Nuuskommentaar: SA in die knyp, maar presies hoe groot is die gemors?

President Cyril Ramaphosa (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Opposisiekiesers het min of meer een ding in gemeen … Suid-Afrika se ekonomie is kniediep in die knoffel. Oor hoe groot en ernstig die probleem is, kan verskil word, en baie van die ergste swartgalliges reken dat dinge reggeruk kan word – weliswaar met pyn, as die regering nou begin om sake reg te ruk. Ander reken die kern van die probleme is in die genetika van die ANC vasgeweef – kaderontplooiing, korrupsie, onbevoegheid, magsugtig en vele meer en dinge kan slegs met die ondergang van die ANC reggeruk word. In hierdie poel van onderstrominge spartel pres. Cyril Ramaphosa min of meer op een plek rond soos die onderstrominge hom heen en weer meesleur. Tog is daar van die voorste ekonome en industrialiste wat hier vasbyt omdat hulle glo dinge kan, en sal, reggeruk word.

’n Paar dekades gelede was daar ’n fliek, Life according to Garp. Die fliek het gefokus op die andersheid van kyk na die lewe, soos “gesien” deur die oë van ’n man wat op ongewone wyse verwek en deur sy eiesinnige enkelma grootgemaak is. Die kyker kon nie anders nie as wonder hoeveel van die wêreld waarin hy of sy self grootgeword het, ten beste deur die algemeen gangbare, politiek-korrekte bril van die oomblik verklaar kon word.

Die interessante was om tot enkele jare gelede opeenvolgens na twee RSG-programme te luister – eers Kommentaar met hoofsaaklik politieke analiste en kommentators, en regstreeks daarna ’n soortgelyke program waar ekonome die paneellede uitmaak. Soms was dit opvallend met hoeveel meer gesag die ekonome via ekonomiese gegewens die politiek kon ontleed as wat die politieke ontleders dit via politieke aanwysers gedoen het.

Die ekonomie en die politiek is deurlopend intens in wisselwerking, en dit is daarom nodig dat ekonomiese aanwysers nie gering geskat word nie. Uiteraard sal daar weerskante van die vakgebiede kundiges wees wat hulle skuldig maak aan die Engelse spreekwoord wat lui: “He do not call a spade a spade, but a shovel.” Kortom, iemand stel die werklikheid meer kras voor as die werklikheid.

Maar word die huidige situasie in Suid-Afrika krasser voorgestel as wat nodig is?

Dié vraag het pas weer met mening in die openbare domein beland deur ’n omvattende artikel deur die Brits-gebore, maar Suid-Afrikaans‑gebaseerde politieke ontleder dr. R.W. Johnson. Onder die beskrywings van Johnson wat op die internet te lese is, tel dié wat hom as een beskryf wat na die alarmistiese neig. Hy is dus, volgens hierdie waarnemers, geneig om die situasie erger voor te stel as wat dit werklik is. Daarby geld die beginselvraag – hoe goed is ’n politieke ontleder toegerus om ’n situasie aan die hand van ekonomiese faktore te ontleed?

Moet dit nie eerder andersom wees nie.

Maar Johnson kén klaarblyklik die ekonomie goed genoeg om so ’n vrysê oor die ekonomie te kan hê. Miskien is hy dalk juis beter daarvoor toegerus omdat hy nie aan spesifieke denkskole van bekende ekonome soos Friedman en Galbraith gebonde is nie. Hy sif met groot vaardigheid deur verskillende benaderings en maak van toepassing wat die beste op die situasie van toepassing kan wees.

Daar is immers vandag ’n oorvloed puik werke oor die ekonomie, of vertakkings van die ekonomie. Daar is byvoorbeeld verskeie werke van die omvang en kwaliteit as dié van Paul A. Samuelson se epiese werk, Economics. Alexander se Economic Geography is handig, maar so ook toegespitste werke soos Introduction to Modern Macroeconomics van John L. Thompson en ander, Modern Microeconomics van A. Koutsyianis en International Economics van Walter Areskoug, om maar ’n paar te noem. Voeg hierby boeke wat na spesifiek finansiële instellings en die rol van die staat op die ekonomie speel, verwys.

Tog herinner sy kennis-integrasievermoë as die fliek hierbo se titel – Life according to Garp. Hy klink heel gemaklik en gesaghebbend genoeg dat die jongste artikel net sowel die opskrif kon hê: “South African reality according to Johnson”.

Dit sou onmoontlik wees om in die bestek van een nuuskommentaar volledig na van Johnson se stellings en insigte te kyk. Hier word dus slegs enkele sinne uit die artikel uitgelig, en dit sal verbasend wees as by verre die meeste lesers hiervan nie reeds bewustelik of onbewustelik idees koester wat baie soortgelyk is nie. Dit moes net geformuleer en kollektief aangebied word om ’n geheelbeeld te vorm van die Groot Gemors waarin Suid-Afrika hom bevind. Heel tereg sal lesers nie presies dieselfde hierop reageer nie. Die uwe beskou sy eie formele opleiding in ekonomie nie as voldoende om hom sommer op die ekonomiese terrein te begewe nie, veral nie in die konteks van die Solidariteit Beweging waarvan Maroela lid is nie, en waar die beweging oor die dienste van ’n indrukwekkende paneel van ekonome, ekonomiese praktisyns en ekonomiese navorsers beskik wat deurlopend bydraes vir Maroela lewer nie. Met hierdie nuuskommentaar word hoogstens ’n deurtjie na die werklikheid oopgewikkel sodat lesers Johnson se artikel self kan lees en self tot gevolgtrekkings gekom kan word.

