Nuuskommentaar: Die IS: Internasionale terreur sal nooit weer dieselfde wees

Skermskoot uit die video van die Britse hulpdienswerker, David Haines, se onthoofding

Skermskoot uit die video van die Britse hulpdienswerker, David Haines, se onthoofding

Opsomming

As daar een ding is wat Suid-Afrika baie vinnig met die opkoms van die Islamitiese Staat-beweging en sy “kalifaat” moet leer, is dit dat hy sy buitelandse beleid nie maar op opportunistiese bevliegings en gedryf deur die SAKP se agenda teenoor Kuba, Zimbabwe en ander kan rig nie. Iewers gaan die vingers verbrand word.

Dis leeuwêreld daarbuite, en die IS het ’n geheel nuwe dinamika ingelui.

Baie onlangs het min mense nog van die Islamitiese Staat, beter bekend as IS, gehoor. Maar dié terreurorganisasie, wat selfs vir Al Kaïda te erg was, het hom behoorlik laat geld. Die onthoofding van Westerse joernaliste en die plasing van dié rituele op die internet, was skynbaar die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het, maar dit wat die IS reeds ’n geruime tyd in sy self uitgeroepte kalifaat gepleeg het. Die wrede vervolging van Christene kon nie langer die aandag van die Westerse media ontglip nie.

Boonop het die IS veral in Irak, baie skielik baie groot dele van die land beset en selfs die hoofstad Bagdad bedreig.

Die IS en sy geaffilieerde en verwante organisasies, is nie tot die Midde-Ooste beperk nie. Dit is ʼn internasionale verskynsel, selfs nog voor dit sy stryd behoorlik geïnternasionaliseer het. Die eintlike wraak kom nog.

Volgens berigte is die meeste van die IS se manskappe nie Irakese en Siriërs nie. ʼn Groot persentasie kom uit Tunisië. Die werklike klip in die maag vir die weste is dat baie van die IS se manskappe sogenaamde jihadgangers met Westerse opvoeding is. Jong Moslems uit lande soos die VSA, Brittanje, Frankryk, België, Nederland en Denemarke glip uit hul lande en gaan sluit by die IS aan. Baie wil ’n soort diensplig gaan doen, en dan na hul lande terugkeer. Heelwat word ook in die proses onderskep.

Vir die weste is dit nie net ʼn groot kopseer oor waar hul liberale opvoeding verkeerd geloop het nie, maar goed opgeleide en hoogs gebreinspoelde jong radikales keer terug na waar hulle nou dikwels werkloos is. Hul het Westerse burgerskap en paspoorte. Hulle is by wyse van spreke lopende selfmoordbomme met bewegingsvryheid wat ’n plek soek om af te gaan.

Om internasionale terreur te bekamp was nog altyd baie moeilik. Al Kaïda het nuwe standaarde aan die moeilikheidsgraad gestel, maar die IS oortref selfs dit. Die Salafistiese vertakking van die Soenie is ten nouste verwant aan die Wahabitiese van Saoedi-Arabië en maak die vind van vennote teen terreur, kompleks moeilik.

En die terreurspoor van die Salafisme, of eerder neo-Salafisme, loop wyd deur Al Shabaab van Somalië, Boko Haram van Nigerië en die praalgrafverwoesters van Timboektoe. ʼn Filiaalorganisasie het pas in Algerië ʼn Franse burger onthoof.

Die teenoffensief word goed aangevul deur soldate en vliegtuie uit ander Arabiese lande. Dis kompleks, want op die grond moet die nie-Arabiese Koerde ’n belangrike rol speel, en dit maak Turkye ongemaklik. Die 100-jarige herdenking van die Armeense en Koerdiese volksmoorde aan die hand van die Turke kom immers nader.

Die Siriese regering is nou ʼn wedersydse onwillige vennoot, sodat die Weste nou in effek saam met Hisbolla, ’n verklaarde terreurorganisasie, teen die IS veg.

Suid-Afrika is nie bloot ʼn passasier in hierdie stryd nie, en moet weens die duidelike invloed van Moslems in die ANC se formulering van buitelandse beleid, ’n deeglike begrip hê oor watter vertakking van die Islam se invloed sterker as ander behoort te weeg. Verkeerde keuses kan die wêreld vir Suid-Afrika baie, baie moeilik maak, en onder die ergste scenario, ’n teikenland vir internasionale terreur maak.

Veranderende dinamika

In die dae van Carlos die Jakkals, die Italiaanse Rooi Brigades, die Duitse Rote Armee Fraction (Baader-Meinhoffs), die Japannese Rooi Leër, die PLO en ander, is in vakkundige literatuur graag na internasionale terreur as oorlog deur afstandbeheer verwys.

Die agtergrond was die Koue Oorlog. Weens die (kern)-magsbalans kon die groot vyandige moondhede nie regstreeks aandurf nie, en is geargumenteer dat iemand anders toegerus word om die vuil werk te doen. In ʼn stadium het dit selfs lewe in die geopolitiek geblaas, en is dit soms geostrategie genoem. So kon strategiese dele van die wêreld geïdentifiseer word, hetsy suiwer geografies, of weens die teenwoordigheid van waardevolle grondstowwe. En sowaar, daar sou byna onvermydelik ʼn insurgensiestryd in die omgewing wees.

Suid-Afrika, wat die Kaapse seeroete beheer, was ʼn mooi voorbeeld met die ANC en die PAC, veral wat die kommuniste se marionetstryders sou wees. By die horing van Afrika was dit nie anders nie. Die Suezkanaal was naby die Palestynse onvrede. Die Montenero’s van Argentinië en die MIR is van Chili is gerieflik met die suidelike deurgang verbind, en rondom die Panamakanaal was daar in min staatjies nie rewolusionêre groepe in konflikte betrokke nie.

Die Baskiese terreur is selfs met die strategiese waarde van die Straat van Gibraltar in verband gebring, en die onafhanklikheidstryd van Wes-Sahara van Marokko ook.

En toe kom daar ’n (minstens voorlopige) einde aan die Koue Oorlog. Internasionale terreur raak uit die openbare oog tot Al Kaïda ’n heel nuwe dinamika inlui. Veral die aanval op Amerika het dié organisasie, en sy leier, Osama bin Laden, baie bekend gemaak.

Nie dat die gedagte van “oorlogvoering deur afstandbeheer” heeltemal die wyk geneem het nie. In ’n nuwe artikel oor die dinkskrum van pres. Wladimir Poetin van Rusland, Izborsk, blyk dit dat die deelnemers die Koue Oorlog nog deeglik volgens hierdie doktrine ontleed. Maar anders as wat Westerlinge gewoond is, is dit nie Rusland en sy destydse kommunistiese bondgenote wat die oorlog voer nie, maar die VSA. Die VSA maak nie primêr van terreurgroepe gebruik nie, maar van die superrykes binne die lande wat hulle as vassalstate wil insluk. En natuurlik word Oekraïne heel eerste as voorbeeld genoem, en die hele verloop daar uitgelê. Die superrykes en hul korrupsie het hul eie agenda. Toe Oekraïne te na-aan Rusland beweeg, het hierdie “terroriste” onder aanstigting van die VSA ’n staatsgreep uitgevoer en van pres. Viktor Janoekovitsj ontslae geraak.

Natuurlik versuim die dinkskrum om te meld dat Janoekovitsj danksy die korrupsie en plundering van staatsbates waarskynlikste die rykste van almal was, en dat sy eie party hom later uitgeskop het.

Kortom, die oorlog deur afstandbeheer-gedagte is nie dood nie, maar die vernaamste terreurbewegings het min erg daaraan om iemand se marionette te wees, of vir enigeen van strategiese waarde te wees. Nou is dit soms bitter moeilik om te weet wie vriend, en wie eintlik ʼn vyand is, maar om strategiese redes (vir eers) soos ʼn vriend moet dien.

Die Koue Oorlog herleef

Die opkoms van Al Kaïda, maar veral die IS, het sekere elemente van die Koue Oorlog weer terug op die speelveld geplaas.

Truman-doktrine: Die Amerikaanse beleid tydens die presidentskap van pres. Harry. S. Truman het behels dat die VSA die rol van ’n internasionale polisieman sou speel, om vry volke deur militêre en ekonomiese hulp by te staan om veral hul bedreiging teen die Sowjet-Unie en kommunisme te beskerm. Dit is soms ook die “containment policy” genoem omdat dit ten doel gehad het om kommunisme te beperk tot die lande waar dit reeds die bewind oorgeneem het. In ’n sekere sin was dit ’n reaktiewe beleid omdat die Russe in die era regstreeks van die Tweede Wêreldoorlog die weste ore aangesit het en ʼn hele rits Oos-Europese lande agter die Ystergordyn ingeboender het. In die praktyk is nie altyd baie gelet of die lande wat teen die kommuniste beskerm moes word, se regerings inderdaad demokraties was nie. In eenvoudige terme het die radikale Islam die plek van die kommunisme in hierdie doktrine ingeneem.

Eisenhower-doktrine: Die beleid na generaal Dwight Eisenhower president van die VSA geword het, is gekenmerk deur die toestemming van die Kongres dat enige land in die Midde-Ooste wat deur kommunisme bedreig word, met troepe te hulp gesnel kon word. Die vestiging van demokrasie was geen noodwendige vertrekpunt nie, en is situasies gestabiliseer deur byvoorbeeld die monargieë van Jordanië en Irak te bestendig. Weer eens kan “radikale Islam” in die plek van kommunisme in hierdie doktrine ingeskryf word.

Mettertyd is Amerikaanse hulp wêreldwyd gekoppel aan die vestiging van demokrasie en die teenkanting teen korrupsie. Hoewel die absoluutheid daarvan gedurende die presidentskap van pres. Barack Obama veral in Afrika versag het, het dit nie heeltemal verdwyn nie, en sy besoeke aan Afrikalande suid van die Sahara was grootliks beperk tot die lande wat die beste op die persvryheids- en korrupsiepersepsieindekse gevaar het. Ook sy ministers se besoeke is steeds gekenmerk deur regstreekse vermanings aan byvoorbeeld Nigerië om korrupsie hok te slaan, terwyl Suid-Afrika in die Zuma-era etlike “winde van verandering”-toesprake en lesings moes aanhoor – weliswaar baie subtiel, maar in sterk kontras met die era van John F. Kennedy toe die ANC feitlik onverbloemde steun en bewondering geniet het – noue bande met die Sowjet-Unie ten spyt.

Dit is hierdie idealisme wat ook na die Midde-Ooste gedra is, en wat met pres. George W. Bush se Amerikaans-geleide inval in Irak beoog is. Baie simplisties gestel, die diktator Saddam Hoesein moes verwyder word en ’n demokrasie moes in die plek daarvan gestel word. Midde-Oosterse kenners en kenners van die Islam het gemaan dat die VSA sake heeltemal te simplisties benader, en boonop die hele situasie ontleed asof met ʼn Westerse land en omgewing gewerk word.

Oorlog teen terreur

Die doel van die oorlog teen terreur na die aanvalle op Amerika was om Al Kaïda te vernietig, en enige soortgelyke organisasies te ontmoedig om eens hoegenaamd te dink daaraan om terreurdaad by die ideologie te voeg. Dit sou behels dat enige land wat skuiling en logistieke steun aan Al Kaïda sou bied, die gevaar van selfs ʼn militêre inval loop.

Die bewind van die Taliban in Afganistan, wat ten nouste met Al Kaïda verweef was, is met ’n Amerikaans-geleide inval omver gewerp. Al Kaïda-leiers is wêreldwyd gejag – soms deur spanne van die “Seals” ontvoer en na die VSA geneem om uiteindelik verhoor te word, of is deur die gevreesde “drones” (afstandbeheerde vliegtuie) gebombardeer en uitgeskakel. Op die tuisfront het die sogenaamde Patriot Act en die geriewe by Guantanamobaai in Kuba effektief weggedoen met die normale regspraktyke. Dit berus op ʼn uitgebreide intelligensie-vermoë eerder as die justisieproses.

Die maniere waarop intelligensie wêreldwyd ingesamel is, en waarskynlik steeds ingesamel word, het groot spanning veroorsaak omdat so hard probeer word om nie leemtes te laat nie dat selfs telefoongesprekke van vriendskaplik-gesinde regeringsleiers meegeluister is.

