Nuuskommentaar: Is SA-demokrasie in die moeilikheid?

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Die land sal eers Maandag weet of Clive Derby-Lewis op mediese parool vrygelaat sal word. Dit handel oor veel meer as net of iemand in vrede by sy familie kan gaan sterf; in hierdie geval is dit ’n toets vir die regering se vermoë om nie dubbele standaarde toe te pas nie en veral om besluite te kan neem waarteen die SAKP heftig gekant is. Met ander woorde, regeer die regering in algemene belang soos die demokrasie vereis, of het ons maar ʼn diktatuur van die meerderheid?

Intussen “val Eskom se sentrales uitmekaar” volgens ’n kenner. Die Vrystaatse premier, Ace Magashule, neem op belastingbetalerskoste ’n bedenklike groep van meer as 70 saam op ’n peperduur besoek na Kuba terwyl Brandfort en ander Vrystaatse dorpe tot stilstand knars (en verskeie munisipaliteite miljoene rande aan Eskom en waterrade skuld).

Terwyl xenofobiese aanvalle lewens eis, ontken die regering steeds dat daar xenofobie is, net soos wat ontken word dat plaasaanvalle ’n statistiese uitskieter is wat spesiale aandag nodig het.

In die parlement is op verskeie maniere ’n statutêre staatsgreep uitgevoer deur te probeer, en deels daarin te slaag, om die parlement onder die bestuur van Luthuli-huis te plaas, die ANC se voorsitter as speaker in die parlement te ontplooi, en word steeds intensiewe pogings aangewend om te voorkom dat pres. Jacob Zuma aan die parlement verantwoording doen soos wat die grondwet vereis.

Intussen word berig dat hoë profiel-ondersoeke na die “Westerse konsep” van korrupsie erg in die wiele gery word deur ’n reeks skorsings van senior ondersoekers in verskeie departemente, wat ’n spesiale taakspan nou lamlê.

Die ontstellende is dat weg van hierdie toneel, en onder die radaroog, is daar ʼn uiters kommerwekkende verskynsel wat ’n ernstige invloed op volgende jaar se landswye munisipale verkiesings kan hê. Om dit te belig moet die oog op Zambië gewerp word.

Pres Michael Sata van Zambië is verlede jaar in sy amp oorlede, en sy adjunk-pres. Guy Scott het as president waargeneem tot ’n nuwe presidentsverkiesing gehou kon word. Die nuutverkose president sal net meer as ʼn jaar regeer tot die volgende geskeduleerde verkiesings en presidentsverkiesing plaasvind. Dit is dus op die oog af nie ’n baie belangrike verkiesing nie, en net meer as 30% van die kiesers het gaan stem.

Amptelik het Edgar Lungu van die regerende Patriotic Front die verkiesing gewen deur 48,3% van die stemme te trek. Sy vernaamste teenstander, Hakainde Hichilema van die United Party for National Development (UPND) het 46,7% gekry. Hichilema en die leier van die Movement for the Multi-Party Democracy (MMD), het reeds voor die uitslag ernstige aantygings van verkiesingsonreëlmatighede bekend gemaak. Hoewel Banda nou nie veel hond-haaraf kon maak nie, is hy self in 2008 van die presidentskap beroof toe hy volgens alle aanduidings die destydse verkiesing gewen het, maar Sata se regerende party gesorg het dat Sata as wenner aangewys, en as president beëdig word.

Die interessantheid is dat nie Hichilema of Banda in hul stapels bewyse van onreëlmatighede veel aandag skenk aan hoe die staatsmedia en selfs ander media ingespan is om Lungu se kandidatuur te bevorder nie.

Ook lank voor die uitslag bekend was, het die mediawaghond, Verslaggewers Sonder Grense (VSG) egter ’n ellelange verklaring uitgereik oor mediamanipulasie en ander vergrype teen persvryheid om die verkiesing te steel. Die openbare uitsaaier het glo die verkiesingsveldtog van Hichilema en sy party effektief geïgnoreer, en ʼn klag is hieroor ingedien.

VSG het egter ook daarop gewys dat die Patriotic Front verskeie media-instansies gedreig en geteister het. PF-ondersteuners het byvoorbeeld die radiostasie, Lukulu FM bestorm en die personeel met weerwraak gedreig nadat die stasie aandag aan die UPND-verkiesingsveldtog geskenk het.

Nog ’n gemeenskapstasie is deur die regering met sluiting gedreig as voortgegaan sal word om aandag aan die opposisie te skenk.

VSG lys ’n ellelange lys ernstige oortredings.

Verslaggewers Sonder Grense meen die feit dat oortreders nie gestraf is nie, bewys dat hulle die steun van die regerende party geniet het om so op te tree.

So geoordeel, lyk dit of daar allermins gepraat kan word van ’n gelyke speelveld voor die verkiesing, wat beteken dat demokrasie erg in die voet gewond is.

Die Zambiese Onafhanklike Verkiesingskommissie het in ’n stadium die bekendmaking van syfers gestaak. Talle logistieke probleme is ervaar, wat onder meer veroorsaak is deur die swaar reën wat Malawi en Mosambiek se vloede veroorsaak het. Van die verkiesingspunte is so laat geopen, dat mense daar nog gestem het terwyl uitslae reeds op TV bekend gemaak is – uitslae wat volgens die opposisie gekook was om die laat-stemmers voor ’n voldonge feit te stel. Selfs die Onafhanklike Verkiesingskommissie het in minstens een verklaring die woord “ongerymdhede” gebruik.

Maar toe gebeur die “gebruiklike”. Die span waarnemers van die SAOG-lande, waarvan Suid-Afrika lid is, val oor hul voete om die verkiesing “vry en regverdig te verklaar.”

Dieselfde as wat met die laaste algemene en presidentsverkiesing in Zimbabwe gebeur het. Ook daar het die regerende party die openbare uitsaaier blatant gekaap, en is joernaliste wat nie Mugabe gesteun het nie, se sake vir hulle gewikkel. Ook daar was daar duidelike gekonkel met die kieserslyste, en is onder meer te min stemburo’s voorsien in dele waar die MDC oorweldigend gesteun is.

Trouens, die gekonkel was so erg dat een van die SAOG-lidlande, Botswana, skei gebreek het en gevra het dat die verkiesing weer gehou word.

Gaan die SAOG-waarnemers enigsins beter vaar as daar ’n verkiesing in Suid-Afrika gehou word?

Na ʼn rits Tlokwe-tussenverkiesings is die verkiesingshof in Suid-Afrika redelik besig. Baie veralgemeend kan dit gestel word dat die hof moet besluit of die OVK onpartydig genoeg was, en of die blinde oog op onreëlmatighede gewerp is. Lesers sal onder meer onthou dat daar kort voor die tussenverkiesings skielik “kospakkies” (wat onder meer komberse insluit) op belastingbetalerskoste uitgedeel is.

Die Vryheidsfront Plus het pas ’n ope brief aan onder meer die Verkiesingskommissie geskryf om te kla dat niks gebeur het na hy klagtes ingedien het nie. Ook ander partye dui aan dat hulle tydens verkiesings “niks weer hoor” van klagtes oor ongerymdhede wat hulle indien nie.

Kortom, as die ANC die parlement so blatant (probeer) steel, en as die ANC-regering so blindelings gekookte verkiesings in Zimbabwe en Zambië “vry en regverdig” kan verklaar; hoe goed is die kanse dat die ANC en sy kaderontplooide strukture hier elke ongerymdheid sal beveg?

Dit stel ook hoë eise aan die SAUK as openbare uitsaaier om uit eie beweging deurlopend onverbonde te wees, en hom byvoorbeeld nie in strategieë te laat inbind soos om Zuma se statuur as “staatlik” kunsmatig te help opblaas nie.