– Pres. Cyril Ramaphosa dra op die oomblik nie by tot die oplossing van die ekonomie nie deurdat hy onder die druk van faksies binne die ANC te veel spartel terwyl hy koersloos ronddobber.

– Die ANC se voortbestaan is op die duur in gevaar omdat faksies en vakbonde in verskillende rigtings trek, en veral nie wil aanvaar daar is nie befondsing vir planne soos dat die staat vir die salarisse van munisipale werkers van munisipaliteite wat in die hek duik, moet instaan nie. Die finansiering van die beplande Nasionale Gesondheidskema word ook hier genoem, en as onbekostigbaar beskryf.

– Johnson verwys na die omvang van salarisse wat deur mense in staatsverwante poste verdien word. Die onlangse storm nadat gesê is Suid-Afrika kan al sy skuld delg as al die staatsbesoldigdes se salarisse met 10% besnoei sou word, impliseer ’n hopeloos te groot staatskorps (of onproduktiewe sektor soos wat ’n te groot staatselement in die ekonomie genoem word), of dat hierdie amptenare se salarisse ongeregverdig groot is.

– Die ANC‑regering skenk te veel aandag aan “onbenullighede,” terwyl die regtige kardinale kwessies nie die nodige aandag kry nie. Almal sal beslis nie saamstem oor wat hy alles as onbenullig lys nie, soos die grondgrypplanne sonder vergoeding.  Moontlik is Johnson beïnvloed deur laat-versekerings soos dat slegs onbenutte grond, onder andere, vir onteiening sonder vergoeding geteiken sal word. Gegewe sy aansien as politieke ontleder maak dit egter min sin, veral oor die implikasies van die talle internasionale verdrae wat Suid-Afrika onderteken en bekragtig het, wat onteiening sonder vergoeding afkeur.

– Onder die ander “onbenullige” kwessies tel byvoorbeeld die nasionalisering van die Reserwebank, grondhervormingplanne wat voedselsekerheid sal bedreig, die hele sak petaljes met die Openbare Beskermer, en die gesprekke tussen Derek Hanekom en die EFF. Byna al hierdie kwessies dra by tot die skep van ’n beeld van ’n piesangrepubliek wat verwoestend op ’n land se internasionale beeld inwerk, en kan kwalik as onbenullig afgemaak word.

– ’n Aansienlike (nie onbenullige deel nie) van Johnson se relaas handel oor skuld, waaronder Eskomskuld, en toekomstige skuld vir die beoogde Nasionale Gesondheidstelsel, planne (of nie) om die e-tol‑stelsel met iets anders te vervang, en vele meer. Hoewel hy nie regstreeks die term van “pleistertjies uit eie bodem” op die skuldprobleem noem nie, steun hy duidelik eerder op die idee van ’n gekonsolideerde lening via die IMF. Die “pleistertjie”-konsep gaan te veel moet fokus op skuld delg deur nuwe skuld elders aan te gaan. Johnson meen trouens dat die oomblik waar Suid-Afrika by die IMF sal moet gaan bakhand staan al nader kom.

Slegs die grootste optimis of mees lojale eenogige ANC-kader sal ontken dat die land in die moeilikheid is, en dat dinge oor ’n breë front, insluitend ideologie, reggeruk sal moet word  om die ekonomiese potensiaal van die land te ontsluit. Hiervoor geld ’n aantal voorwaardes:

–  Daar moet voldoende mense wees wat nie net glo alles kan regkom nie, maar ook bereid wees om die regte ding te doen en dit kan doen.

–  Die probleme en struikelblokke moet geïsoleer en uit aktiewe deelname aan die land se toekoms gehaal word. Ter wille van voorbeeld stel hy voor moet die oranje oorpakke nou hul base begin vind – sonder aansiens des persoons.

– Leer uit die verlede en werp saam met onwerkbare praktyke ook die gekke ideologiese dwaalrigtings af.

– Bestaande kundigheid moet benut word, veral waar dit beskikbaar en onbenut is oor byvoorbeeld velkleur. Die konsep van tegnokrasie kan veel uitgebrei word as die hulp wat uit organisasies soos byvoorbeeld Solidariteit kan voortvloei, toegelaat word om te ontkiem en groei.

Daar is hoop, maar die hoop moet nie dikvellig en diknekkig afgewys word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
marco polo

Ek dink dit was oorle Jan Smuts wat destyds gese het in SA verwag ons altyd die ergste, maar dit gebeur nooit. Ek dink dit is vir meeste mense reeds verby die punt van ergste wat ons verwag het. Ek hoop van harte dat die ekonomie en die vlaag van misdaad en gewelddadige wetteloosheid omgedraai kan word, want ek wil graag teruggaan SA toe, maar helaas, daar is geen teken dat dit eens aangespreek word nie.

marous

Groter as die swart gat in die buitenste ruim wat alles insluk ….

Ore

Kommerwekkend is die feit dat SR weet maar steeks raak as dit by die oplossing kom.Waarom nie IMF nader nie en ons uit hierdie gemors kry? Populisme of net dom astrant?

Kobus

Die pret gaan begin wanneer die regering die IMF nader vir hulp. Die IMF sal help, maar met streng voorwaardes. Dit sal die volgende insluit: Laer staatsbesteding, minder staatsamptenare, privatisering van staatsbates, en hersiening van rigiede arbeidswetgewing en SEB. Dan gaan die vonke spat.

Elna

Ons almal probeer so hard om positief te bly in hierdie land. Ons bid elkedag vir die land maar elke oggend wat die son op kom raak als net erger en moeiliker vir almal van ons wat in SA woon. Suid Afrika kan nie meer omgedraai word nie en nog minder gered word. Suid Afrika het tot niet gegaan. Rus in vrede Suid Afrika.