Nuuskommentaar: Hoekom bevuil mensdom eie nes?

Vlamme tussen bome en bosse op die pad na die Jacunda Nasionale Woud, naby die stad Porto Velho in die Vila Nova Samuel-streek wat deel is van Brasilië se Amasone. (26 Augustus 2019). (Foto: Eraldo Peres/AP)

In gister se nuuskommentaar op Maroela Media is die kwessie van die bosbrande in die Amasone in oënskou geneem. Weens van die lesersreaksie moet eers so kripties moontlik van die bedoelde tema, die psigiese invloed van ’n omgewing wat deur menslike toedoen gerysmier word, afgewyk word.

By voorbaat is geweet dat van die inhoud gekritiseer sou word, maar die uwe het van 03:00 af reeds navorsing gedoen en ’n massa bronne geraadpleeg. Foute wat wel dalk ingesluip het, sal nie ontken word nie – die rubriekskrywer is immers net so goed soos sy opleiding – formeel en informeel – en sy bronne.

Dat die onderwerp hoog tydig aangepak is, blyk uit twee artikels wat vandag verskyn het. Die eerste is van die rubriekskrywer Ivor Price, “Verband tussen gebroke gees en rommel in SA”, en die tweede deur die omgewingsjoernalis, Elize Tempelhoff, “So is ekologie, ekonomie en politiek verbind”. Tempelhoff is as spesialis-joernalis bekend en verskeie kere reeds bekroon vir haar werk.

Sowel die uwe as Price se mandaat is baie wyer, en veel ruimte vir spesialisering bestaan. Die uwe is wel ook ’n ervare wetenskapsjoernalis, wat onder meer die ruimtenuus skryf vir RSG se bekende program, Sterre en Planete. Tempelhoff lui haar rubriek in met die opmerking dat natuurwetenskaplikes die media ’n week gelede voor stok gekry het omdat die Amasone toe al drie weke gebrand het, en dit nie wêreldwyd op die voorblaaie was nie. Toe die nuusdekking vlamvat (by wyse van spreke), het die meeste koerante beklemtoon dat die wêreld vir 20% van sy suurstof van die Amasone afhanklik is.

Met die uwe se rubriek is geen koerante vir wetenskaplike feite geraadpleeg nie. Die 20%-suurstof-weergawe is uit ’n gesaghebbende wetenskaplike bron gekry, en vanoggend weer nagegaan. Dit blyk dat daar twee skole onder wetenskaplikes is. Die een skool gebruik die 20% steeds deurlopend, en die ander meen dis hoogstens 6% of meer waarskynlik minder.

Verwoesting in die Amasone. Foto: (Leo Correa/AP)

Wat belangriker is, is dat ClimateNexus, wat die laer syfer bevorder, die volgende skryf: “While the fires are having a tremendous impact on the global climate and the well-being of local communities, they are not a threat to the planet’s oxygen supply.”

Die gerespekteerde wetenskaptydskrif, ScienceAlert, skryf onder meer soos volg: “As the world’s largest rainforest, the Amazon plays a crucial role in keeping our planet’s carbon-dioxide levels in check. Plants and trees take in carbon dioxide and release oxygen back into the air in their process of photosynthesis.

“This is why the Amazon, which covers 2.1 million square miles, is often referred to as the ‘lungs of the planet’: The forest produces 20% of the oxygen in our planet’s atmosphere.”

Albei oortuigings blyk saam te stem dat die brande die wêreld se klimaat bedreig. Brasilië se grootste deelstaat, Amasonas, het Maandag ’n noodtoestand verklaar. Brasilië se Nasionale Instituut vir Ruimtenavorsing verskaf self ontstellende gegewens.

Die uwe bedank dus weer eens lesers wat foute en mistastings uitwys, maar versoek asseblief dat wanneer dit gedoen word, die alternatiewe bronne genoem word, wat ook aan portuuroorsig onderwerp was, anders word appels (wetenskaplike feite) dalk teen pseudo-wetenskaplike of betwiste gegewens van ontkenners en ander afwykende opvattings gestel.

Rommel in Durban se strate tydens ‘n staking deur munisipale werkers (Foto: Bongani Mbatha/Africa News Agency/ANA)

Oorsake dat die mens sy eie nes bevuil 

Price noem dat hy bevoorreg is om in die Wes-Kaap te woon, maar wanneer hy binneland toe reis, verval die omgewing gou – rommel en verwaarlosing wek ’n vervalle indruk wat die ekonomie skade kan berokken. ’n Mens kan hierby voeg die woorde van ’n Nederlandse toeris wie se toerbus beroof is, wat gesê het al manier om veilig deur Suid-Afrika te reis is in ’n gepantserde voertuig.

Oor die oorsake dat dit so gaan, kan lank menings uitgeruil word. Terwyl baie van die menings op stereotipering kan neerkom, waarskynlik dikwels in rasverband en op maniere wat wissel tussen politieke niekorrektheid en selfs haatspraak, is dit duidelik dat sake met handskoene aangepak moet word.

Tog kom Suid-Afrikaners wat in Afrikalande besoek afgelê het dikwels terug en kan nie uitgepraat raak oor sekere Afrikalande wat so silwerskoon is nie. Zambië en Namibië word dikwels as voorbeelde genoem.

Die uwe het weens ’n toevloei van omstandighede verskeie kere in die verlede ten nouste betrokke geraak by van Suid-Afrika se grootste probleme soos waterprobleme, rioolprobleme (vanuit ’n infrastruktuur-oogpunt) en rioolbesoedeling. Verskeie artikels oor cholera, die tifoïeduitbreking in Delmas wat lewens geëis het en soortgelyk is geplaas, of is namens ander instansies as nuusverklarings uitgereik.

So het dit gebeur dat die uwe getaak was om kommentaar te lewer op die konsepplan van die Mangaung-raad oor rommelherwinning as deel van ’n skoonmaakaksie. Die opsteller skryf hierin onder meer dat ’n skoon omgewing deur die vorige regering afgeskeep is, soos die afwesigheid van skoonmaakprojekte dui. Die nuwe regering doen veel meer. Hoe is dit moontlik dat die opsteller van die konsepdokument nie kon weet van die Hou Suid-Afrika Skoon-projekte, die Jiffysak- en die Bambi-projek, onder meer nie? En waar is die nuwe projekte?

Rommel besaai die strate van die Pretoriase middestad. (Foto: Msiza Jv/Twitter)

Pas het die media berig oor die vandalisme by die Thusanong-gebou in Bloemfontein wat aan die provinsiale regering behoort. Die uwe onthou hoe hy uit sy eie sak meubels gekoop het en, toe hy ’n assistent-direkteurspos opgeneem het, trots in ’n kantoor in die gebou ingetrek het. Die gebou was eens ’n sieraad toe dit die hoofkantoor van die destydse Administrasieraad was, maar het geleidelik begin agteruitgaan nadat dit met ’n bom aangeval is, en die toplui na elders in die stad verhuis het.

Die uwe is betreklik gou ook na hoofkantoor verskuif, maar het gereeld daar besoek afgelê. Die kruipende verval was hartverskeurend. Die laaste was toe daar ure buite vir ’n Sassa-vorm gewag is, en ’n byna meter wye stroom riool skaars drie meter van die ry rustig verbygevloei het.

Volgens die jongste berigte is tot dakplate as deel van ’n de facto-stropingsaksie gesteel. Daar is glo geld vir die herstel van die gebou begroot.

Die vind van oplossings 

Die ideaal is om ’n oplossing te vind. Uit die literatuur is dit duidelik dat opvoeding hierin ’n rol speel, en welvaart is nie noodwendig deel daarvan nie. Dis immers nie armlastiges wat ’n brandende sigaretstompie by hul BMW se venster uitgooi nie.

Wetstoepassing is ook belangrik vir diegene wie se opvoeding in hierdie verband gebrekkig is, maar wie het nog nie gesien hoe iemand vlak voor ’n wetstoepassingsbeampte rommel strooi, en nie eens geroskam word nie?

Maar die belangrikste is stellig trots – selftrots, maar ook trots op die owerheid en gemeenskap. Die owerheid sal die toon moet aangee, want soos Tempelhoff skryf, die ekologie, ekonomie en die politiek is aan mekaar verbind.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wielspore ·

Leer jou kinders en kleinkinders om vir die natuur om te gee dan is dit ‘n belegging in hulle en die wat volg se toekoms. Jy hoef nie ‘n aktivis te wees om vir die natuur om te gee, maak net jou as mens se voet afduk op die aarde klein.
Ek loop saam my kleinseun in die veld en verwyder wild strike, ons verwyder ook ondergrondse besoedeling met behulp van metaal verklikkers. Ons vind lood, glas bottels, stukke yster met skerp punte wat in diere se pote kan steek. Net laasnaweek het ‘n groep kinders langs die teerpad geloop en rommel opgetel.
Om ‘n verskil te maak, begin dit by my en jou, doen dit net!

Jerry ·

Die mens bevuil en besoedel sy eie nes uit menslike kulturele traak my nie agtigheid, uit totale onkunde, geen oorlewingsalternatiewe en of doelbewus vir politieke ideologiese gewin asook gierigheid! Die linkse en regse ideologiese rasnasionalistiese wereld orde wat Trump, Putin, Boljaneiro, Bricks ens. tot stand probeer bring gaan die aarde so bevuil en besoedel dat mens, dier en plante uitwissing in die gesig gaan staar! Die lande gaan myne en geld he, maar besoedelde water, lug en kos tensy iets drasties met al hierdie wereldleiers gebeur!

Ai ·

My dogter se skool het ‘n projek gehad waar hulle iets vir die gemeenskap moes doen. Ons het die naweek ‘n veld gaan skoonmaak. Ek kan regtig nie glo hoe mors die mense nie en als wat ons daar opgetel het het my verstom. Opvoeding begin tuis. Leer jou kinders om hulle Rommel in asblike te gooi en hou jy as ouer (sekeres) op om papiere en gemors by jou kar se venster uit te gooi. Almal moet eerder ophou kerm dat dit so vuil is orals en self bietjie begin skoonmaak waar dit erg vuil is. Die stadsrade doen dit nie meer soos vroeer jare waar die dorpe mooi skoon was nie, hulle verkies dit eerder vuil en die werkers lê eerder onder bome en slaap en verdien so ‘n salaris.

Hendrik ·

want dit skep mos werk as ek my gemors oral rond gooi, Nee dis eintlik iemand moet agter my gat skoonmaak, dis net te gemaklik, ons land het groot rommel probleem en dit blyk nie belangrike saak vir die belangrike mense nie, ek probeer maar my omgewing skoon hou, stap gereed en tel maar op, maar volgende dag lyk dit weer so. Baie sleg

Schalla ·

Ja Herman. Ek kan ook nie verstaan hoe mense so kan mors nie. Nie eers ‘n hond maak vuil waar hy moet eet nie

Nie Gebreinspoel ·

Die mens se aanwas en die verwoesting wat daarmee saamgaan , word nooit genoem nie. Die oorbevolking maak nie saak nie, die ekonomie moet net groei! Geld is baas en die vernietiging van die natuur maak nie saak as iemand wins kan maak nie

humor ·

Jy het n baie belangrike punt beet. Oorbevolking, verstedeliking wat baie mense uit voelingneem met die skoonheid van die natuur en natuurlik gebrekkige opvoeding en geen idee het wat die Bybelse opdrag behels nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.