Nuuskommentaar: Die stempatrone bekyk

(Foto: Maroela Media)

Baie vrae oor hoekom kiesers gestem het soos hulle wel hul kruisies getrek het, gaan nie gou met oortuiging beantwoord kan word nie.

Feit bly dat sommige partye beter gevaar het, en ander swakker, as in die verlede. Maar nie net die politieke partye sal vrae moet beantwoord nie – die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sal ook moet pa staan vir ’n horde probleme, wat die OVK ná jare lange kleitrappery steeds hardkoppig weier om as werklike probleme te erken.

Die mees pikante aspek was stellig dat die taak om die verkiesing vry en regverdig te verklaar aan die OVK self opgedra is. Dit herinner aan ’n hipotetiese geval waar ’n leerder wat pas matriek geskryf het, self sy of haar vraestelle moet nasien en punte toeken.

Nie vreeslik geloofwaardig nie.

Die ouditstelsel waarop uiteindelik geskik is om ’n hofsaak deur verskeie kleiner partye te voorkom, naamlik dat Statistieke SA dit op ’n beperkte skaal gaan behartig, boesem nie die vertroue in wat ’n mens graag sou wou sien nie.

Hoewel waarskynlik die mees onbeduidende van die probleme wat voorgekom het, naamlik dat ’n onbekende aantal kiesers weens gebreke twee, of moontlik selfs meer kere kon stem, is dit die probleem wat die meeste aan die groot klok gehang word. Stemlokale wat laat, en selfs glad nie geopen het nie, spesiale stembriewe waarop die OVK se amptelike stempel nie aangebring is nie, stembriewe wat in sleutelgebiede opgeraak het en die eendeweer wat in ’n groot deel van die land voorgekom het, het almal waarskynlik ’n groter rol as die dubbelstemmery afgegee.

Van die kleiner partye se klagtes dat hulle minder stemme gekry het as die getal vrywilligers wat vir die partye gewerk het, plaas ook bedenkinge oor hoe suiwer die proses verloop het.

Hoewel dié soort probleme met vorige verkiesings ook voorgekom het, het verskeie mediaberigte gemeld dat die probleme vanjaar meer as tevore was. Hulle vind dit vreemd dat dit 25 jaar geneem het om die brouwerk dié omvang te laat aanneem, terwyl ’n mens eintlik sou verwag dat dit andersom sou verloop het.

Ace Magashule (Foto: Itumeleng English/ANA)

Hoekom het sommige partye swakker gevaar? 

Hoekom het verskeie partye, soos die ANC, die DA en Cope, swakker gevaar as in die verlede?

Die ANC se probleme is goed bekend. Die slegte nuus wat daagliks, en tot vlak voor die verkiesing, voor die Zondo-kommissie van ondersoek aan die lig gekom het, sou noodwendig ’n negatiewe uitwerking op die ANC se steunvlakke hê. Die verdeeldheid in die ANC het egter ook in sekere sin voorkom dat die ANC nog groter skade ly.

Die faksie wat vir die meeste slegte nuus verantwoordelik was se lojaliteit aan oudpres. Jacob Zuma en sy kornuite, soos Ace Magashule, het ’n lojaliteit-vasskop soos min beleef, en die negatiewe feite wat aan die lig gekom het, het minder hond-haaraf beleef as wat “in enige normale demokrasie” verwag sou word.

Dit lyk, soos sommige kommentators dit stel, asof Cyril Ramaphosa se verkiesing tot president die ANC in groot mate “gered” het.

Die DA het in weerwil van ’n enorme verkiesingsveldtog sowat ’n half miljoen minder stemme as voorheen getrek. Van die redes, soos sommige kiesers meen die afskeep van Afrikaans, is al wyd bespreek. Die optrede van jeugleiers het ook al heelwat skade berokken, soos ’n DA-jeugleier wat ’n voorbok was in die stryd om van Afrikaans op Tuks ontslae te raak. Nog een se skade oor die Schweizer-Reneke-geval het ook ’n duidelike litteken gelaat.

Teen die einde van die verkiesingsveldtog het die DA, veral by monde van dr. Annelie Lotriet, sterk vir Afrikaans opgekom. In ’n debat oor die kwessie tussen Lotriet en dr. Corné Mulder van die VF Plus op Maroela Media, het Mulder herhaaldelik daarop gewys dat Lotriet wel baie vir Afrikaans doen, maar dat sy krediet daarvoor onverdiend op die DA se brood wou smeer.

Uiteindelik het die DA duur betaal vir die gebruik om wesenlik uitsluitlik Engels in mediaverklarings op nasionale vlak te gebruik. Afgesien daarvan dat dit as ’n gesindheidsprobleem vertolk kon word, het die DA homself op ’n reuseskaal ten opsigte van Afrikaans gesensor. Dis asof die DA nie wou raaksien dat daar ’n groot opkoms van die gemeenskapsnuusdienste was nie – dit wil sê radiostasies en koerante met te min personeel om tyd aan vertalings af te staan. Rofweg was so ’n miljoen luisteraars en lesers per belangrike mediaverklaring van hierdie verklarings afgesluit. Oor vyf jaar se kumulatiewe “selfsensor” sou dit ’n enorme kumulatiewe uitwerking hê.

(Argieffoto)

Op die gevaar af om soos die OVK sy eie stert te prys, kan die invloed van die opkoms van Maroela Media waarskynlik ook nie misgekyk word nie. Maroela Media was duidelik nie op politieke uitsluiting ingestel nie, en partye soos die Vryheidsfront Plus kon op die oog af regverdiger as voorheen om die harte en verstand van lesers meeding.

Dit beteken nie die Patricia de Lille-kwessie sou nie ook bygedra het nie. Die siedende aanvalle op mev. Helen Zille oor die koloniale twiets deur die leier, Mmusi Maimane, het baie Afrikaanssprekendes ontuis in die DA laat voel.

Wat het met Cope skeefgeloop? Dié party het al sy provinsiale setels verloor en keer met net twee verteenwoordigers na die parlement terug. Die afwesigheid in provinsiale wetgewers is ’n enorme verlies, want die party verbeur nou heelwat fondse en logistieke vermoëns wat dit op staatskoste geniet het. Blootstelling word ook verminder.

Veral swart kommentators meen die kwessie oor grondonteiening sonder vergoeding het Cope by swart kiesers geknou. Cope het waarskynlik ook die bereikbaarheid van wit kiesers oorskat, soos die Front Nasionaal (FN) wat sy ondersteuners aangemoedig het om op nasionale vlak vir die FN te stem, en op provinsiale vlak vir Cope. Selfs al het FN-ondersteuners gehoor gegee, was daar eenvoudig te min FN-ondersteuners om ’n duik op stemme vir Cope op provinsiale vlak te beteken.

Hoekom het partye gegroei? 

Moet die oog op die African Transformation Movement (ATM) gehou word, of gaan dit sy opkoms uit die bloute kan volhou? Dit is so ’n uitskieter dat heelwat water nog in die see moet loop voor enige mening met gesag geopper sal kan word.

Luister ’n mens na die verwysingsraamwerk van joernaliste, radio-omroepers en selfs sekere ontleders wanneer hulle mediavrae aan leiers van die Vryheidsfront Plus vra, is dit ontstellend duidelik hoe verkeerd baie van hulle se persepsies is oor wat die VF Plus in werklikheid is. Hul indruk is min of meer dat die VF Plus ’n baie regse, rasgebaseerde party is. Dit, terwyl die VF Plus sedert sy ontstaan oor ’n uitmuntende mediavermoë beskik wat die meeste, indien nie al nie, politieke partye stof in die oë skop. Dit is ’n soortgelyke lot as waaraan AfriForum en Solidariteit onderworpe is.

Wat het nou verander, terwyl ’n groot deel van die media steeds diepgewortelde wanopvattings van die VF Plus koester?

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, en Peter Marais, die party se topkandidaat in die Wes-Kaap vir die eersdaagse verkiesing. Foto: Verskaf

Dit, terwyl die VF Plus steeds uitstekende mediawerk gelewer het, en weens die volwaardige gebruik van Afrikaans ’n stewige voet in die deur kon verwerf by die groeiende gemeenskapsmedia – dit terwyl die DA in sy nasionale mediapoging wesenlik met Afrikaans weggedoen het.

Daar is nog nie genoegsame data beskikbaar oor in hoe ’n mate die aanwys van Peter Marais as Wes-Kaapse premierskandidaat vir die VF Plus bykomende bruin stemme beteken het nie. Uit leserskommentare wil dit voorkom asof Marais se aanwysing die VF Plus ook stemme kon gekos het – nie soseer oor die rassekwessie nie, maar weens Marais se kleurryke rondvallery tussen politieke partye.

Hoe minder oor die EFF gesê word, hoe beter vir ’n mens se gesondheid. Komende hofsake, en moontlike hofsake, kan ’n wesenlike rol speel in hoe die party vorentoe gaan vaar.

Die kleiner as verwagte groei beteken ook dat die opsie van samesmelting van die EFF en die ANC nie so onwaarskynlik is soos wat dit tot onlangs nog was nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

38 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elna

Daar was n kinkel in die kabel dis hoekom. Korrupsie gekonkel oneerlikheid en onregverdigheid. Dis die antwoord.

Andreas

Raakgevat Herman. Let wel, ‘n ‘Nuwe Groot Trek’ het vir die Afrikaner begin, weg van die DA af, ook by van die ander partye, hulle hoort nie daar nie, die VF Plus het sy steun meer as verdubbel, hierdie was nou maar net die begin, terugkyk is daar nie, die DA en daardie ander partye gaan nog baie van die Afrikaner-stem met die volgende verkiesing verloor.

Mag ek sê, “Die hart pomp tjoklits?”

Gerrit

Die DA wou mos die onskuldige juffrou op sweizer veroordeel voor die feite uit is. Dieselfde speel nou af op mooinooi waar n kind in n ander kind se badkamer ingestuur was om haat teen ons aan te blaas.

Wit Willem

Ek moet erken ek kry schadenfreude oor die DA se arrogansie en knak wat hulle gevat het.

Dis ñ werklike jammerte oor Cope.
Miskien kan die VF+ hand uitreik na hulle en saamsmelt. Lekota se posisie oor grond en BEE is in lyn met die VF+ s’n.

Gemsbok

Dit is kommerwekkend dat die ANC en EFF saam ‘n tweederde meerderheid in die nasionale vergadering geniet wat vir hul vrypas gee om hul beoogde kommunistiese beleide soos nasionalisering van grond, banke en pensioenfondse te implementeer.