moet ons nou vorentoe vat.”

So eenvoudig is dit nie. Daar rus immers ‘n groot verantwoordelikheid op gister se brugbouers om te vermaan as die volgende geslag in stropers ontaard soos wat nou gebeur.

As elke geslag verbrou en die bal maar gewoon vir die volgende geslag aangee is soos om ‘n ander speler op die rugbyveld uit te verkoop waar sy pale gelig word net mooi wanneer hy die bal in die hande kry.

Om die FW-stigting effe buite konteks aan te haal: “Die probleem lê daarin dat die werklikheid nie so maklik gebuig kan word om aan ideologiese modelle te konformeer nie.”

Elkeen het ‘n verantwoordelikheid, ook die uittredende geslag, en wat insluit dat elke geslag nie net oplossings probeer vind nie, maar foute ruiterlik sal erken sodat die volgende geslag nie met ‘n blok aan die been wegspring nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae