Nuuskommentaar: Die beloftes van gratis tersiêre onderrig

‘n Student word Woensdag in hegtenis geneem. (Foto: Michele Spatari / AFP)

Linksgesindes of meer progressiewe denkers sê dikwels dat konserwatiewes nie oor arm mense omgee nie, juis omdat ons nie groot herverdelingsprogramme, maatskaplike toelae, gratis onderrig, en so meer so vreeslik ondersteun nie. Indien ʼn mens oor hulpbehoewendes omgee, móét jy dus reuse-regeringsgeborgde programme voorstaan.

Dit is egter nie waar nie. Konserwatiewes sien dieselfde probleme as linksgesindes raak. Niemand hóú van arm en agtergeblewe mense nie en die meeste mense wil hê dat dit met die meeste ander mense goed moet gaan. Konserwatiewes se antwoorde op dié probleme lyk bloot anders.

Linksgesindes meen dat oplossings vir ons probleme staatsgedrewe moet wees. Konserwatiewes meen weer dat die privaat sektor deur welvaartskepping hulpbehoewendes moet ophef. Meer gemeenskapsgeoriënteerde konserwatiewes meen bykomend dat die gemeenskap intussen hulpbehoewendes moet ondersteun en bystaan, totdat hulle op hulle voete kan kom.

Hierdie verskil in oplossing kom ook voor in die debat oor gratis tersiêre onderrig. Die onlangse betogings by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) het weereens die probleem geopper.

Thomas Sowell, bekende Amerikaanse ekonoom, meen: “Die eerste reël van ekonomie is skaarsheid: daar is nooit genoeg van enigiets om almal wat dit wil hê tevrede te stel nie. Die eerste les van die politiek is om die eerste reël van ekonomie te ignoreer.”

Regerings is lief daarvoor om probleme met staatsfondse en -beloftes op te los. Hulle wil graag soveel moontlik gratis goed vir soveel moontlik mense uitdeel. Sedert 1994 het die ANC-regering toenemend en voortdurend gratis regeringsdienste en -voordele belowe. Dit alles met die doelwit om die hulpbehoewendes en agtergeblewenes op te hef. (Hoewel ʼn goeie sentiment, is dit bloot nie volhoubaar moontlik nie.)

In die #FeesMustFall-betogings in 2015 het die regering voor betogers en hulle vereistes geswig. In 2017 het oudpres. Jacob Zuma net voor sy uittrede amptelik gratis tersiêre onderrig aangekondig, sonder om die tesourie ooit te raadpleeg oor die moontlikheid daarvan. Dit is ʼn lieflike belofte om te maak, maar regtig ʼn ander saak om dit na te kom.

Soos die meeste ander dinge in die lewe kan tersiêre onderrig nie gratis wees nie. Iemand moet iewers langs die pad daarvoor betaal. Diegene wat iets soos gratis tersiêre onderrig voorstaan, ondersteun eintlik dan die gedagte dat iemand anders daarvoor moet betaal. Sommiges omdat hulle dit regtig nie self kan bekostig nie. Ander omdat hulle bloot voel hulle verdien dit.

Die ANC kon vir lank baie van sy beloftes nakom. Solank die belastingbetalers die regering geborg het, kon hulle al daardie inisiatiewe finansier.

Nou begin die ANC egter die probleem ervaar wat altyd na vore sou kom – die eerste reël van ekonomie kom hard in konflik met die eerste reël van politiek. Hulle begin ʼn skaarsheidsprobleem aan die finansiële kant ervaar, maar moet steeds oneindige beloftes nakom.

Enige hulpbehoewende wat ʼn pad uit armoede soek, gaan hulp aanvaar waar hulle dit kan kry. Indien dit in die vorm van gratis tersiêre onderrig is, gaan hulle dít ondersteun. Die regering wat al hoe meer sukkel om gratis tersiêre onderrig te finansier, is nie die studente se skuld nie, maar die regering se eie skuld. Dit is hy wat daardie beloftes gemaak het, sonder enige waarborg dat hy dit kan nakom.

Een van die lesse wat stelsels soos sosialisme en kommunisme ons al herhaaldelik geleer het, is dat regerings nogal sleg daarmee is om hulpbronne in die ekonomie uitstekend aan te wend. Regerings wat besluitneming wil sentraliseer en beheer, neem uiteindelik besluitneming weg van mense en werklikhede op grondvlak. Sodoende word die besluitneming al hoe lomper en word die skaars hulpbronne al hoe slegter aangewend.

Gegewe die skaarsheidsprobleem, is dit nie volhoubaar nie. ʼn Mens moet daarom ʼn stelsel ondersteun wat soveel moontlik mag, invloed en besluitneming van die regering ontneem. Wanneer miljoene mense die kans kry om soveel moontlik besluite oor hulle eie lewe te neem, word hulpbronne beter aangewend. Besluitneming én verantwoordbaarheid lê sodoende by miljoene individue, eerder as een regering.

Sodoende kry jy ʼn meer volhoubare stelsel van besluitneming en besteding. Die probleem van die regering wat met ander mense se geld gratis alles beloof, verklein dan. Selfverantwoordelikheid, verantwoordbaarheid en beheer oor jou eie lewe verhoog, terwyl staatsafhanklikheid verlaag.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Hoër vlakke van opleiding is noodsaaklik in ons land. Soos wat ons nou baie vinnig besig is om te leer, is dat dit nie op ʼn volhoubare basis gratis deur die regering verseker kan word nie. Indien ons hoër en meer volhoubare opleidingsvlakke wil hê, gaan ons na ander oplossings moet kyk.

Die privaat sektor en die vrye mark is uitstekend daarmee om skaars hulpbronne so goed moontlik aan te wend. Die stelsel van individuele besluitneming en gepaardgaande verantwoordbaarheid skep ʼn meer volhoubare meganisme vir ontwikkeling. Indien die privaat sektor versterk word, gaan mense se finansiële vermoëns ook versterk word. Verder gaan die privaat sektor dan ook meer vermoëns hê om mense deur middel van beursprogramme deur hulle opleiding te help.

Dan moet die gemeenskap ook sy rol vervul in die tussentydse ondersteuning van hulpbehoewendes. ʼn Sterker ekonomie gaan mense nie oornag kan ophef nie. Daarom moet gemeenskapsorganisasies soos kerke en niewinsgewende organisasies en programme ook versterk word om as maatskaplike vangnet te dien. Sodoende belê gemeenskappe ook in die welstand en sukses van sy eie mense. Weereens word verantwoordbaarheid en vermoëns nader aan mense gebring.

Die oomblik dat alle verantwoordelikheid by die regering lê, vergroot die risiko op mislukking. Die oomblik dat verantwoordelikheid, besluitneming en mag tussen die verskillende sfere van die samelewing verdeel word, verhoog die moontlikheid op volhoubare sukses. Sodoende vervul elke sfeer van die samelewing sy eie rol in die vorming van ʼn beter samelewing.

Konserwatiewes se oplossings wat anders lyk, dui nie op ʼn tekort aan simpatie nie. Dit dui juis op die vertroue in ʼn stelsel wat die einste probleme beter op lang termyn sal kan oplos.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Fedup ·

Monica, now this is a great piece you have written. I mostly ignore the lefties and conservatives. Common sense, you know.
Now to the point.
In richer countries free learning, housing and so forth is possible.
But, in a 8th world country and i am no just talking about this one, a circus can make promises that others have to pay for.
We as tax payers should consider a revolt. We cannot keep our own heads above water and pay for those who just stand hand out stretched.
Those clowns who make this promises, they can pay for all that “free stuff”.
Sorry, but we are done taking care of everyone. We cannot do this anymore.

Henk ·

Ek glo die SAPS is met hulle rue teen die muur, daar word van hulle verwag om teen misdade op te tree maar as hulle werklik opstaan en die wet toepas dan word hulle vervolg. NOU HOE NOU!!!!!! Daar is nie meer n lyn tussen reg en verkeerd nie. Alles hang af van wie jy is en hoeveel geld jy verdien.

JohanR ·

Dis maar soos ‘n ANC kospakkie of ‘n T-hemp met Kopdoek se gesig op gedruk(ugh!) net daar vir stemme by die stembus.

Jacobus ·

Uitstekende skryfstuk. Jammer om dit wéēr te noem, Biden se eerste aksie was om ‘n asemrowende bedrag te begroot vir maatskaplike hulp. Die omvang van hulp pakkete in VSA is reusagtig meestal sonder ‘n ‘n verwagte teenprestasie. Maar die motief en rede is dieselfde as in RSA. “STEM VIR MY”. Ons probleem is dat ons belasting basis dit nie kan hanteer nie en die gemiddelde belasting betaler word by die dag armer.

Samuel ·

Absoluut skitterende kommentaar, Monica Mynhardt! Doe so voort.

anko ·

Wanneer jy self betaal vir enige iets, waardeer en respekteer jy meer. Ek moes werk vir dit wat ek wou hê in die lewe. My ouers kon ons kinders nie stuur na univesiteite of kolleges nie, want hulle het nie die fondse gehad nie. Ons moes dit so aanvaar en moes uitgaan om ons self te verbeter, wat nogals ‘n uitdaging was. Vir gratis goeters is daar min respek en waardeer nie wat ontvang word nie. Geld groei nie aan bome nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.