Die Islamitiese Staat (IS)

Pas het pres. Barack Obama erken dat sy land die opmars van die IS gruwelik onderskat het. Toe die IS enkele maande gelede groot dele van Irak stormende hand verower en sy “kalifaat” uitgeroep het, het min mense nog van hierdie organisasie gehoor, en was dit duidelik dat die VSA se intelligensie oor die organisasie uiters gebrekkig was. Trouens, dit was glad nie gerat om ’n oog oor dié organisasie te werp nie.

By terugskoue is dit moeilik om te verstaan hoekom die wêreld nie vroeër deeglik kennis geneem het nie. Daar het immers reeds, danksy dapper joernaliste, ’n redelike stroom inligting die internasionale media bereik oor die afskuwelike gruweldade wat die IS toe reeds in Sirië gepleeg het, só erg dat Al Kaïda die IS se affiliasie opgeskort het.

Voorts was talle Wes-Europese lande, soos Frankryk, Brittanje, Nederland, België en die VSA toe reeds baie bekommerd oor van hul jong mense wat weggeglip het om ’n soort “diensplig” vir die IS te gaan verrig. Hulle het die naam “jihadgangers” gekry. Die webwerwe waar dié jong mense gebreinspoel is, is selfs reeds geïdentifiseer, en so ook die moskees wat met die proses geassosieer word.

Voorts was organisasies uit dieselfde dampkring wêreldwyd baie bedrywig, soos Al Shabaab in Somalië met die aanval op ʼn winkelsentrum in Kenia; Boko Haram in Nigerië waar die ontvoering van jong skoolmeisies ’n internasionale verontwaardiging ontlok het; en in Mali waar die ekstremiste talle Moslem-heiligdomme in Timboektoe, waaronder praalgrafte, vernietig het. Oral is die mees ondenkbare wreedhede gepleeg.

Maar wat is hierdie dampkring?

Die Islam is in twee hoofgroeperings verdeel, naamlik die kleiner vertakking, die Sjiïete, en die groter vertakking van Soenniete. Die Sjiïete, soos wat in Iran, en na die omverwerping van Saddam, in Irak aan bewind is, bestaan weer uit ʼn aantal sektes. Pres. Bashar al Assad van Sirië behoort tot die Alawiete, wat ʼn sekte van die Sjiïete is, en wat verklaar hoekom Iran Assad so openlik steun. Die Sjiïete, en dus die Alawiete, maak ’n taamlike klein minderheid in Sirië uit, maar hou tog ʼn beergreep oor die land se regering. Waarskynlik die bekendste terreurbeweging uit hierdie dampkring is Hizbollah van Libanon, wat aan die kant van Assad in die burgeroorlog gaan veg het, en die militêre skaal in Assad se guns geswaai het.

Die Soenniete bestaan ook uit ʼn aantal sektes. Oor die eeue het die Salafiete en die Fahtimiste mekaar as die radikale element afgelos, maar ’n ekstreme vertakking van die Salafiste, wat die neo-Salafiste genoem kan word, is nou die onbetwiste radikale. Die oë van die wêreld was so skerp op die Al Kaïda-manifestasie gevestig dat die opkoms van ’n horde ander organisasies byna ongesiens verbygegaan het. Die IS is een hiervan, wat nie net in Irak nie, maar deur sy Siriese front, die al-Nusra-front onlangs met ʼn reuseoffensief in die rigting van Turkye begin aanbeweeg het. Die al-Nusra-front en soortgelyke Al-Kaïda-geafflieerde groepies, het in ’n burgeroorlog binne ’n burgeroorlog die oorspronklike pro-demokrasie groepe wat die opstand teen Assad begin het, reeds so ernstig geknou dat hulle kwalik meer ’n rol te speel het.

Dit is in ʼn erg fundamentalistiese beskouing van die Islam waarin die IS hom vestig, sterk beïnvloed deur die neo-Salafisme, en waar dit kom, die sharia streng toepas. Maar ook so dat verskeie waarnemers daarop wys dat die IS eintlik glad nie Moslem van aard is nie. Dit word eerder as ’n politieke beweging beskou – dalk as deel van ’n anti-IS-propaganda-veldtog.

