Nuuskommentaar: Hoe lank kan ’n jaar wees?

Foto: NASA

’n Jaar kan soms behoorlik verbyvlieg, maar as dinge verkeerd loop, kan dit ook behoorlik die dae met swaarkry behoorlik rek. Gaan die mensdom wysheid aan die dag lê, of gaan die swaarkry gestook word?

In die politiek kan ’n dag ’n baie lang tyd wees. Of vanjaar het die tyd gevlieg, ons is al weer terug by eergister. As die ouderdom van die mensdom in argeologiese terme ondersoek word, is twee dekades slegs ’n kolletjie op die lewensgrafiek.

Maar pas het 2020 aangebreek en daar word intensief bestekopname gedoen van die eerste twee dekades van die 21ste eeu. Hierdie twee dekades word deur wetenskaplikes wat die rol van die mens ondersoek, as “transformatief” beskryf. Argeologiese vondse volg mekaar nou vinniger op as ooit tevore, maar tegnologie maak dit moontlik om die verlede selfs in die verste buitenste ruim uit te pluis.

Soms is dit moeilik om presies te wees. Wetenskaplikes het pas vasgestel dat Venus se rotasiespoed periodiek verander – soms vinniger, soms stadiger. Dit word vermoedelik deur Venus se digte atmosfeer aangehelp wat ’n sleureffek op die planeet se rotasiespoed kan hê, wat reeds baie stadig is, en boonop agterstevoor.

Die effek van die aarde, maar veral die son se swaartekrag het ook ’n invloed, ongeveer soos die maan se invloed op die aarde se rotasiespoed wat geleidelik al stadiger word. Een van die redes om meer sekerheid te verkry oor hoe vinnig of stadig Venus draai, is in die beplanning van ’n landing op Venus. Die wisseling kan veroorsaak dat die beoogde landingsplek, wanneer die tuig eendag opdaag, tot 15 kilometer van die beplande landingsplek kan land. Die digte wolkkombers om Venus maak die oppervlak van die planeet effektief onsigbaar.

Op die heel ander kant van die skaal blyk dit dat navorsing uit die verre verlede veel tot die mensdom en sy planeet se welstand kan bydra. Nuwe navorsing toon dat daar eens in Amerika soveel vordering was met die ontwikkeling van nuwe graansoorte uit verskillende grassoorte, dat sou dit volgehou gewees het die opbrengs ongeveer gelykstaande sou wees aan die wêreld se huidige jaarlikse mielie-oes. Dié projekte is min of meer alles laat vaar toe die mielie in die huidige Meksiko uit teosinte ontwikkel is. Navorsing word nou gedoen om te kyk hoeveel van die vordering kan herhaal en verder gevoer word, aangesien baie hiervan, sowel as die oorspronklike wilde plante, uitgesterf het.

So is ook in grotte in die Sahara voorbeelde gevind waar oor duisende jare graan uit grassoorte se sade geselekteer en gekweek is. Om dié navorsing te herhaal, en so ver as moontlik van die produkte wat reeds ontwikkel is te gebruik, word gehoop om nuwe graansoorte te kan ontwikkel wat beter by klimaatsverandering aangepas is.

Toe die inboorlinge van die Andes die aartappel uit ’n groot verskeidenheid wilde plante gekweek het, het hulle ’n groot verskeidenheid variëteite ontwikkel, maar net een weergawe kommersieel ontwikkel. Die ander word in beskermde omstandighede aangeplant vir ingeval nuwe weergawes weens veranderde omstandighede benodig word. Uit hierdie versameling is juis een gevind wat eendag op Mars aangeplant sal kan word.

Om gewysigde en nuwe plant- en diere-lewensvorme te teel is gewoonlik ’n baie lang proses, en daarom word ook veranderings meegebring deur mutasies in te span. Mutasies vind egter nie in ’n reguit lyn plaas nie, maar word deur wetenskaplikes as in alle rigtings soos ’n bos beskryf.

Op bykans elke terrein word deurbrake gemaak. Verskeie eens dodelike leukemie-soorte is reeds geneesbaar. Vir een soort word die siek persoon twee weke lank gehospitaliseer en behandel, waarna hy as heeltemal gesond huiswaarts kan keer. Sekere melanoom-kankers kan ook reeds genees word, hoewel die eksperimentele geneesmiddel peperduur is.

Die ironie is dat dit pas weer gebeur het dat ’n Maya-paleis in die ooste van Meksiko ontdek is, meer as 500 jaar na Columbus se aankoms in die Amerikas. Met die hulp van satelliete met ongelooflike opsporingsvermoëns word selfs nou nog stede gevind wat eeue verlore was. Dit terwyl die sterrekunde ongelooflike beelde van sterrestelsels miljoene jare van die aarde af op film kan vaslê.

Watter verstommende ontdekkings wag oor die volgende twintig jaar op die aardbewoners en, meer bepaald, watter implikasies hou dit vir die mensdom in?

Sedert die tye van Augustinus erken die Christendom God se twee openbaringswyses. Die een is deur God se Woord, die Bybel. Die ander is deur God se skepping, die natuur. Mag die mensdom in 2020 en daaropvolgende jare die wysheid ervaar om met verantwoordelikheid met sy kennis om te gaan. Mors met die natuur, waaroor die mens ’n Skeppingsopdrag gekry het om op te pas en daaroor te regeer, en ’n dag kan bitter lank word vir ’n geslag wat bitter swaar kry weens hoe onverskillige voorouers met God se Skepping omgegaan het.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
PietS

God is in beheer, nie die mens nie. Hy gaan in elk geval die aarde vernuwe soos wat dit oorspronklik was voor die sondeval.

Wie weet

net so piet net so

Kootjie

Verseker!!! Hy en Hy alleen weet wat. Waar en hoekom ! Glo en Vertrou net op HOM en geniet die wete dat Hy alles maar rerig ALLES is onder SY beheer!! En Hy weet die beste!!

André André

Herman, jy wat ook baie in sterrekunde, die ruimte en argeologie belangstel, en van tyd ‘n rubriek daaroor skryf, kan tog oor ons geskiedenis die artikel van Matjesfontein by hierdie skakel gaan lees:
https://www.pletthistory.org/talks/changing-times-at-matjes-river-rock-shelter/

Dan kan jy fotos van die gebied en die uitgrawings by hierdie skakel beloer:
https://www.google.co.za/search?q=matjes+river+rock+shelter&tbm=isch&source=univ&sa=X&ved=2ahUKEwicvdHU3vHmAhXRsHEKHYAdD7YQsAR6BAgKEAE&biw=1536&bih=760