Maar dit stel ook aan die privaat media die toets om die politieke diversiteit te weerspieël. Want demokrasie handel in die eerste plek oor die reg om politieke diversiteit te kan uitdruk.

ʼn Vry en regverdige verkiesing begin lank voor die verkiesing. Minstens ’n jaar voor die verkiesing (maar verkieslik deurlopend) moet die burgery en sy strukture reeds ’n skerp wakende oog begin werp om te verseker dat die speelveld gelyk sal wees. Elke moontlike skeeftrap van die SAUK moet na die bevoegde owerhede geneem word, en druk moet uitgeoefen word om te verseker dat die klag nie maar in die asdrom beland nie. Koerante in privaat besit het die reg om ’n politieke party te bevoordeel en dit duidelik te stel, maar as ’n koerant op onverbondenheid aanspraak maak en in die praktyk ’n besondere ideologie bevorder word persvryheid nie gedien nie. Dan het die kiesers wat daarmee onvrede het nie juis ’n ander keuse as om betyds met hul voete te begin stem en die betrokke koerant op te dreun nie.

Omgekeerd, koerante wat hul kant bring, moet volle ondersteuning kry.

Die voorbeelde hierbo genoem, soos Magashule en kie se peperduur Kubaanse ekskursie (wat tot geselekteerde joernaliste insluit), Eskom se peperduur “spanboue”, en die beriggewing oor munisipale verval, dui aan hoe belangrik dit is dat demokrasie veel meer beteken as dat die meerderheidsparty ’n totalitêre beheer neem, en in effek ’n diktatuur van die meerderheid, en aanspreeklik aan niemand, word. Maar dit alles gebeur nie eens op verkiesingsdag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Boerseun ·

Demokrasie per witman definisie bestaan nie in Afrika nie, en sal nooit nie. Zuma is reg, al die goed is westerse reels en konsepte. Ons almal will glo en hoop maar die werklikheid is teenstaande. Die DA afrikaaner sal moet besef sy lot is getel en in n vreemde volk se hande. As die grondwet heskryf word en dit begin anders interpreteer word gaan julle rainbow regste julle niks help nie. Eie grondgebied, federal of anders is enigste uitweg.

Hermanus Potgieter ·

Die DA is nie ‘n afrikaner party nie! Hulle bevorder ook glad nie afrikaans nie. Verder stem ek saam, demokrasie is op ‘n baie gevaarlike tydstip in die geskiedenis. Ons sal al meer en meer hierdie tipe gedrag van die regering sien. Nie omdat hulle mag nie, maar omdat hulle kan.

BoelieBrand ·

Wie kan vergeet van die regerende party se stelling dat hulle sal regeer “‘till Jesus comes”?

Henkst ·

Watter demokrasie?
Suid-Afrika is vanaf 1994 ‘n Afrika sosialistiese diktatuur.

Grassie ·

Die inwoners van Afrika is nie voorstanders van demokrasie nie. Net soos korrupsie, en om ‘n hond aan te hou, is demokrasie vir hulle ook ‘n Westerse konsep. Voordat Jan van Riebeek in die Kaap geland het, en vir donkiejare daarna, was demokrasie vir hulle ‘n onbekende begrip. Dingaan was nie demokraties verkies nie, hy het ‘n assegaai in Tsjaka se rug gerdruk. Afrika-denke is nie gerat vir demokrasie nie. In ons land is demokrasie bloot gebruik om aan bewind te kom. Nêrens in Afrika word demokratiese prosesse toegelaat om onpartydig te funksioneer nie, waarom sal dit in ons land anders verloop?
Ek glo demokrasie sal hier maar net stap vir stap agteruitgaan totdat net die Afrika-beginsel geld, nl dat die magtigste persoon – die man met die assegaai- regeer.

Mag die Here Suid-Afrika behoed.

emiel ·

Afrika demokrasie = 3 Wolwe en ‘n skaap wat stem oor wat te ete is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.