Nuuskommentaar: Sonskynjoernalistiek of silwer randjie se donker wolk?

koerantIn die aanloop tot aanstaande jaar se algemene verkiesing het dit kwalik as verassing gekom dat die waarnemende baas van die SAUK laat blyk het hy wil hê die openbare uitsaaier se nuusbulletins moet uit 70% goeie nuus, en net 30% ander nuus bestaan.

Dit is ook nie verrassend nie dat dié plan byval by die regerende party sou kry.

Die gewone mens raak kopsku vir die nuus as dit net uit moord en verkragting bestaan. As baie mense nie graag goeie nuus wou hoor nie, sou swendelaars lankal van die honger dood wees, maar daagliks word mense wat eintlik van beter behoort te geweet het deur swendelaars uit hul aftreegeld en ander swaarverdiende geldjies gekierang. Maak nie saak hoeveel keer is al in die media teen juis daardie slenters gewaarsku nie.

Maar net goeie nuus is nie ‘n weerspieëling van die werklikheid nie. Soos die grootbaas van Solidariteit in sy gereelde rubriek in Rapport skryf, die goue rand het ‘n donker wolk. Buys het dit in hierdie geval spesifiek oor tekens dat daar ‘n versplintering in die ANC kan wees, maar dat dit wat op die oog af goeie nuus moet wees, ook sekere gevare inhou, soos dat die ANC hom dalk nog verder aan staatsgesag gaan vergryp.

In die breë is daar nog ‘n element van politieke korrektheid aanwesig wat plek-plek ‘n eufemistiese kleed oor die werklikheid strek. Trouens, dit kan opnuut help om Suid-Afrika se posisie op die persvryheidsindeks verder te rysmier – Verslaggewers Sonder Grense se vraelyste is juis pas weer aan mense reg oor die wêreld versend om lande se posisie volgende jaar op die indeks te bepaal.

Twee kerke, die Gereformeerde Kerke (GKSA) en die Hervormde Kerk, het beide ‘n beroep gedoen dat die komende Sondag ‘n dag van verootmoediging moet wees. Veral die wyse waarop die Hervormde Kerk die redes verskaf waarom so ‘n dag nodig is, is besonder reguit, en sal kwalik die toets van politieke korrektheid weerstaan, en waarskynlik ook nie maklik in ‘n groot deel van die hoofstroommedia aangehaal word nie: “Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (AKV = sinode) skryf in die jongste e-Hervormer dat die kerk die afgelope drie jaar deur ernstige verdeeldheid en partyvorming gekenmerk is, wat in enkele gemeentes tot kerklike afskeiding gelei het. Vyandskap en onchristelike optredes het die lewe van die kerk en baie van haar lidmate ontsier… Die meeste van ons Kerk se gemeentes is vasgevang in ’n worstelstryd om finansiële oorlewing. In sommige gedeeltes van ons land is daar knellende droogte. Ons gemeenskappe word wreed geteister deur misdaad, moord en verkragting. Veral ons boerderygemeenskap is voortdurend die slagoffers van afgryslike plaasmoorde. Ons word toenemend vreemdelinge in ons eie land waar ons verarm en waar korrupsie, wanbestuur en nepotisme hoogty vier. Dit is ook gepas as ons as Kerk op dié spesifieke Sondag voorbidding doen vir die AKV, ons kerk, gemeentes, lidmate, boere en owerhede. Mag die Heer van die kerk ons hoor wanneer ons ons in verootmoediging voor Hom neerbuig, en mag Hy ons gebede verhoor.”

Die GKSA roep gemeentes op om dié dag in gebed en ootmoed voorbidding te doen vir die morele verval in die land, soos dit na vore kom in dade van opstand, moord, aanranding, korrupsie, diefstal en arbeidsonrus. “Die oproep gaan ook uit na elke lidmaat om deur voorbeeld, woord en daad volgens die Woord van God te lewe.”

Is dit alles onnodig swartgallig, of bloot ‘n realistiese weergawe van wat werklik gebeur, en waaroor die kerk maar handegevou moet sit?

Jan Taljaard, in sy rubriek, Lunsriem skryf onder die titel: “Mag die son gou ondergaan oor sonskynjoernalistiek.” Hy skryf: “Suid-Afrika se media, hetsy openbare uitsaaier, onafhanklik, of ’n uitgewer wat in die teken van lojale verset staan, is almal straks ook ’n derde soort joernalistiek aan die mense van die land verskuldig: Om die kompleksiteit van gebeure te probeer verstaan en te verduidelik op ’n manier wat tot beter kennis en insigte kan lei.”

Elke liewe berig leen hom nie tot hierdie ideaal nie. Sommige berigte is eenvoudig goeie nuus, soos ‘n omie wat 100 geword het en goeie gesondheid geniet, en sommige is plein slegte nuus soos die oumatjie van 103 wat verkrag is.

Die sleutel lê oor hoe die geheelbeeld opgeneem, vertolk en in hoofartikels, nuuskommentare, rubrieke en selfs satiriese mededelings en spotprente weergegee word – om die kompleksiteit van gebeure te probeer verstaan en verduidelik op ‘n manier wat tot beter kennis en insigte kan lei.

Dit is immers ook die doel van hierdie rubriek.

En natuurlik, ten spyte van die grootste wilskrag in die wêreld, is elkeen subjektief – elkeen het ‘n unieke stel feite tot sy beskikking ongeag die omvang van ook dit wat kommentators in kennis deel, en dit lei onderling tot ‘n toutrekkery om die balans tussen die talle kommentare tot ‘n “objektiewe” prentjie te beïnvloed.

Ideologie en ervaring skep dikwels teenoorgestelde perspektiewe. As ‘n rektor verduidelik keuring vir medies is makliker vir swart studente omdat wit studente nie bereid is om hul gemeenskapsjaar in die landelike gebiede te verrig nie, strook dit immers nie met heelwat berigte tot die teendeel nie – ook op SABC-TV-nuus. As ‘n wit student van die rektor verskil, en die rektor sê vir die student sy is ‘n rassis en moet sit, mag dit sy persepsie wees dat daardie student ‘n rassis is. Vir die klas is die rektor egter die rassis.

Hierdie is maar een voorbeeld van die talle situasies waardeur ‘n rubriekskrywer daagliks sin moet maak om ‘n objektiewe en leersame beeld aan die lesers weer te gee. Het hierdie rubriekskrywer die geheelbeeld van die gesprek in die klas gekry? Gaan hy tot ‘n gevolgtrekking kan kom, selfs al word hy erg gebombardeer deur ander “stawende” brokkies?

Of los hy dit weens te min behoorlike inligting en laat dit aan die sosiale media en riemtelegramme oor om die verwoestingswerk verder te voer?

Daar buite is nie net silwer randjies nie. Daar is hongersnood in plakkerskampe, daar is kinders wat in Mitchellsplein en elders wegraak, daar is ernstige siek en sterwende mense in hospitale … om maar ‘n paar te noem.

En iemand wat met die inhoud van die kerke se verklarings wil fout vind, is beslis nie objektief nie.

En nee, die gemiddelde rubriekskrywer wil nie net oor slegte nuus skryf nie. Ook hy of sy soek die silwer randjies, maar in die groter konteks, waar prioriteite bepaal moet word, is slegte nuus in Suid-Afrika dikwels oorheersend.

Ja, die Springbokke en die Bafana Bafana hét Saterdag gewen, en dis reg dat daardie sonskynjoernalistiek prominensie verkry. Maar net een plaasmoord se rimpeleffek is groter en blywender. Net een kind wat verdwyn, kan nie deur die euforie ongedaan gemaak word nie. Boonop het die land na die wêreldbeker-sokkertoernooi hier ervaar hoe demoraliserend post-euforiese trauma kan wees – daardie trauma wat intree wanneer die euforie verby is, en dis maar weer (of steeds) moorde, verkragting, werkloosheid, rassediskriminasie, korrupsie, padongelukke, politieke bontpratery, leë kerke …

Dan lê daar ‘n groot verantwoordelikheid op rubriekskrywers “om die kompleksiteit van gebeure te probeer verstaan en te verduidelik op ’n manier wat tot beter kennis en insigte kan lei.” Anders help bou die rubriekskrywers aan ‘n gekkeparadys en skiet kiesers hulself uit onkunde by die stembus in die voet.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Somerset Morkel ·

Soos bv: “Prez Zuma slaan nie 70% van sy 5 vroue nie”. Is dit goeie nuus? Of is dit slegte nuus?
Voorbeeld: Nuusaankondiging vd SAUK: “We have reached our 70% quota of good news … Here follows the bad news…: The DA has increased its presence in parliament substantially after Julius Malema drew most of the votes of the youth.. “

Nico Kruger ·

Ek stem saam dat mens die waarheid moet praat en ongelukkig moet joernaliste vertel as daar slegte dinge gebeur in die wêreld. En ek haat dit ook as blankes vir mekaar jok en vertel hoe goed gaan dit eintlik met ons in die nuwe SA. Maar om net oor negatiewe goed te skryf en praat het geen doel nie. As ek en my vriend by die werk heeldag kla oor hoe sleg ons werk is (ons werk in die staatsdiens en glo my ons werksomstandighede is sleg) gaan dit nie ons werk verbeter nie. Dieselfde met al die negatiewe kommentaar in Maroela media oor nuusgebeure. Die regering lees dit nie en gaan niks daaraan doen nie. Die blanke word net meer en meer negatief dit het geen doel nie. Ek het in die onlangse tyd baie voorbeelde uit die Anglo-Boere oorlog teegekom waar humor gebruik is. Ons omstandighede is nog nie so sleg as wat hulle sin was nie, maar hulle het aanhou lag. Ons moet dus ter wille van onsself meer konsentreer op die goeie anders gaan ons almal in depresie verval.

Herman ·

Dankie vir die reaksie Nico. Ons sit met die objektiewe feite dat dinge nie te waffers is nie – bv as ‘n mens vandag se nuuskommentaar neem dat ‘n internasionale studie Suid-Afrikaners op objektiewe grond soos werkloosheid en korrupsie onder die minder gelukkige mense ter wêreld plaas.
Maar jy is reg – daar moet in die objektiwiteit ook na die silwer randjie gesoek word, en glo my, dit word gedoen en is harde werk. Daar is een nuuskommentaar per dag en die eerste fokus is om die belangrikste onderwerp aan te spreek wat hom tot nuuskommentaar leen. Gegewe die objektiewe omstandighede wat van buite bepaal word, is dit gewoonlik die goed wat soos ‘n klip in die maag lê.
Ek self moet hard werk daaraan om nie deur die slegte nuus in ‘n vaste depro te verval nie. Juis hierom is dit vir my verskriklik belangrik om weekliks my rubriek, Oom Herrie se kerrie (wat elders verskyn maar ook op die Maroelablog http://oomherriesekerrie.maroelamedia.co.za/ by te hou waar humoristies na die ligter kant van die lewe gekyk word. En ek dink dit sê baie vir die Afrikaner se humorsin dat die soekterm “Herrie se kerrie” meer Google-trefslae as my eie naam oplewer.
Glo my, die ligte kant en humor is my persoonlike eerste keuse, soos ook die inhoud van my e-boek, Die reine waarheid en ander liegstories, van getuig. Maar soos die boek se titel aandui, dit waarmee mens humor bou is ongelukkig nie altyd sekuur omgaan met die waarheid nie.
Nogmaals dankie vir hierdie wakkeklapper. Herman Toerien

Nico Kruger ·

Ek aanvaar joernaliste moet die slegte nuus gee, maar ai, dis nie lekker om te lees nie. Ek het eendag ‘n onderhoud met ‘n joernalis gelees waarin hy vertel het hoe hard hy geword het. Met sy werk het hy met al die moord en doodslag en verkragtings te doen gekry het. Dit is seker ‘n joernalis se lot. Ek het darem nog die keuse om te besluit watter berigte ek maar liewer gaan los.
Ns. Ek het ‘n vraag vir jou gevra op jou nuuskommentaar “Bom in ‘n box smarties”. Sal jy vir my daarna kyk asb.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.