Nuuskommentaar: Apartheid en kolonialisme maak steeds opslae

Spotprent deur Jerm (16 Maart 2017)

Spotprent deur Jerm (16 Maart 2017)

Die diskoers oor premier Helen Zille se gewraakte twiet oor kolonialisme word skynbaar heeltemal buite verband en proporsie geruk. Dat dit gebeur, dui egter op diep foutlyne in die Suid-Afrikaanse samelewing, wat baie voetwerk, hope kennis en wavragte insig vereis.

Die twiet en ’n VN-verslag

In Suid-Afrika woed die herrie steeds voort oor ’n twiet van premier Helen Zille van die Wes-Kaap waarin sy skynbaar uitwys dat kolonialisme ook positiewe dinge gebring het soos ’n onafhanklike regbank. Veel minder prominent was die gevolge van ’n VN-subkomitee se verslag waarin Israel daarvan beskuldig is dat dit ’n “apartheidsbeleid” teenoor die Palestyne voer.

Die Israelse “apartheidsverslag”

In die Israelse geval het groot lande soos die VSA beswaar gemaak, en die sekretaris-generaal van die VN, Antonio Guterres, het die komitee daarvan beskuldig dat hulle die verslag onder ’n VN-logo gepubliseer het sonder om dit vooraf met ander strukture asook die sekretaris-generaal self uit te geklaar het. ’n VN-amptenaar is in die pad gesteek.

Die subkomitee, bestaande uit Arabiese lande, hou vol hulle het die definisie van apartheid volgens die internasionale reg gebruik. Baie Suid-Afrikaners sal voel hierdie definisie, “an institutionalized regime of systematic oppression and domination by one racial group against others,” is nie in die kol nie omdat die einddoel van afsonderlike ontwikkeling immers afsonderlike volledige vryhede behels het.

Hoewel berigte oor die VN-voorval aangebied word as sou die hele ongelukkigheid handel oor die gebruik van die woord “apartheid”, is dit ook duidelik dat die verslag vol foute en bevoordeling is. Die opstellers het klaarblyklik gevoel dat die woord “apartheid” al so ’n strooipop geword het vir alles wat verkeerd is dat enige prulwerk daardeur deur die gebruik van die woord “verskoon” sou word.

Toe nou nie in hierdie geval nie.

Die verslag moes ook onttrek word.

Die Zille-voorval

Die Zille-voorval maak ook ’n ongemaklike draai by definisies. Waar kritiek op haar van die standpunt uitgaan dat kolonialisme wreed, onmenslik en boos was, en dat dit daarom onvanpas is om enigiets positiefs te sê (veral as jy wit is en dus vermoedelik deur oorgeërfde welvaart voordeel getrek het) is definisies wat kolonialisme so beskryf so skaars soos hoendertande. Meestal is die definisies iets soos: “… thecontrolorgoverninginfluenceofanationoveradependentcountry,territory,orpeople.”

Dat die woorde “wreed, onmenslik, en so meer” hierin gelees word, is skynbaar ’n ongeskrewe voorvereiste om enigsins tot die debat toegelaat te word.

Maar is daar dan niks te sê vir die voordele wat instellings soos demokrasie, ’n onafhanklike regspraak, die gebruik van fisieke infrastruktuur en vele meer gebring het nie? Ook die elitistiese gebruik van tale soos Engels, Frans en Spaans?

’n Algemene teenspraak hierop is dat lande wat gekoloniseer is, in werklikheid self onderweg was na soortgelyke ontwikkelings. Dié gedagte is nie nuut nie. Dit is soms moeilik om te bepaal watter oeroue gemeenskappe sekere tegnologie eerste onder die knie gekry het – ’n gemeenskap aan die kus van Suider-Afrika of een in Sentraal-Asië? Dit word tienduisende jare teruggevoer.

In sommige akademiese kringe is die argument dat daar alternatiewe “afleweringsmeganismes” is om beskawingselemente oor te dra as juis deur die onmenslike prosesse wat soms (volgens hulle altyd) met kolonialisme gepaardgaan. Oor presies wat hierdie afleweringsmeganismes is, en oor hoe dit ontsnap van die definisies van neo-kolonialisme is hulle gewoonlik vaag.

Die ontwikkeling van indrukwekkende beskawings van die suidelike VSA tot die Inkas in Suid-Amerika in skynbare isolasie het ’n Amerikaanse argeologiese leerskool tot gevolg gehad wat dit as beledigend teenoor die inheemse bevolking beskou dat die beskawings die gevolg sou wees van antieke kontak met byvoorbeeld die Egiptenare. Goedbedoeld soos dit is, lei dit soms tot groot frustrasie, soos dat die oorblyfsels van ’n Noorse nedersetting van ’n duisend jaar gelede aan die kus van New Foundland reeds ontdek en bevestig was, toe hierdie skool van argeoloë nog daarteen geskop het.

Dieselfde gebeur met bewyse van kontak tussen die inboorlinge van die Amerikas en Polinesiërs, soos die Polinesiërs se stapelvoedsel, patats, wat in Suid-Amerika ontwikkel is. Die Inkas het hul hoenders klaarblyklik ook by die Polinesiërs gekry, soos die genetiese verwantskap tussen hierdie hoenders, en hoenders van die Maori’s in Nieu-Seeland skynbaar bewys.

Die bewyse dat die Sentraal-Amerikaanse bevolkings hul indrukwekkende boukuns, wat piramides insluit, onafhanklik van byvoorbeeld die Egiptiese boukuns ontwikkel het, is oorvloedig. Anders as wat dikwels geglo word, is die wiel wel ontwerp, en byvoorbeeld in speelgoed wat deur honde of ape getrek is, gebruik. Die probleem was eerder dat die tegnologie om ’n sterk genoeg as te bou, ontbreek het. Paaie, soos dié van die Inkas, het dus dikwels trappies bevat.

Volgens die jongste navorsing het van die Meso-Amerikaanse stede ook vorms van demokrasie geken, en in sommige gevalle is daar selfs geen spoor te vind dat hulle ooit konings gehad het nie.

Dit is moeilik om te bepaal tot watter mate hierdie inheemse beskawing kon ontwikkel sonder beduidende blootstelling aan die Westerse beskawing, veral ná die Industriële Revolusie. Isolasiebeleide wat by tye deur die “meerderwaardige” Chinese en Japannese regerings ingestel is, het daardie lande groot agterstande laat opbou teen die Westerse, wat juis toe hul oorspronklike agterstand uitgewis en vinnig ontwikkel het.

Opsommend kan gesê word dit is min of meer volkome raaiwerk oor hoe voormalige kolonies sou ontwikkel het as hulle van ander “afleweringsmeganismes” of die eie ontwikkeling van beskawing in isolasie sou ontwikkel.

Boonop word gans te veel retoriek ingespan soos pres. Jacob Zuma se juweeltjie dat korrupsie ’n Westerse konsep is.

Was alles dan net sleg?

As alle potensiële positiewe elemente van kolonialisme (en apartheid) weg geteoretiseer word, bly dit tog interessant dat sommige mense skynbaar “toegelaat” word om ander “insigte” te hê. In 2010 was daar groot onmin omdat die eertydse Medunsa by Turfloop ingelyf sou word. Die oproerige studente by Medunsa is deur Julius Malema toegespreek, en hy het, aldus die SAUK, gesê alles wat apartheid voortgebring het (die bestaan van Medunsa) is nie net sleg nie.

Presies hoe verskil dit van wat Zille nou getwiet het, veral in die konteks van wat dit gebeur het?

Dit is moeilik om tot ’n ander gevolgtrekking te kom dat die raskwessie so lewend is dat wit mense gewoon nie dieselfde as swart mense oor die kwessie kan/mag sê nie.

Maar is dit nie ook ’n simptoom van ’n dieper probleem in die DA nie? Die storm, ook binne die DA, het losgebars kort ná die debat oor plaasaanvalle. Hoewel die DA se sprekers hard probeer het, en waarskynlik daarin geslaag het, om die kwessie te ontras, het die DA se debatvoering tog die oorhoofse indruk van die “wit standpunt” gedra, selfs al was een van die DA se sprekers swart. Het daar nie intussen in swart DA-geledere ’n ongemak hieroor ontwikkel dat die DA-leier, Mmusi Maimane, na ’n strooihalm moes pluk om dinge te stabiliseer nie, en dat die Zille-aangeleentheid hom daardie geleentheid gebied het?

Dis geweldig kompleks om verskillende historiese opvattings in versoenbare vorm in een huishouding te huisves.

Nasionale versoening

Dis moontlik ietwat van appels met pere vergelyk, maar ’n onlangse opname van die FAK se NP van Wyk Louwsentrum het aan die lig gebring die meerderheid wit mense meen hulle het reeds genoeg vir versoening opgeoffer. In skrille kontras hiermee lui ’n nuwe beleidsbesprekingsdokument van die ANC dat wit mense nie volledig hul kant gebring het nie. Om selfs net die berig hieroor te lees vereis waarskynlik dat die gewone wit mens groot spronge in sy gevestigde opvattings moet maak om selfs net naastenby die logika van die dokument te volg.

Verskillende wêrelde inderdaad.

Waarheen?

Dit is stellig nie die aller-antwoord nie, maar die rasbenepe invloed wat Zuma nou op “sy” deel van die ANC uitoefen, moet gestuit word. Dit is moeilik om te sien hoe dit gedoen kan word sonder dat Zuma tot ’n baie vroeë val kom. Wie ook al in Zuma se plek kom, sal groter insig en leierskap, en gebondenheid tot sy ampseed moet toon.

Maimane sal ook bietjie meer diepgang aan die dag moet lê as om blindelings vir een deel van sy gehoor te speel.

Selfs vir ’n politieke ontleder wat gewoonlik nie skaam is om behoorlik politiek inkorrek te wees nie, is hierdie kwessie so kompleks en netelig dat dit die maklikste is om bloot ’n jellievis te wees en liefs ander onderwerpe te soek om oor te skryf. Dit laat die probleem egter nie verdwyn nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Tali ·

Jy slaan die spyker telkens so (jammer, kan wraggies nie nou aan die Afrikaanse woord vir *eloquently* dink nie) op die kop, Herman. Wens meer mense het jou merkwaardige insig gehad.

Grassie ·

Me Zille het een groot probleem en dit is haar velkleur. Sy kan maar haar hart, siel en verstand ‘n reenboogkleur probeer gee maar ondanks al die jare se gedans, drukkies en gesoenery het haar vel nog steeds spierwit gebly. Sy moet aanvaar sy bly in Afrika en die burgers van hierdie vasteland – en dit sluit die Moesie in wat sy grootgemaak het – sal haar trap soos ‘n “baaisiekel” sodra hulle nie meer nut vir haar het nie. As sy dit nou nog nie besef nie wil sy dit nie besef nie.

Anton ·

…ons kan maar so hard as ons wil probeer om die hand van jammer en gee uit te steek…dit sal nie genoeg wees nie…”never ever”…

Michael ·

Die media is regstreeks verantwoordelik hiervoor hulle gebruik en floreer op hierdie tipe sensasie ongeag wat dit aan die minderheid doen

Stoffel ·

Kyk nounet na Dokumenter oor Angola. Kolonialisme het n pragtige land help bou. Nou net murasies oor. As dit nie vir die paar wit velle was wat in Suid Afrika oor is nie, was dit verseker dieselde geval.

Rynhardt ·

Alles is eensydig by drie Anc-partye, die Anc-regering, DA en EFF!”Coach” Zille het die student (Maimane) geleer, nou het hy teen sy meester gedraai! Net n kwessie van tyd voordat hy teen almal draai wat nie die regte velkleur het nie.Ek sal ook nie verbaas wees as Maimane teen sy vrou draai nie.

Rynhardt ·

n Spesiale boodskap vir Anc, Maimane en DA wit so n obsessie het met wittes!Alles wat wit is, is mos nou sleg of verkeerd. Een of ander tyd gaan albei julle partye weer met internasionale politici wat wit is, in aanraking kom! Hoe gaan julle twee partye(Anc, DA met Maimane)dit hanteer, want talle oorsese politici is ook wit???

piper ·

die groot gros nie-blankes wat ek daagliks mee tedoen kry is vir my geen probleem nie. die probleem le by die mense wat in die politiek is. buite die politiek is hulle nie veel werd nie en sal sukkel met die siviele arbeid omgewing. nou skreeu hulle alle dinge maak nie saak wat net om daardie pos te kan wees. die mense wat nie kan dink glo al die nonsens en stem dan vir hulle. die ander probleem is deesdae dat groepe gewapende rowers toeslaan om een plek te moor en roof. al is jy gewapen het jy nie n kans teen die gewapende rowers nie.

piper ·

maimane se optrede teenoor zille gaan die DA baie stemme kos. my stem is daarmee heen asook al my vriende se stemme. ek het op stemdae vi die DA gewerk maar nou nie weer nie.

Adam ·

Sommige mense in SA is hopeloos te sensitief. Alles, maar alles, is ‘n mengsel van positiewe en negatiewe elemente en kolonialisme ook en natuurlik het dit ook postiewe dinge tot gevolg gehad. Zille is korrek en haar uitlating word uit verband geruk bloot weens die feit dat sy blank is. Ek is nie ‘n Zille aanhanger nie, maar glo dat sy ‘n meer betroubare politikus is as Maimane. Lg probeer ‘n te diverse ondersteunerspoel tevrede hou en glo my, indien baie van sy politieke trawante hulle sakke in ANC geledere kon vul, sou hulle nooit onder die DA sambreel ingekruip het nie. Dit is een van SA se grootste probleme. Ons het ‘n swak regering, ‘n wankelrige amptelike opposisie en populistiese narre met ‘n kort rakleeftyd. Geen wonder ons leef in ‘n welsynstaat waar enorme bedrae uitgedeel word terwyl die boonste echelons boonop korrupsie pleeg asof dit ons nasionale sport is nie. Dalk moet ons regering maar kyk wat in die verlede gewerk het en dit probeer naboots. Hulle het duidelik bewys dat hulle nie uit eie beweging genoeg van waarde gaan uitrig nie.

Gerrie Malan ·

Een ding staan in Suid-Afrika, soos in die res van Afrika, soos ‘n paal bo water – te veel mense is so vasgevang deur die verlede dat hulle die toekoms verpas. Erger nog, hulle weerhou deur hul houding ander van hul eie groepe van die toekoms. Wat sou ek ontwikkelingsgewys kon bereik het as ek my lewe lank geteem het omdat die Engelse die vroue en dogters van ons voorgeslag so uitgemoor het in die konsentrasiekampe? Hoeveel miljoen wit Afrikaners sou daar nie vandag gewees het as dit nie vir die Engelse was nie? Maar ons voorouers het daardeur beweeg met hul koppe omlaag en harde werk.

Leendert ·

Hulle sê mos ‘as jy A sê, moet jy ook B kan sê’. Nou, ek dink hier lê die groot probleem, as hulle toegee dat Kolonialisme nie als sleg was nie, moet hulle dieselfde ook oor Apartheid toegee, en dan bars hulle seepbel. Dan is hulle bang hulle dryf teen BEE en die wit mense word ook afgewater.

Johannes Meintjes ·

Inderdaad, “apartheid” en “kolonialisme” was sleg! Nieu-kolonialisme en die huidige omgekeerde apartheid in SA is nog baie slegter!

Valie ·

Mielies het ook as resultaat van “kolonialisme” op SA borde beland. SA sonder mieliepap sou waarskynlik veel anders daar uitgesien het..

Paul ·

Om ‘n beleid te verdedig omdat die “einddoel” konsuis goed sou wees…

Daarmee kan enigiets wat Lenin en Stalin gedoen het, ook goedgepraat word, Herman.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.