Nuuskommentaar: Die Nongqawuse-sindroom en die platinumstaking

Amcu-lede op 14 Mei 2014 by Wonderkop-stadion Foto: M Molaole/Sapa

Amcu-lede op 14 Mei 2014 by Wonderkop-stadion Foto: M Molaole/Sapa

Elke sekonde wat aftik, verloor die stakende mynwerkers op die platinumgordel nog meer geld, en so ook die mynhuise wat geraak word. Hier kan gesien word hoe die twee bedrae sekonde vir sekonde oploop.

Met die skryf van hierdie rubriek was die mynwerkers se verlies reeds byna R9 miljard, terwyl die mynhuise toe reeds meer as R20 miljard aan inkomste verbeur het. Dit is egter nie net die mynhuise en stakers wat seerkry nie – nie-stakers wat nie kan werk nie, en sekondêre en tersiêre bedrywe trek ook noustrop, met honger kinders op die skoolbanke die uiteinde.

Dit is egter ook reeds duidelik dat die ganse land se ekonomie skade gely het, en elke burger gaan die gevolge daarvan dra.

Het ons met ‘n Nongqawuse-sindroom te make?

Meer as 150 jaar gelede in die destydse Xhosaland het ‘n jong Xhosameisie, Nongqawuse, aan haar mense vertel sy het ‘n profetiese openbaring van drie voorvadergeeste ontvang. Die Xhosas moet hul gesaaides en hul vee vernietig. Dan sal die Britse kolonialiste die see ingedryf word, en die vee sal nog gesonder en die oeste groter wees as tevore.

Die son sou op 18 Februarie 1857 rooi word, ‘n aanduiding dat die profesie werklikheid sou word. Dit het nie. Weens die hongersnood wat gevolg het, het die area se bevolking van ‘n geraamde 105 000 tot 27 000 afgeneem. Sommige bronne meen tot 40 000 mense het van honger omgekom, en dat die ander getrek het om die hongersnood te probeer ontsnap.

Joseph Mathunjwa, president van AMCU, het volgens homself arm grootgeword. Nou word hy daarvan beskuldig dat hy self in luukse leef terwyl die mynwerkers wat hy tot ‘n langdurige staking opgevorder het, hul gesinne en ander mense in sekondêre bedrywe noustrop trek en selfs krepeer.

Instansies soos Solidariteit se Helpende Hand spring in en stel tonne kos aan nie-stakers beskikbaar wat geraak word. Gift of the Givers en die EFF van Julius Malema tel onder die instansies wat kos aan die stakers probeer voorsien.

Intussen wag die stakers blykbaar steeds vol vertroue dat die dag gaan aanbreek wat die son rooi sal skyn. Baie van hulle, soos Nongqawuse, kom uit die Oos-Kaap. Baie het tweede gesinne in die Oos-Kaap. Die staking slaan dus die Oos-Kaap ook hard.

Toordokters moes al hand bysit om die stakers met ‘n vorige staking immuun teen die polisie se koeëls te maak. By Marikana het dit nie eintlik gewerk nie.

Maroela Media is nie die eerste wat die Nongqawuse-herinneringe in die huidige politieke en ekonomiese klimaat vergelykend in herinnering roep nie. Reeds op 8 Augustus 2012 het die Citizen onder die opskrif: “Thanks to Malema Nongqawuse’s back” hieroor berig. Veral die volgende sin is veelbetekenend: “South Africa is going through another Nongqawuse moment, with Julius Malema as his generation’s false prophet. He personifies our deep wounds from oppression and our pathological hatred for icons of white supremacy. Now we are willing to destroy what is dear to us ¬today in exchange of his promise of a ¬better tomorrow.”

Intussen het die “moment” al meer as ‘n politieke uur lank geword.

Byna alles wat die Citizen oor Malema geskryf het, kan net so op Mathunjwa van toepassing gemaak word. Daar is verskille. So word daar mooi dinge oor Mathunjwa se Christenskap geskryf.

Oor die jare het daar ook ‘n soort romantiek rondom Nongqawuse ontstaan, soos duidelik blyk uit die naam van die toneelstuk, Nongqawuse: “The girl who killed to save.”

Manifestasies kan gesien word in die slagspreuk van “Liberation before education” en in wese adem die hele nasionale demokratiese revolusie hierdie gees.

Terwyl die aanbreek van die tweede bevryding – nou die ekonomiese bevryding – verkondig word is dit nie ‘n rooi son aan die hemeltrans nie, maar Malema se rooi miere wat die parlement en die provinsiale wetgewers binnemarsjeer.

Die ironie, net soos in die tyd van Nonqgawuse, het diegene wat juis anders gereageer het – hul opvoeding verwerf het – die voordele beleef soos om met die aanbreek van die nuwe bedeling reeds advokate te wees (bv. Thuli Madonsela en Lawrence Mushwana), of dokters, (bv. Nkosazana Dlamini-Zuma en Aaron Motsoaledi).

Diegene wat die opofferings gebring het, trek steeds die kort lootjie.

Dit is dus te verstane dat diegene wat nou in erbarmlike omstandighede leef, al het dit niks te make met opofferings wat gemaak is nie, nou ook hul beurt sal wil kry om die voordele van die nuwe bedeling te kry.

In hierdie konteks is diensleweringsbetogings en gewelddadige stakings dus nie onverwags nie.

Dat die hedendaagse Nonqgawuse’s in weelde leef terwyl die armes ly, is ook nie onverwags nie, veral waar mense soos Jacob Zuma, Julius Malema en Mathunjwa self in armoede grootgeword het. Dit is die simbool dat ook ander kan uitstyg.

Maar dan moet die son op ’n dag rooi word. En dit gaan eers oor baie miljoene jare gebeur.

Die verhaal van Nonqgawuse eindig egter nie hier nie.

Toe die son nie rooi word nie, en die hongersnood sy tol eis, is die woede aanvanklik gerig op diegene wat nie gemaak het soos Nonqgawuse gesê het hulle moet maak nie. In vandag se idioom, die sogenaamde “sell outs.” Dit was hul skuld dat die voorvadergeeste nie die son laat rooi word het nie.

Maar toe die ramp erg byt, het die woede na Nonqgawuse verskuif en is sy verkwalik. Boonop het die Britte haar gevang en op Robbeneiland aangehou, voor sy half vergete haar laaste dae op ’n Oos-Kaapse plaas gaan slyt, en gesterf het.

Mathunjwa moet waaksaam wees. Net soos die destydse oorlewendes hul woede na Nonqgawuse verskuif het, kan die stakers hul woede wat in die vorm van onder meer intimidasie van die “sell outs”, en selfs moord manifesteer, na die eietydse Nonqgawuse verplaas.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae