Nuuskommentaar: Onewehandige rassisme raak nou gek

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto.

Gaan Theo Venter, bekende politieke kommentator van die NWU, vas staan op sy regte om nie ’n rassis genoem te word waar geen rassisme ter sprake is nie, of gaan hy ’n kompromis-ooreenkoms beding wat die minimum skade aan sy loopbaan en naam gaan aanrig? Selfs die kwessie van akademiese vryheid, so lyk dit, is nou op die spel. Hoe gaan premier Helen Zille van die Wes-Kaap reageer op die jongste sage in haar getwiet oor kolonialisme wat nie net sleg was nie? Beweeg die land nie nou baie na aan die punt waar nie net die aanraak van rassisme gek begin raak nie, maar ook wat as rassisme beskou word?

Op 10 Augustus 2016 skryf Maroela Media in sy nuuskommentaar: “Die beeld van die Suid-Afrikaanse regering is wyd erg gekneus en daar is nuwe beskouings oor presies wat rassisme is – wat weer sake vir Solidariteit en AfriForum kan bemoeilik. Hoe gouer die kwessie uitgepluis en opgerol kan word, hoe beter.”

Sedertdien het Maroela Media konsekwent geskryf oor die kwessie van onewehandigheid wat skeefgetrek hanteer word, en so rassisme aanblaas.

AfriForum het selfs ’n eenheid teen rassisme gestig, met ’n groot deel van sy fokus op hierdie onewehandigheid. Verskeie sinonieme vir “onewehandigheid” is ingespan, wat dit nie so maklik maak om via elektroniese argiewe te sien met hoeveel erns Maroela Media die kwessie hanteer het nie.

En tog het verskeie meningsvormers – soos rubriekskrywers uit die media en akademie, voortgegaan om rassisme te hanteer asof, in Suid-Afrika in elk geval, iemand net ’n slagoffer van rassisme kan wees as die persoon ook ’n slagoffer van apartheid was. Kortom, iemand moes (of moet) swart wees, en daar is nou juis weer ’n debat oor of “swart wees” ook Indiër en bruin insluit. Die sinvolste reaksie oor die EFF se Floyd Shivambu se rassistiese uitsprake teenoor Ismail Monomiat, adjunk-direkteur-generaal van finansies, kom van dr. Piet Croucamp op Netwerk24.

Verskeie intellektuele bruin mense verwys na hulself as swart, onder wie Jonathan Jansen. Hy het verder gegaan en byvoorbeeld na prof. Russel Botman, afgestorwe Matie-rektor, ook as swart verwys. ’n Soort uitbeelding van ’n eretitel, en wat as vrywaring moes dien om verdink te word van verbintenisse of bevoordeling deur apartheid.

Die kwotastelsel met terme soos African om die swart kwota te definieer het egter getoon dat die regering se beskouings oor ras anders sou neerslag vind. En daarmee saam ’n liederlike vorm van rassisme, naamlik onewehandigheid.

Voortaan, so het dit gelyk, sou ’n persoon se “vermoë” om ’n rassis te wees, afhang van sy ras. Is hy wit, is iets wat hy gesê of gedoen het, rassisme? Sê die swart persoon dieselfde of erger, is dit spraakvryheid. AfriForum het selfs ’n skrobbering van die Menseregtekommissie weg oor dié benadering gekritiseer is.

Om in die dampkring van onewehandigheid beoordeel te word, is rassisties, finish en klaar.

So tussenin het nog ’n verwante saak gemuteer. Die wortels hiervan kan in die Black Facing-voorval in ’n Tukkie-koshuis gevind word. Die lewe van twee meisies wat byna verwoes is omdat hulle nie geweet het hoe ’n sensitiewe saak dit is nie. En daardie lysie van sensitiewe kwessies raak nou al baie lank. Dis iets wat nie altyd baie mooi afgebaken is nie, soos blyk uit die onlangse uitspraak van die konstitusionele hof dat iemand (’n wit mens) binne ’n sekere konteks sy werk kan verloor deur ’n swart man ’n swart man te noem. (Duidelik bedoel die hof dat die persoon eintlik bedoel het om die swart persoon die k-woord toe te snou. Vonnis iemand dus vir sy vermeende gedagtes eerder as iets wat hy werklik sê of doen.)

Helen Zille se onverkwiklike dispuut deur te twiet dat nie alle aspekte van kolonialisme sleg was nie, het nou weer ’n draai kom maak toe die openbare beskermer in ’n verslag dissiplinêre optrede teen Zille voorstel. Praat van argaïes! Wat baie Suid-Afrikaners betref, het Zille reeds verskoning gevra nadat sy die waarheid getwiet het, maar omdat weens rashistoriese opvattings aanstoot geneem is. Prof. Pierre de Vos het die OB se aanbeveling as “vreemd” beskryf en dat selfs sy studente van beter weet, en Tony Leon, oudleier van die DA, het dit as “regtens rek”, beskryf. (Lees hier.)

Intussen het die bekende politieke kommentator, Theo Venter, ook in sekere kringe in die sop beland oor hy in ’n “debat” met Carl Niehaus, woordvoerder van die sogenaamde militêre veterane, gesê het Zuma was ’n swakker president as ’n hele rits vorige premiers en presidente, onder wie Hendrik Verwoerd. Hoewel verskeie swart en wit kommentators (oor die hele politieke spektrum) niks rassisties hierin kon sien nie, word Venter nou in verskeie kringe verguis. Sy eie rektor, prof. Dan Kgwadi, het ’n ondersoek na die voorval gelas, maar in die proses uitsprake gemaak wat klink na ’n uitspraak van skuldig voor daar nog met die ondersoek begin kon word. Trouens, hy het baie naby aan ’n strawwe vonnisoplegging gekom.

Dr. Croucamp het op ’n RSG-radioprogram, Kommentaar, gesê hy meen Niehaus het met sy twakpraatjies Venter geïrriteer, en dat Venter toe geïrriteerd daarop gereageer het.

Nog ’n politieke meningsvormer, prof. André Duvenhage, het in ’n radio-onderhoud kommer uitgespreek oor die uitwerking wat dié voorval gaan hê op akademiese spraakvryheid.

Die hele kwessie geskied teen die agtergrond van ’n Ramaforie wat al meer onder druk kom uit veral Zuma-aanhangers se geledere, maar ook waar Ramaphosa oor die grondgryp-kwessie water met ’n emmer met ’n liederlike gat in probeer aandra om die ekonomie te laat groei. Maar die ekonomie het reeds die skade van hierdie sotheid “ingeneem” en kry eenvoudig nie gepresteer ooreenkomstig die potensiële vermoë nie.

’n Lomp hantering van die rassekwessie, waarop die grondgryping grootliks neerkom, is werklik nie nodig nie.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Hendrik ·

Lomp hantering van dit en van dat. Ek voel op hierdie oomblik dat hulle my net as Afrikaner moet uitlos. Ons is self besig om te kyk na ons kultuur, opleiding, selfstandigheid, toekomstige werksverskaffing van ons eie mense in ons selfstandige areas waar ons as homogene groep die meerderheid is. Die inkoop van die gemaklike kom stadige maar seker in die konsep van selfstandigheid en ondersteuning van eie ondernemings.

gatiep ·

Ons is maar net besig om vryheid van spraak te verloor.
Gaan kyk wat aangaan in Engeland met Tomy Robertson. Dis daar al erger as by ons. Jy mag niks teen Moslem doen of se nie.
Selfde taktiek as by ons. Net die een ras wat verskil om van die witmens ontslae te raak.

Pietman ·

Ons het reeds spraakvryheid en ‘n onpartydige regersbank (Grondwethof) verloor. Ons gaan dit met baie groot moeite indien ooit weer terugwen. Hoeveel mesne gaan nog in die toekoms hul werk verloor of tronk toe gaan oor verkeerde opinies ??

MTSteyn ·

Korrek; ek was nog altyd van mening dat Zuma (alhoewel uiters swak) nog steeds meer Afrikaner-vriendelik as sy voorgangers of opvolgers was / gaan wees.

Sy opruiende toesprake was slegs dit; toesprake. Onse Cyril gaan genuanseerde toesprake lewer, en so die gehoor streel van naiewe blankes, terwyl hy voortgaan om jou eiendom, en natuurlik jou toekoms, weg te neem.

Goeie tye wat kom!

Casper Labuschagne ·

@Gerhard – dit sê ek al lankal, vir al sy menigte foute het ons geweet wie en wat Zuma is en swart nasionalisme is eerder versoenbaar met die belang van ons minderheid as swart bolshevisme. En in al die tyd wat Mbeki en Zuma daar was, was Ramaphosa ook alyd teenwoordig, so moet glad nie vir Ramaphosa as die ridder op die wit perd beskou nie.

Paul ·

Al wat hulle daardeur bereik is om mens al meer sinies te maak en die bietjie respek wat daar nog was te laat verloor, asof dit nou aan hulle sal saak maak. Mens kom tot op ‘n punt wat jy wil vra, “so what, wie gee om?”

Casper Labuschagne ·

As dit die persgesig black-facing voorval is – na die beste van my wete was die twee dames by Maties gewees, nie Tukkies nie.

Herman Toerien ·

Hallo Casper. Die eerste voorval was by Tuks en het as die Blackfacing-voorval bekend gestaan. Die tweede was inderdaad by Maties, maar die meisies het hulle donkerpers gemaak om die naghemel vir ‘n tema uit te beeld. Die twee Matiemeisies was in elk geval onbewus van die Tukkie-insident toe hulle hul voet daarin gesit het.

Nico ·

Prof Noel Ignatiev verduidelik die kwessie baie mooi soek hom gerus op youtube.

John ·

Hou-den-bek en ‘n toe-bek-is-heel-bek en jy-sal-nie-bars-as-jy-liefs-stilbly-nie en nog talle meer is bekende sedinge, maar wat impliseer dit dat iemand nie moet reageer nie en wat se dit, as jy nie dit mag doen nie kan baaaaie meer aan jou gese en gedoen word waarop jy dan nie moet reageer nie en wat se dit? Hierdie is ‘n sluwe spel wat uiteindelik op selfvernietiging dui met gruwelike verlope en uitlope. Mens kan dink… darem nog dink… maar dit sal seker ook binnekort verbied word. Dit was al in die geskiedenis van die mensdom soos onder kommunisme ea. Niks op aarde is sommer net toevallig nie. As mammie kla sy het niks om vanoggend aan te trek nie, weet pappie wat gaan volg, en hy sit sy bankkaart in sy sak. Hoe dom is ons Afrikaners… onewehandig… so een hand is slimmer as die ander? Is dit die oorspronklike betekenis?

Johan Claassen ·

….ek mag my mond oopmaak solank ek hom nie oopmaak nie…. weer net voorbeelde dat die verdraagsaamheid wat ‘hulle’ eis, hulle onverdraagsaamheid teenoor ‘ons’ word. Hoekom sal ‘n mens verbaas wees?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.