Nuuskommentaar: Renate Barnard-saak ‘n oorwinning vir rassediskriminasie

Renate Barnard

Renate Barnard

Die vreugdevure brand hoog oor Renate Barnard, en haar vakbond Solidariteit, se oorwinning in die appèlhof. Na sewe jaar het dié hof beslis dat haar stryd teen onbillike rassediskriminasie nie verniet was nie. Dié stryd het die afgelope paar jaar deur die arbeidshof, die arbeidsappèlhof en nou die appèlhof wipplank gery.

Renate het na die jongste uitspraak die Here gedank. Beeld skryf dat sy nie kon ophou glimlag nie, en elke regsinnige mens sal haar daardie glimlag en meer gun.

Flip Buys, hoof van Solidariteit skryf:  “So pas gehoor ons het die Renata Barnard Appèlhofsaak in Bloemfontein met kostes gewen! Meer besonderhede volg later. Die Regters het ook vir ons die kostes van die vorige Arbeidsappèlhof wat ons verloor het toegeken. Hierdie is waarskynlik ons grootste hofoorwinning ooit, en ons hoop dit kan duisende lede vorentoe help. Dankie aan die hele span wat vir soveel jare so hard aan hierdie saak gewerk het. Ons is baie bly vir Renata. Ons Regsmense sal die saak ontleed om die volle impak daarvan aan almal deur te gee.”

Renate se kaalvoettog oor die hoë berg van onreg raak haar egter nie alleen nie. Die uitspraak in die arbeidsappèlhof is reeds onlangs deur regter Hilary Rabkin-Naicker in die arbeidshof in Kaapstad gebruik om die enigste blanke in die groep wat Solidariteit teen die Departement van Korrektiewe Dienste verteenwoordig het, van die ander uit te sluit.

Ingevolge die invloed van ‘n hoër hof se uitsprake op die presedentereg het die regter waarskynlik geen keuse gehad nie. Solidariteit neem dele van daardie saak op appèl, in ‘n proses onderweg na die Grondwetlike Hof, en dit sal interessant wees om te sien hoe die appèlhofbeslissing in die Renate-geval, ‘n impak op die DKD en ander sake gaan hê.

Die appèlhof het, gebonde deur wetgewing, bevind dat ras wel belangrik in regstellende optrede moet wees. Moontlik die groot deurbraak in hierdie saak is dat die appèlhof ook bevind het dat daar unieke, individuele omstandighede in sake kan wees. Ad. Paul Hoffman skryf in Politicsweb dat begunstigde optrede teenoor persone en groepe persone net diegene wat inderdaad deur onbillike diskriminasie benadeel is, behoort te bevoordeel.

Omdat “regstellende aksie” ‘n baie swak vertaling van “affirmative action” is – ook uitgewys deur die skrywers van Fundamental Rights in the New Constitution, word in hierdie beperking na “affirmative action” verwys. Die skrywers het die term “corrective action” verkies, hoewel een van die skrywers, regter Dennis Dacvis, een van die arbeidsappèlhofregters was wat met ‘n “affrirmative action”-beslissing teen Renate beslis het.

Wêreldwyd word al hoe meer vrae gevra oor die outomatiese bevoordeling van mense bloot omdat hulle tot ‘n sekere groep, veral ras, behoort. Pres. Barack Obama het byvoorbeeld aangedui dat sy kinders nie vir “affirmative action” behoort te kwalifiseer nie, want hulle het in hul lewens nie ‘n dag onbillike diskriminasie beleef nie. Dit is in teenstelling met die miljardêr, Tokyo Sexwale, wat destyds as sakeman tydens ANC-werwing onder bruin mense gesê het hy wil ook nog sien dat sy kinders – bruin kinders omdat hy met ‘n wit vrou getroud was – ook die voordeel van “affirmative action” sal geniet.

Presies wat sou Sexwale in die proses wou reggestel het?

Deur die individuele omstandighede in ag te neem, kan die probleem van geërfde armoede en agterstande aangespreek word. Wie sou byvoorbeeld die grootste aanspraak op ‘n studiebeurs hê? Die wit seun wat weens armoede tuis in ‘n kinderhuis beland het, of die dogter van ‘n swart miljardêr?

Die individuele toets skakel, of behoort die moontlikheid uit te skakel dat dieselfde persoon by herhaling “reggestel” word. Hierdie herhaalde “regstel” onderskei juis “affirmative action” van regstellende optrede.

Die appèlhof het ook korte mette gemaak met aanstellings- en bevorderingspraktyke wat die staat se diensleweringsvermoë ondermyn – juis ook omdat dit strydig met die grondwet is. Die uitspraak kan dus moontlik ook vrae oor die juridiese regverdiging van die ANC se amptelike beleid van kaderontplooiing plaas.

Dit sou baie gevra wees om te glo die staat sal nie die grondwetlike kwessies ter sprake op appèl na die grondwetlike hof te neem nie. Indien wél bloei ‘n mens se hart by voorbaat vir die verdere uitgerekte trauma van Renate.

Onlangs skryf mnr. Dave Stewart, hoof van die FW de Klerkstigting, soos volg: “In 2004 het dit (nie-rassigheid) ’n verdere terugslag beleef in die deurslaggewende (Grondwetlike Hof) saak van Die Minister van Finansies v Van Heerden. In sy beslissing het die Konstitusionele Hof weggedoen met die versigtig opgestelde waarborge in artikel 9 en op arbitrêre wyse verklaar dat enige diskriminasie ingevolge artikel 9(2) ‘vermoedelik regverdig’ is en nie teen artikels 9(3) en 9(5) getoets hoef te word nie. Dít ten spyte van die grondliggende stand van nie-rassigheid en die feit dat nie-diskriminasie ’n nie-aantasbare reg is wat nie herroep kan word nie, selfs nie in geval van ’n noodtoestand nie. In sy afsonderlike beslissing het regter Albie Sachs verskil van die Hof se benadering. Alhoewel hy saamgestem het met die beslissing en op ondubbelsinnige wyse die behoefte aan remediërende stappe bevestig het, het hy die beroemde opmerking gemaak dat  ‘…dit belangrik is om te verseker dat die proses om gelykheid te behaal uitgevoer word op só ’n wyse dat die baba van nie-rassigheid nie saam met die badwater van remediërende stappe uitgegooi word nie.’

Dit is presies die kwessie waarmee die DA tans worstel: moet dit die baba van nie-rassigheid saam met die badwater van remediërende stappe uitgooi?

Die ANC se benadering tot remediërende stappe het definitief die baba uitgegooi.”

Die politieke momentum is egter teen die stryd om regstellende optrede los van rasgebaseerde “affirmative action” te maak. Die kwessie is byvoorbeeld onlangs duidelik onderstreep toe die DA sy “vliegramp” beleef het, en daarna weer sy verbintenis tot rasgebaseerde SEB bevestig het – onderhewig aan sekere bepalings. Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, wou per twiet weet, ná hy van die uitspraak verneem het, of dit vir die DA ‘n les inhou?

By ‘n onlangse UNPO-konferensie in Kaapstad, het mnr. Pieter Vorster, leier van die Afrikanerbond, onder meer die volgende gesê:

“Veel is al gesê en geskryf oor die reënboognasie en sy eenheid sedert 1994.Maar deesdae word elke ding in Suid-Afrika egter weer volgens rasselyne, en spesifiek volgens groepe – die Swart Afrikane, Bruines, Wittes en Indiërs/Asiërs omskryf. Met verwysing na die Sensus van 2011 deur Statistiek SA. Dit is die riglyn wat die Suid-Afrikaanse regering se rassebeleid van 2013 bepaal, en dit is die enigste maatstaf vir regstellende aksie beleid, breë-basis swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) en aanhoudende oproepe om transformasie. In ’n toespraak voor die Internasionale Vredesimposium in Brussels wat onlangs op 4 November 2013 gehou is het voormalige president FW de Klerk gewaarsku, dat ‘die mees onheilspellendste bedreiging vir diversiteit die toenemende aandrang is dat minderhede moet konformeer tot die doelwit van ingrypende en omvattende demografiese verteenwoordiging in die openbare, privaat en nie-regeringsektore’.”  

Elke Suid-Afrikaner wat die rug op onreg wil keer moet die hoed hoog lig vir die dapper Renate en haar vasberade vakbond Solidariteit.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae