Nuuskommentaar: Oorleef Zuma werklik mosie van wantroue en het Afrikaner belang daarby?

Pres. Jacob Zuma.  Foto: DoC

Pres. Jacob Zuma. Foto: DoC

Amptelik is die DA se mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma met 221 stemme teen 113 verslaan, met agt LP’s wat op die draad bly sit het.

Die uitslag is geen verrassing nie. In Suid-Afrika laat partye hul lede met groot uitsondering toe om volgens hul gewete te stem en die ANC sou sonder ʼn geheime stemming bankvas hul stem vir Zuma uitbring.

ʼn Interessante aspek is dat die IVP nou blykbaar die NFP begin navolg om  ʼn mini me van die ANC te wees.

Maar of die breë kieserspubliek daarbuite enige vertroue in die president het, is  ʼn heel ander vraag. Maar dit moet ook dadelik gestel word dat Zuma om  ʼn verskeidenheid redes wel ook baie steun het – uit KwaZulu-Natal se platteland, uit Zoeloe-gesinde sentimente, van bevoordeelde kaders en vele meer.

Die debat was egter baie waardevol. Diegene wat nog getwyfel het of Baleka Mbete as speaker ontplooi is om ANC- en Zuma-belange te dien, hoef nie meer te wonder nie. Sy het onder meer besluit die uitsprake van die konstitusionele hof bind nie die parlement nie en dat die parlement (lees: Mbete) haar eie reëls maak. Ingevolge ʼn uitspraak van die konstitusionele hof mag Suid-Afrikaners Zuma  ʼn dief noem (die ANC verskil in sy vertolking van hierdie uitspraak), maar binne die parlement mag dit nie gesê word nie.

Sit dit in jou pyp en rook dit! Die EFF is reg hieroor dat dit nie sin maak nie, omdat LP’s juis méér spraakvryheid binne die parlement behoort te geniet as die gewone burger daarbuite. LP’s word immers deur  ʼn staande privilegie beskerm wat hulle van eise en vervolging vrywaar oor wat hulle binne die parlement gesê het.

Nogtans is genoeg vuil wasgoed van die president in die openbaar gewas om in enige beskaafde land die president rooi van skaamte die aftog te laat blaas.

Die debat was belangrik en dit was nodig.

Maar dit het onheilspellend ook getoon hoe sake wat vir die Afrikaner uiters belangrik is, net nie deel van die openbare debat in die hoogste raadsaal is nie.

Dié slagordes skuif Vrydag na Potchefstroom waar  ʼn spesiale raadsvergadering van die Noordwes-Universiteit plaasvind. Daar sal veral met groot afwagting gekyk word na die koers wat die Potchefstroomse kampus voortaan sal inslaan.

Dieselfde dag is die keerdatum vir die eis wat twee voormalige studente teen die Kovsierektor self en die UV ingestel het nadat hulle glo sonder ʼn behoorlike proses geskors en as rassiste gebrandmerk is, maar deur  ʼn ope hof en die Menseregtekommissie onskuldig bevind is.

Die hoofartikel van die drie groot Afrikaanse dagblaaie toon, bedoeld of onbedoeld, dat die Afrikaner se sake van belang nie by die groot sentrale debat lê nie. Die Volksblad spreek die PUK-kwessie in  ʼn uitstekende, ewewigtige hoofartikel aan. Hoewel baie jong Vrystaters op die PUK studeer, val Potchefstroom buite sy lesersgebied. Die feit dat talle oud-Pukke hulle in die Vrystaat en Noord-Kaap bevind, regverdig egter hierdie aandag wat die PUK nou daagliks in goeie artikels kry.

Beeld verkies om sy aandag steeds deur Steve Hofmeyr gevange te hou en lei met die opskrif: Wat jy saai sal jy (en ander maai) Steve Hofmeyr. Die klein byltjies word weer lustig geslyp.

Die Burger se hoofartikel, Nkandla se skaduwee hang al swaarder, is klaarblyklik voor die mosie van wantroue geskryf, maar pas nogtans mooi daarby aan. Die Burger wys byvoorbeeld mooi daarop hoe Zuma woorde in die mond van die Openbare Beskermer gelê het en dit wat sy in haar Nkandla-verslag geskryf het, verdraai het.

Dui hierdie drie hoofartikels aan dat die Afrikaner al hoe meer vervreemd voel van hoofstroompolitiek en laer trek om sake wat vir hom na aan die hart lê? Van hierdie sake, soos plaasaanvalle (en daar was gister nog ʼn plaasmoord), is só belangrik dat dit sentraal in die hoofstroompolitiek behoort te staan, maar met alle mag weggeweer word. Die vertrapping van tale se grondwetlike regte behoort in die sentrale arena te staan…

Die harde werklikheid is dat die Afrikaner, deur sy belangegroepe, op minstens drie fronte veg om nie vreemdelinge in hul eie land te wees nie. Daar is die tipiese Afrikanersake, daar is die nasionale sake wat regstreeks of onregstreeks  ʼn invloed op die Afrikaner uitoefen soos “regstellende aksie” (eintlik rassenepotisme) en SEB en ook die internasionale front waar stadig van loopgraaf na loopgraaf gevorder word. ʼn Handjievol LP’s veg saam.

Dit is eie aan die aard van die Afrikaner van die vroegste dae af dat hy sy kinders in  ʼn beter plek wil agterlaat as waarin hy self geleef het.  Die handdoek mag nie maar ingegooi word nie, want hierdie is  ʼnʼn stryd wat deur vasberadenheid gewen kan word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Arno ·

Ek stem saam dat ons belange nie noodwendig tans bespreek word nie, maar ek dink nogtans dat wat in die parlement aangaan ons net soveel soos enige ander Suid-Afrikaanse burger raak. Ons is immers in eerste instansie Suid-Afrikaners en daarna eers Afrikaners.

Hendrik ·

Ek is wel bewus wat in die parlement aangaan, maar as deel van ‘n minderheid kan niks daaraan gedoen word nie. Ons kan beslis ons stempel afdwing deur gebruik maak van burgerregtegroepe. Die regering het nog nooit die DA te woord gestaan nie in ‘n vergadering nie, maar hulle het met die VVK vergader om oor Afrikaner selfbeskikking te praat. Hoe het dit gebeur? Hulle is gedwing deur die hof! SA is ‘n regstaat en die hof moet gebruik word om jou regte te beskerm. Jammer om te gaan stem gaan die minderheidsgroepe niks help nie!

Martie ·

Selfbeskikking vir die Afrikaners onder die ANC sal so min gebeur as wat die kaders sal ophou steel.

anet ·

Dankie Herman vir al hierdie inligting so mooi saamgestel dat ons as lesers dit kan verstaan.
Daar is ‘n groot beklemming in my hart oor wat besig is om te gebeur, en dit voel soms dat alles verlore is vir ons Afrikaanse nasie. Dit is ons versus die Kommunisme.

Pretorius ·

Ons die Afrikaner is op die agtervoet ons probeer ons self te verdedig teen n oormag Britse organisasies. Al wat ons doen is verdedig alhoewel ons weet dat niks in die land sal beter gaan of word nie. Dit het tyd geword vir ons om saam te staan. Die Britte sal ons nie uitlos nie hulle haat ons en sal enige iets doen om ons te vertrap. Dit het tyd geword dat ons die Britse ANC,Landrover, Jaguar, Barclays bank en Gold Fields vervyder uit ons land ten einde ons toekoms te veseker. Hierdie Britte wil nie onderhandel nie hulle wil ons venietig.

Vic ·

Daar is bitter min sin in om baie tyd en geld te bestee aan sake soos taal, of Steve Hofmeyr, as ons mense in die honderde per jaar vermoor word. As ons nie nou iets doen om die veiligheid van ons mense te verseker nie is ons verlore. Afriforum en andere moet alle moontlike reserwes gebruik daarvoor, en ons moet self as individue bydra daartoe. Daar is geen kans dat die regering of buiteland of polisie ons sal beskerm nie.

Dr P E van der Dussen ·

Soos altyd ‘n pittige en deurdagte uiteensetting wat tot nadenke dwing. Rooi Vrydag, 2 Februarie 1990, het die Afrikaner en alle Blankes eensklaps leierloos gelaat. ‘n Kommunistiese mag is op die inwoners van die land losgelaat. Volgens Gilliomee was hulle enigste doelwit om hulle hande op die rykdom te kry wat die Blankes onder aansporing en leiding van die Afrikaner (Rabelani Dagada van Wits se dit onomwonde) totstandgebring het. Mandela. wat in 25 jaar tronklewe ‘n multimiljoener geword het, is skielik tot bekwame leier verhef wat ‘n bekwame regering sou bring. Doktorsgrade het orals opgeduik. Vals kwalifikasies is rondgestrooi en deur die “bekwame” nuwe regime misbruik om Blankes en bepaaldelik Afrikaners opsy te skuif. Swart multimiljoeners het skielik ontpop. Kommunistiese leidendes soos Mandela, Asmal, Pandor, Mbeki, tans Zuma en Ramaphosa en Nzimande het openlik hulle afkeer en haat teen die Afrikaner en die Blanke met woord en daad uitgespreek. En nie net teen die Afrikaner en Blanke nie, maar veral teen die Christendom wat duisende oortuigde Swart Christene insluit.
Blank, Swart, Gekleurd – gaan onder ware leierloosheid gebuk. Dit beteken dat niemand maar niemand op volks- en landsvlak koers en rigting aandui nie. Daar word met allerlei planne en besprekings en misleidings voortgeploeter. Die veronderstelde Blanke en Afrikanerleierskap staan magteloos teen die Kommunistiese democracy.
Is daar ‘n uitweg? Herman se artikel laat mens soiets sien. Ons het nie op volksvlak sterk leiers in sterk posisies nie, maar ons het hulle wel op grondvlak. Instellings soos Solidariteit met sy vertakkinge is daar. Akademia is daar. Plaaslike leierskap is sigbaar in die oprigting van privaat volkskole. Plaaslike leierskap het in die strydnood van die Engelse oorlog kommandante en generaals laat voortkom. Uit die plaaslike leierskap sal ook streeks- en volksleiers na vore kom. Die rigters soos Gideon, Simson, Samuel het plaaslik na vore getree. In ons eie geskiedenis is daar Adam Tas, Hendrik Potgieter, Piet Retief, Andries Pretorius, Sarel Celliers, Koos de la Rey, Christiaan de Wet, Paul Kruger, J B M Hertzog, Martinus Steyn, te veel om op te noem, manne wat uit plaaslike leierskap tot volksleierskap gevorm is. Dit het nie in een dag of jaar of dekade gebeur nie.
In ons geval sal geslagte dalk daaroorheen gaan. Maar dis belangrik en moedgewend om te sien dat die huidige opkomende geslag reeds opgestaan het. Hulle is eensklaps werksekerheid in die openbare sektor ontneem en moes op eie voete gaan staan as hulle wil oorleef. Dit het hulle van slaafse navolging van meerderes bevry, aan hulle die betekenis van vry wees tuisgebring. Hulle werk hulle eie heil uit, ook maatskaplik soos in die onderwys vir hulle kinders.
Die Bybel leer: Doen wat jou hand vind om te doen, en doen dit met alle krag. Nemand hoef daarna te soek nie. Dit word voor hom gebring as hy dit net wil raaksien. En al is die taak hoe klein, die Bybel vra: Wie sal die dag van klein dinge verag? G A Watermeyer het by geleentheid geskryf “dat duim vir duim die Vierkleur rys solank die wakis winste wys”……. Vryheid kom nie van elders en van ander nie. Vryheid begin in en deur elke mens.

HEVW ·

Dankie Dr. u het dit raak en volledig gestel. Om enige gedagte by te voeg sal nie so betekenisvol wees nie. Die Berlyn – muur en die sloop van stantbeelde asook die slagspreuk ;”Kommunisme is dood” mag niemand gerusstel nie. Dit woed in sy felste gestalte
in verskillende werelddele voort. Baie van ons is siendeblind en besef nie dat die groot eksponente van hierdie ideologiee westers gesetel is nie. Natuurlik het dit sy “skuilname” soos humanisme, liberalisme en die moderne benadering van demokrasie, veral die Afrika benadering met eie beklemtoning van sekere gesigspunte. Selfs die Christelike geloof word ook slagoffer hiervan. Ek noem dit want ons Afrikaner- volksbesef word hiermee bevlek. Ons besef nie die dominee op die kansel, die pers ens., ens. is reeds ook deel van hiedie gemaskerde of ook nou reeds meer ope ideologie nie. Ook op burgerlike- gemeenskapsvlak sal ons hewige stryd beleef, soos tans die geval met die PUK en ook op vele breer spektrum. Hierdie subtiele, ook opelike aanslag sal oral geedentifiseer en by die naam beveg moet word.Veral by ons jeug vanaf moedersknie moet christelike lewensbeginsels gevestig word. Ek oordeel dat daar n sterk Christen – Afrikaner- ouervereniging op die been gebring moet word, Ja stryd is altyd verkwikkend en ook hartseer. Dit het sy vreugde van soete oorwinning maar ook smart en teleusrtelling. Soms wat gereken word as oorwinning is al die tyd nederlaag en ook andersom. Maar dit bly altyd vormend, karakterbouend. Vir ons Afrikanervolk bly net een voorwaarde ons stryd moet Christelik – Calvinisties wees.

sensasie ·

Mense moet ophou dink dat die buite wereld dalk sal intree en ons kom red van die volks moorde. Kyk wat gebreur vandag nog met die laaste oorblywende Biafra stam in Nigerie. As jy nie vir jouself gaan opstaan gaan niemand anders dit doen nie.

Henry ·

“…ʼn Interessante aspek is dat die IVP nou blykbaar die NFP begin navolg om ʼn mini me van die ANC te wees…”

Raak waarneming Herman.
Tragies dat Buthelezi wat ideologies gesproke altyd deel van die Luthuli ANC vleuel was, hom nou by die korrupte Zuma spul aansluit. Laasgenoemdes wat onder die beheer van die Stalinistiese SAKP is.
Die sluwe vente wat vir Zuma hanteer, het met enkele heuningkwas hale ou Gatsha se ondersteuning ingepalm.
Foeitog…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.