Nuuskommentaar: Solidariteit Beweging – op weg na ‘n solidariteitsbeweging

In ‘n gevestigde grondwetlike demokrasie is die volgende elemente sterk aan die woel: ‘n Grondwet, meer as een politieke party, ‘n vrye media, ‘n onafhanklike regbank en aktiewe burgerlike organisasies. Hul belangrikheid volg nie noodwendig hierdie volgorde nie.

Terwyl sommiges groot opgee dat Suid-Afrika ‘n goeie grondwet het, en joernaliste hier en daar selfs daarna verwys as die beste in die wêreld, wys akademici daarop dat Suid-Afrika as grondwetlike demokrasie ver agter sommige Westerse lande is omdat die burgerlike organisasielewe nog nie behoorlik posgevat het nie.

Vandeesweek se bekendstelling van die Solidariteit Beweging, wat uit 18 filiale bestaan, is dus uit ‘n grondwetlike oogpunt belangrik. Die aandeel in grondwetlikheid word deeglik besef, soos blyk uit ‘n aanhaling van mnr. Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit: “Die burgerlike samelewing speel ’n kritieke rol om die demokrasie in Suid-Afrika te laat werk. Gemeenskappe in ’n demokrasie werk deur hulle instellings en dit is deur instellings wat regte opgeneem en gerealiseer word. Sonder burgerlike instellings sal die regte in die Grondwet net ‘papierregte’ bly. Ons glo dat die ontstaan van die Solidariteit Beweging ’n stimulus sal wees wat tot ’n beter georganiseerde burgerlike samelewing in Suid-Afrika sal lei.”

Gister het die “Open Society Foundation” aangekondig dat Suid-Afrika nou minder vry is as twee jaar gelede. Dr. Mamphela Ramphele het by dieselfde geleentheid gesê te veel politieke partye is tevrede met die blanko tjek wat hulle elke vyf jaar kry. “Hoe kan mense (kiesers) wat met so veel disrespek behandel word keer op keer dieselfde openbare amptenare in magsposisies plaas? Is dit demokrasie?” Hoewel baie akademici meen dis foutief, het Suid-Afrika die afgelope aantal jare op Verslaggewers Sonder Grense se indeks van die 21ste mees persvrye land ter wêreld na die 43ste terugggesak.

Die burgerlike samelewing wat in opstand is oor die voorgestelde snoerwet, speel ‘n beduidende rol om Suid-Afrika só op die indeks die kreeftegang te laat gaan. In enige normale demokrasie sou die regering ernstige kommer hieroor hê, want dit raak onder meer die land se posisie op die korrupsiepersepsie-indeks – waar die land ook die kreeftegang gaan, en so ook die beleggingsvertroue-indeks. En omdat ‘n regering in algemene belang behoort te regeer, is dit genoeg rede om ‘n verantwoordelike regering te laat besin, want dit raak ‘n land se vermoë om werksgeleenthede te skep. En dis nie asof die land ‘n ooraanbod van werksgeleenthede het nie.

Dat die burgerlike organisasies duidelik nog nie ‘n groot genoeg impak op regeringsdenke het nie, blyk uit die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, se reaksie op kritiek – dit skep die indruk dat die land deur narre regeer word en skrik beleggers af. Bloot kerm en kla is nie veel werd nie. Die kuns is om die hande uit die moue te steek en die regte ding te doen. Die Solidariteit Beweging bestaan uit verantwoordelike instansies, waarvan sommiges ook heelwat spierkrag het. Die insluiting van die FAK is insiggewend, aangesien dit ‘n sambreelliggaam is wat op sy beurt verskeie instansies met beduidende invloed insluit. Nou word koppe en hande bymekaar gesit, en dit sal baie interessant wees om insae te kry in die driejaar-bouplan wat tydens die bekendstelling aangekondig is.

Die tienpuntplan wat Solidariteit onlangs reeds aangekondig het en van die instellings inbind wat ook nou weer genoem is, werp dalk reeds heelwat lig op wat verwag kan word. Hierin het die NP van Wyk Louwsentrum, wat onder die vaandel van die FAK funksioneer, sentraal gestaan. Dit fokus, aldus ‘n artikel van prof. Koos Malan, sterk op die ontwikkeling van kultuurregte.

Prof Danie Goosen van die FAK aksentueer spesifieke aspekte in sy artikel, “Die verskil tussen ware en valse vryheid” en sluit af: “Kortom, die vryheid van die individu staan volgens die tradisionele opvatting nie in spanning met die bowe-individuele instellings van kulture nie. Inteendeel, laasgenoemde is juis die voorwaarde vir vryheid.” Dié artikels het almal op die webwerf van Maroela Media verskyn, wat self een van die deelnemende instansies is.

Dat die nuwe beweging spierkrag soos min gaan hê blyk uit die begroting van R1 miljard, en dat die instansies nie net ‘n sterk vakbond insluit nie, maar ook ‘n uitgewer en akademiese instellings. Dit beskik oor ‘n indrukwekkende navorsingskapasiteit wat dit op die voorpunt van getoetste operasionele inligting plaas. Dit het via hofsake deur onder meer Solidariteit en AfriForum gewys dat dit nie net skroom om die onreg in die howe te takel nie, maar as oorwinnaars teen selfs die staat uit die stryd te tree.

Kritiek wat al op die kuberruim deurgesyfer het, dui op ‘n onvergenoegdheid met die fokus op kultuurregte, eerder as minderheidsregte anders as net kultuurregte. Dié kritici het duidelik nog nie van AfriForum se uitgebreide aksies, ook oorsee, kennis geneem nie. Buitendien, kritiek voor die driejaar-bouplan nog bekend gemaak is, is voortydig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae