Nuuskommentaar: Meerderheid steun straks ‘agterlike, radikale’

Fikile Mbalula. Foto: Flickr/GovermentZA

Fikile Mbalula. Foto: Flickr/GovermentZA

Die vrysprakige minister van sport, Fikile Mbalula, het ’n bitter aanval op die “rassistiese, radikale en agterlike” Solidariteit en AfriForum van stapel gestuur. Dit sal Mbalula egter loon om mooi te gaan kyk wie staan nou eintlik agter die deur, skryf Herman Toerien wat na die konteks gaan kyk het.

Die rede vir die minister van sport, of eerder sports, se jongste verbale diarree is dié twee organisasies se beplande regsoptrede en ander aksies teen die regering se inmenging in sport en beleid van rasgebaseerde kwotas.

In sy vrysprakerigheid het hy hom ook aan genoeg kafpratery skuldig gemaak, soos om iets besonders daarin te sien dat Solidariteit die roete van die “arbeidshof in plaas van die konstitusionele hof” inspan. Hierdeur probeer hy impliseer dat sy eie beleid grondwetlik is en Solidariteit wyd hou om die konstitusionele hof. Die konstitusionele hof is egter met hoë uitsondering die hof van finale instansie, soos geblyk het in Solidariteit se hantering van die bekende Renate Barnard-saak wat sy roete deur die arbeidshof, die arbeidsappèlhof, die appèlhof en uiteindelik die konstitusionele hof gevind het.

Ook die bekende DKD-saak, waar die ANC-regering vasskop om tot nadeel van die bruin mense in die Wes-Kaap nasionale kwotas toe te pas, het sy weg tot in die konstitusionele hof gevind waar die uitspraak afgewag word.

Mbalula se stelling val dus gesig eerste plat op die grond. Mbalula verduidelik ook nie bevredigend hoe hy meen sy optrede strook met die meeste internasionale sportliggame se verbod op regeringsinmenging in hul sportkodes, asook verbod op rassisme nie.

Maar Mbalula se sinspeling dat dit wat hy probeer afdwing ’n meerderheidsteun geniet, en dat die “agterlike en radikale Solidariteit en AfriForum” eintlik net ’n klein groepie randakkers verteenwoordig, word weerspreek deur ’n peiling van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge wat in 2016 bevind het dat 70% van die land se swart mense teen rassekwotas in sport gekant is.

Mbalula is ook taamlik swygsaam oor hoeveel sy departement bygedra het tot die skep van geleenthede, soos sportgeriewe by die voedingsbron van sportsoorte, naamlik die land se 23 000 laerskole en 7 000 hoërskole.

Kortom, in Mbalula se eie woorde, sal gesien word wie “do**er” vir wie in die howe op. Sy “agterlike, radikale en rassistiese” teenstanders kan hom liederlik op die neus laat kyk.

In 2015, tydens die Solidariteit Beweging (wat onder meer AfriForum insluit) se krisisberaad, het die voorsitter, Flip Buys, die beweging se ledetal op sowat 300 000 gestel. Hierteenoor het die ANC se ingeskrewe ledetal van meer as ’n miljoen na onder ’n miljoen afgeneem. Dit is appels met pere vergelyk, maar as die getalle van primêre teikengroepe teen mekaar gemeet word, kan Mbalula maar weer mooi gaan dink oor hoeveel mense bereid is om die hand in die sak te steek vir watter instansie.

En oor radikalisme kan Mbalula ook maar mooi gaan dink. Die ANC het erken dat graderingsagentskappe gewaarsku het dat die ANC moet waak teen populistiese “oplossings”. Die konteks is die neiging om self te radikaliseer om met die groei in steun vir die EFF mee te ding.

Dit sal Mbalula ook loon om te gaan kyk na die algemene gemors wat die ANC-beheerde munisipaliteite aanvang, soos blyk uit die verslag van die ouditeur-generaal wat pas bekend gemaak is. Die beste ANC-provinsie is Gauteng waar 33% van die munisipaliteite skoon oudits gekry het. In die Wes-Kaap, wat deur die DA gedomineer word, het 73% van die munisipaliteite skoon oudits verwerf. In die meeste ANC-provinsies is die munisipaliteite gewoon ’n slagveld van vrot finansiële en verbandhoudende bestuur, met twee provinsies met ’n “slaagsyfer” van nul.

En dan reken Mbalula hy kan sy mond oor Solidariteit en AfriForum uitspoel …

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

neelsie ·

Hierdie Mbalula en Malema is maar voels van eenderste vere….was dit nie vir daardie mond nie het die kraaie lankal in hul kele nes gemaak..net n gebla,bla,bla.
Dink hulle was ook ondervoed as kleuters…sekere organe het nie optimaal ontwikkel nie!

John ·

Om iets weg te vat van iemand anders wat nie aan jou behoort het nie, is steel. Dit maak nie saak of jy pienk, groen of blou van kleur is nie en of duisende mense agter jou staan en almal kerm en skree nie. Uiteindelik is daar Iemand verhewe bo ons wat onpartydig is en wie se wil geskied. Diegene wat sport aanbid sal gestraf word en diegene wat skelm planne uitvoer om hulself te bevoordeel, sal ook gestraf word. Punt.

Hendrik ·

Daar is iets belangriks wat mense nie moet vergeet nie. Mubalula, Zuma, Ramapoza, Gordan is almal lede van die ANC. As jy lid is van ‘n organisasie onderskryf jy die organisasie se beleidsrigting. Self Mandela, die ikoon, was lid van die ANC. Meeste is ook lede van die Suid Afrikaanse Kommunistiese Party. Ramaposa , Trevor Manuel en Gordan is nie ewe skielik nie lede van die ANC. Hulle is miiskien meer bevoeg maar onderskryf dieselfde doelstellings.

Theo ·

Hoe ironies? Die agbare minister wat ras gedrewe kwota veranderinge in sport wil afdwing blameer sy teenstanders van rassisme. Shame!!!

alida ·

Ai mense ons wat so kwaad word en wil moord pleeg van woede – dit help alles niks. Die ANC ploeter voort en doen net wat hulle wil. Al wat ek weet, die dag as die eindfluitjie blaas sal meeste van ons nie meer hier wees om dit te beleef nie. Dit help nie ons jaag ons eie blooeddruk op vir hierdie mense nie. Daar word nooit iets aan gedoen nie en dit word net erger. Allister Coetzee moet net standpunt inneem en die beste spelers kies ongeag sy kleur en sy agterend aan die Minister afvee.

MJL ·

Alida, die kies van die “beste” spelers sal nie gebeur nie. Allister Coetzee is lankal al geoormerk vir hierdie pos en lankal al gesê hoe om sy span saam te stel.

Koos1 ·

As hy weet hy is reg, gaan dan hof toe en dat die hof in jou guns beslis. as hy weet hy is verkeerd, maak soos nommer 1. Beledig, ontken ens. tot dat jy in die hof bloed neus kry. Wat ek hierdeur kan aflei weet hy hy is verkeerd en gebruik die taktiek wat sy president elke keer gebruik en blykbaar werk dit.
Ek se: “Sleep hom hof toe, en voeg sommer ‘n klag van Crimen Injuria by, vir die beledigings wat hy na julle kant toe gespoeg het.”

Rynhardt ·

MENSE, JULLE VERSTAAN DIT NOG STEEDS NIE! MERIETE MAG NIE GELD VIR SPORT EN BESIGHEID NIE! JY MOET VAN ALLES GESTROOP WORD SOOS WAT DIE VRYHEIDSMANIFES BEPAAL.JY MAG GEEN KULTUUR EN BESTAANSREG HE NIE, TERWYL HOOFSTROOMMMEDIA SA AS WONDERLIK VOORSTEL VIR ALMAL.DAAR WORD GESTREEF NA N AZANIESE STAAT! JY IS HIER OOK NIE WELKOM NIE! ALLES IN DIE NAAM VAN JOU DEMOKRASIE WAT AANBID WORD!!

Griki ·

Gepraat van agterlik en radikaal – wanneer laas het Mbalula in die spieël gekyk om te sien hoe agterlik en radikaal rêrig lyk. Sy mond is in elk geval baie vinniger as sy breintjie.

HEVW ·

Hierdie kader se mond is lekker los. Meer aktief as sy denkvermoe. n ideale geval wat meer en meer tou gegee moet word. Hy gaan homself verseker ophang.