Heterogeniteit

Die gebiede waar die IS betrokke is, is nie homogeen Arabies nie, en ook nie homogeen Islam nie. Afgesien van Christene, dikwels Assiriërs en Armeniërs, is daar die Yasidi’s wat ’n soort “menggodsdiens” beoefen en vir fundamentalistiese Moslems ’n gruwel soortgelyk as ʼn animistiese geloof is. Daar is groot getalle Koerde, wat Indo-Germane is en dus nie Arabiere nie. Daar is ook ’n Turkmeense bevolking wat nie Arabies of Indo-Germaans is nie. Hierdie Turkmene beleef al lank van alle kante erge diskriminasie en selfs vervolging.

Die Koerde, wat oor ʼn gebied verspreid oor Sirië, Turkye, Irak en Iran woon, het met die opkerf van die ou Ottomaanse Ryk geen tuisland gekry nie. Hulle is by tye deur al die lande waarin hulle woon erg vervolg, en herdenk oor enkele jare saam met die Armeniërs en Assiriërs ’n eeu sedert die volksmoorde aan die hand van die Turke. Turkye, wat al onder erge terreur van hierdie groepe deurgeloop het, is dus hiper-gevoelig oor hoe hy in sy eie belang in die stryd betrokke moet wees. Na die eerste Amerikaans-geleide inval in Irak het die Koerde danksy ʼn vliegspergebied binne Irak ’n soort tuisland gekry, wat na die tweede inval ’n gebied met ʼn mate van federale outonomie gekry het. Planne vir volkome onafhanklikheid is ver gevorder.

Die Koerde is nie beïndruk daarmee dat die IS sy grondgebied ingeval en dele verower het nie, al was dit hoofsaaklik in sy jagtog op Yasidi’s.

Die gevolg van hierdie kompleksiteit is dat bykans enige betrokkenheid, selfs om lewens te red, iewers op iemand se tone gaan trap – tone van lande wat op ander terreine vriende of selfs bondgenote is. Turkye is byvoorbeeld ʼn lidland van Navo, pres. Assad is ’n bondgenoot van Rusland en China, wat ook verseker het dat Assad in die Veiligheidsraad deur sy bondgenote se vetostemme verskans was – en die klimaat ontwikkel het vir die gunstige ontwikkeling en opkoms van die IS.

En die een les wat uit die domino-rewolusie van die Arabiese lente en die jarelange Israels-Palestynse stryd geleer is, is dat hoe langer gesloer word om ’n konflik te beëindig, hoeveel meer ruimte word gelaat vir die opkoms van ’n radikale Islam. En as uiteindelik toegeslaan word, en die radikale “vernietig” word, lei dit tot die opkom tot selfs meer radikale jihadistiese groepe, en verdiep die probleem net. Binne die Gasa-strook is reeds etlike jihadistiese groepe wat meer radikaal as Hamas is, en skynbaar ʼn paar keer verantwoordelik was daarvoor dat skietstilstandooreenkomste verbreek is.

Die teen-aanslag

Die manier waarop die VSA en sy bondgenote die stryd teen die IS aanpak, dui daarop dat lesse uit vorige Midde-Oosterse ekskursies geleer is. Die VN Veiligheidsraad se eenparige steun is verkry. Die VSA en sy Westerse bondgenote beperk hul rol tot die lugbombardement van die IS, terwyl veral die Irakse leër, nou meestal Sjiïete, en die Koerde die voetsoldate voorsien. Die meeste Wes-Europese lande wat bomwerpers beskikbaar gestel het, bly om verskeie redes uit Sirië se lugruim. Die hoofrede wat aangevoer word, is dat die “internasionale regsposisie” hiervan nog nie behoorlik opgeklaar is nie. In die praktyk is daar net te veel groepe in Sirië wat oor goeie lugafweergeskut beskik, hoewel met die skryf hiervan, daar nog nie werklike tekens was dat die IS enigsins ’n lugafweervermoë op die proef gestel het nie.

Duitsland, en wat nuwe dapper stappe beskryf word, het onder meer wapens aan die Koerde begin voorsien. Na die Tweede Wêreldoorlog was daar groot beperkings op Duitsland se buitelandse militêre betrokkenheid.

