Nuuskommentaar: ’n Land van melk en galbitter heuning

Die bekende en historiese stadsaal in Bloemfontein is in Junie 2017 tydens ʼn betoging aan die brand gesteek. Foto: Skermskoot uit video deur iFlair Photography.

Van eens ’n modelrepubliek tot waar die Vrystaat op bykans elke front in die knoffel is, het die onthullings oor die Vrede-suiwelprojek ook nie juis bygedra tot positiewe vertroue nie.

Eens het die Vrystaat bekend gestaan as ’n modelrepubliek. Nou lê die hoofstad, Bloemfontein, se stadsaal in puin.

Die stad het oor die jare as die Rosestad bekend geraak, maar verlede jaar met die roosfees moes rose van elders ingevoer word.

Eens was melkkwotas baie werd en is ten duurste van die hand gesit.

Die bond wat as Vrystaat bekend staan, het die gereelde houer van die Curriebeker begin word, al kon ’n kleinerige stad soos Bloemfontein nie werklik die finansies daarvoor oplewer nie, en was dit besonder moeilik om in die Superreeks konsekwent mededingend te wees.

Teen dié tyd weet almal, behalwe skynbaar die ANC se Zupta-ondersteuners, dat daar ’n liederlike slang in die gras is met die Vrede-suiwelprojek. Selfs nadat die batebeslagleggingseenheid ’n wydlopende bewaringsbevel gekry het, waaruit dit duidelik blyk die projek moes primêr dien om belastinggeld na nou reeds oorbekendes te kanaliseer. Selfs ’n troue is glo so betaal – ’n hele R30 miljoen.

KPMG se reputasie het ’n liederlike knou weg, en ook ander instansies het maar bedenklik daarvan afgekom.

Maar die ANC gaan kies Ace Magashule, met sy erg omstrede Operasie Hlasela, tot sekretaris-generaal. Weliswaar is Comrade Eisj, soos hy in die handel en wandel bekend staan, goed laat verstaan dat sy moeilikheid met die Valke en ander, sy eie moeilikheid is en hy nie kan staatmaak daarop dat sy nuwe posisie hom uit die sop gaan hou nie.

Volgens die DA is die Vrede-suiwelprojek slegs een van verskeie projekte wat bedenklik is. Baie lesers sal seker onthou van die R40 miljoen wat spandeer is om vir die provinsiale regering ’n nuwe webtuiste te bou. Of is dit nou R140 miljoen soos wat sommige berigte gelui het?

En die openbare beskermer, wie se verslag hieroor ná ’n lang vertraging nou reeds bekend gemaak sou wees, het steeds nie die lig gesien nie.

Ace Magashule. Foto: GCIS/Flickr

Die Vryheidsfront Plus, by monde van sy woordvoerder oor landbou, Wouter Wessels, sê die bewaringsbevel wat deur die Vrystaatse hooggeregshof teen die Gupta-maatskappy Estina (Edms.) Bpk. toegestaan is, word deur die party verwelkom en is bevestiging van die party se standpunt oor die knoeiery agter die skerms van die Vrede-suiwelprojek deur die Vrystaatse departement van landbou en ander rolspelers.

“Die betrokke amptenare en politici, soos premier Ace Magashule en minister Mosebenzi Zwane, moet persoonlik verantwoordbaar gehou word vir die ooglopende kriminaliteit wat met die projek gepaard gegaan het.

“Die VF Plus het gedurende 2017 reeds skerp beswaar gemaak teen die departement se versuim om hul jaarverslae vir die 2014/15 en 2016/17 boekjare ter tafel te lê.

“Dit is ʼn duidelike aanduiding dat die departement poog om iets weg te steek en het die regter ons nou reg bewys. Die VF Plus dring steeds op ʼn forensiese oudit van alle oorbetalings deur die departement aan implementeringsagente, soos Estina aan.”

En dis nie asof die provinsie nou oorloop van melk en heuning dat die uiters skraps hulpbronne vir die persoonlike gewin van bedenklikes afgeskep kan word nie. Die provinsie se damme is oor die algemeen leeg, en die strate dikwels vol riool.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa gaan tydens sy besoek aan Davos sy hande vol hê om te verduidelik hoekom pres. Jacob Zuma steeds die president van die land is (al is hy wyslik tuis gelaat), en hoe die berg van korrupsie effektief getakel gaan word as van die hoofverdagtes steeds in sleutelposte is. Hy het weliswaar ’n groot slag geslaan deur Eskom se direksie af te dank en opvolgbevele te gee, maar Eskom is net een van talle probleme.

Ramaphosa het inderdaad groot skadebeheer om toe te pas. Zuma was nie die enigste Suid-Afrikaanse president wat voorheen daar skandes gemaak het nie.

Suid-Afrika het bemoedigende nuus uit Davos nodig. Min Suid-Afrikaners het verwag dat die ANC oor die vermoë beskik om van die land ’n modelrepubliek te maak, maar nou het die De Lille-debakel nog die persepsie van ’n beter DA-(geleide) regering kom knou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marina ·

Dit is alles waar wat Herman hier gesit het in sy nuusberrig. Die groot vrae is:” Wie gaan ons land uit hierdie gemors uit red? Hoe lank gaan dit neem om al hierdie skade te herstel? Waar gaan als eindig?” Self gemaakte wette wat deur die ANC gemaak word toegepas deur die ANC en hulle is steeds onaantasbaar! Wie gaan boet vir die skade wat die ANC landswyd veroorsaak? Natuurlik word die belastingbetaler as geiselaar gehou deur om vir alles op te dok wat die ANC beskadig en vernietig. Waar word die streep getrek en deur wie gaan dit gedoen word? Hoe lank gaan dit nog neem?

Ek is Sam ·

Ons het mos gestem hiervoor, en hoor my mooi: dis maar die begin van die vernietiging en verwoesting van alles wat eerbaar is, alles wat korrek is …

Ons sal oorbly soos ‘n skermpie in ‘n wingerd, soos ‘n slaapplek in ‘n komkommertuin.

marous ·

Groter kans om ‘n swerm Dodos lewend in die Karoo te vind as een liberalis wat sal erken dat hulle ja gestem het…..

Eish ·

Wanneer laas kon ons met uitbundige vreugde uitsien na die lewe? Nie omdat alles reg loop nie, maar omdat daar hoop was en die hoop beskaam nie.

Casper Labuschagne ·

Daar is iets waaroor geen mens durf skryf nie en wat niemand in beskaafde geselskap ooit sal sê nie. Maar ek gaan die gruwel by sy naam, prontuit noem: Postkoloniale verval – dit kan regoor Afrika waargeneem word, maar is gans onbekend in die Amerikas en kom net in Asië voor in kommunistiese lande soos Myanmar, Vietnam, Kambodjië en Laos. Postkoloniale verval is die verklaring vir amper alles waaroor Herman Toerien hierbo skryf.

Hendrik ·

Ja nee ons sal nou met Plan B die post-demokratiese opbou moet begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.