Theuns ·

In die wereld waar ek in groot geword het is alles volgens n sekere standard gemeet. Sport prestasies word byvoorbeeld gemeet in tyd en afstand, hoeveel punte jy aangeteken het ens. Net so word werk prestasie gemeet aan bv. doelwitte wat aan jou gestel word deur jou werk gewer ens. Selfs die hede (vandag, nou) word gemeet teen die verlede( soos dit was, gister). Die paradox is jy mag dit nie meer so doen of se nie want dit kan rassisties wees!!? Gister se skole en hospitale was beter as vandag sin? Erg Rassisties? Dit is mos nonsense! Oops ek moes dit nie gese het nie?

Boerseun ·

Toe ek groot geword het, het my volksgenote hulle siel verkoop om n simple sport met kolf en bal te kyk. Die genote is nou 42 en ouer. So hou op moun oordat daar nou minder Afrikaners in spanne is en kwotas, ons hou nog aan om die game te wil kyk so leef met dit. Die wereld se niks hieroor so dan is dit mos reg.

Henry ·

Jis ou Boerseun

Jy het ongelukkig baie lekkertes misgeloop, wat dommes soos ek en my pelle voor 1994 gate uit geniet het. Selfs vir ‘n kort tydjie na 1994. Wêreldbeker van 1995. Jammer van ou Pienaar wat so al kruipende, allerlei idees in ‘n paar koppe geplant het wat redes soek om ons Afrikaners te benadeel.

Daar was o baie sportmanne en vroue wat ons so gelukkig gemaak het…die Pollock’s, Richards, Barlow, Lindsay en en en. Om nie eers te praat van ou Frik, Greyling, Ellis, Mannetjies en en en en en…

O ja. En ek het toe nie my siel verkoop nie en het tot nogtoe niemand teë gekom wat ‘n koper vir hulle siele gesoek het nie.
Ons is nog almal hier. Met ons siele die lot!

John ·

Die Klerk $ Kie voel seker trots op wat hulle sedert 1994 bereik het. Die slinkse 2 referendums oor die opsegging van mag, se bewoording het die arme kiesers so deurmekaar gehad. Die’ moes die kiesers binne sekondes ontsyfer en dit was so slu opgestel dat dit regtig nog ‘n groot prys vanuit die buiteland verdien. Die bloudruk kan nou verkoop word aan Brittanje, Europa en die VSA, veral noudat hul rasseprobleme eskaleer. Miskien kan Die Klerk die nuwe baas van die VVO word. Die wereld is nog nie chaoties genoeg nie. Engeland verdien byvoorbeeld ook ‘n swart rugby-kaptein, ‘n swart afrigter en ‘n swart roos op die skouer.

Theresa ·

Ag tog, Mbalula. Dink net. Jy praat heeltemal te veel en te veel onsin. En ja – doen bietjie jou spietch vir jouself voor jou spieël. Mooi nê??!

Jan maak n Plan ·

G……..k Mbalula sou n ander deuntjie gesing het as hyself vir die saak moes opdok tussen hom en Agriforum. Hy “worry” mos nie wat so n saak sal kos nie, want sy regering sal mos die koste dra en van ons belasting terug verhaal. Hy gee ook niks om vir al die wette rondom sport nie dis net sy wet wat tel.

GJ de C K ·

Jitte, Henry ou boeta, hoegemaak? Ek respekteer jou goeie herinneringe en moet toegee dat ons nie heeltemal moet ophou lewe nie, maar “lekker” is kwalik enige maarstaf. Tensy jou motto “hakuna matata” is.

Ek ken wel mense wat hulle siele verkoop het en hulle hardloop nou nog weg vir hulle gewetens…

Ons hoef nie saam met die varke in die modder te rol nie. Daar is “lekkerder” dinge, soos om met Christus een te word in Sy lyding en saam met Hom te wandel.

Daar is ‘n plek wat net “JY” kan volstaan: Henry, Koos, Neelsie en Gertjie. As een van ons dit nie doen nie dan is die res almal swakker en armer.

Maar dié wat nog politieke / selfsugtige ambisies wil bevredig en/of graag eerste wil wees moet liefs eenkant staan, want waar daar selfsugtige ambisie is – daar vind jy wanorde en elke vorm van boosheid.

Staan Ferm!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.