In nog ʼn strategie word die byna vergete pro-demokratiese opstandelinge teen Assad nou ook bewapen.

So veel as moontlik Arabiese lande is as bondgenote in hierdie alliansie ingetrek, maar voorsien ook eerder vliegtuie as grondtroepe.

Binne die VSA is daar sterk opinies van militêre deskundiges dat die VSA (en sy bondgenote) uiteindelik tog troepe op die grond sal moet plaas.

Ongeag hoe die stryd verloop om die “kalifaat” te herower, die IS het reeds aangedui dat dit in die lande van die alliansie teen hom wraak sal neem. Onlangs het Australië ʼn plan gefnuik om iemand in Sydney in ’n nie-selektiewe aanval te onthoof. Niemand twyfel dat die IS, veral danksy sy waarskynlik sowat 3 000 “jihandgangers”, oor die vermoë beskik om op enorme skaal internasionale terreur te pleeg nie.

In Europa is daar nou ’n interessante verskynsel. In ʼn poging om die IS te smoor word die families van die jihadgangers met die sluiting van bankrekenings en soortgelyk geknyp. Simpatieke moskees reël weer insamelings om hierdie families te ondersteun.

Lesse vir Suid-Afrika

Veral sedert die bondgenootskap met veral lugaanvalle teen die IS begin het, het al sy vertakkings al laat blyk dat hulle hul stryd gaan internasionaliseer om wraak te neem. Sekere lande soos Saoedi-Arabië is uitgesonder, maar die VSA en die Wes-Europese lande is nie gespaar nie. Die besondere verwyt teen Saoedi-Arabië is interessant.

Die dominante Islamitiese vertakking in Saoedi-Arabië is die Wahabitiese, waartoe ook die koningshuis behoort. Die Whahabiete en die Salafiste is teologies baie na-aan mekaar, en die IS se befondsing het ook tot ʼn groot mate van ryk families in Saoedi-Arabië gekom. Die IS beskou die belangrike rol wat Saoedi-Arabië in die stryd teen hom speel, as verraad.

Met Suid-Afrika se eie Moslembevolking bestaan die gevaar altyd dat die sterk steun wat Hamas plaaslik geniet, tot ’n sterk simpatie van die ideologies-verwante groepe soos die IS en Moslem-broederskap kan lei.

Gwede Mantshe, sekretaris-generaal van die ANC, se “verbod” op ANC-lede om Israel te besoek, is maar een van talle aanduidings dat hierdie element binne die Suid-Afrikaanse Moslembevolking genoegsame invloed binne die ANC uitoefen om internasionale keuses te maak, wat Suid-Afrika suur kan bekom.

Die gate in Suid-Afrika se netwerk van wet en orde maak van die land reeds ’n “gewilde” plek vir skuiling en die verkryging van vervalste dokumentasie. Na bewering het Al Shabaab se “wit weduwee” ’n hele ruk openlik in Suid-Afrika gewoon.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Henk ·

Ek dink SA se grootste fout is om te probeer voorgee dat nie een van die organisasies reeds goed gevestig is in SA nie. Ek wil sover gaan as om te se dat hierdie organisasies met die mede wete van die regering hier gehuisves word en opleiding hier plaasvind. En moet nie die kommunistiese Chinese en die vestiging van hulle strukture in SA onderskat nie. Ons as man op straat hou onsself blind en ons gaan die prys betaal…..

Sjert ·

Uitstekende artikel oor die verskillende faksies en belangrikste rolspelers in doekkop geledere Herman.

Die dinge het ‘n manier om soos siekte toestande te ontwikkel, te groei en alhoe groter bedreiging in te hou. Voorbeeld – Eers HIV/Vigs waarna Ebola op die verhoog aangemeld het om selfs ‘n gevaarliker bedreiging te verteenwoordig.

Wat die doekkoppe se waansin betref…Begin met die PLO>Hamas>Hizbolla>AlKaïda>ISIS>SelfmoordKernbom bendes?>Armageddon en uiteindelik…end-vannie-prent vir ons ou planeetjie ?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.